August Wilhelm Schlegel
August Wilhelm Schlegel | |
---|---|
August Wilhelm Schlegel Schlegel omstreeks 1800 | |
Gebore | 8 September 1767 |
Sterf | 12 Mei 1845 (op 77) |
Beroep | literatuurhistorikus, vertaler, skrywer, indoloog en filosoof |
Ouer(s) | Johann Adolf Schlegel |
August Wilhelm Schlegel, vanaf 1812 von Schlegel, (* 8 September 1767 in Hannover; † 12 Mei 1845 in Bonn) was 'n Duitse literatuurhistorikus, vertaler, skrywer, indoloog en filosoof. Saam met sy broer Friedrich Schlegel word hy as die grondlegger van die Duitse Romantiek en as grondlegger van die Romanistiek en Indologie in Duitsland beskou.
Lewe
[wysig | wysig bron]Vroeë lewe en opleiding
[wysig | wysig bron]August Wilhelm Schlegel is as die vierde seun van die Lutherse pastoor Johann Adolf Schlegel in Hannover gebore en het by die plaaslike gimnasium skoolgegaan. Aan die universiteit van Göttingen het hy in teologie en filologie gestudeer. Gottfried August Bürger, wat as sy mentor gedien het, het eerste praktiese opleiding in die vertaling van klassieke en moderne tale aan hom verskaf. Tussen 1791 en 1795 was hy as huisleraar vir 'n Nederlandse bankiersgesin in een van Amsterdam se welvarendste buurte, die Gouden Bocht, werksaam en het daarnaas ook al begin om kritieke en resensies te skryf.
Jena
[wysig | wysig bron]Sy werksaamheid as literatuurkritikus het vervolgens sentraal gestaan gedurende sy verblyf in Jena vanaf 1795. Tussen 1798 en 1801 was hy as professor aan die universiteit van Jena aangestel. Saam met sy vrou Caroline Schlegel, sy broer Friedrich Schlegel en sy skoonsuster Dorothea Schlegel, Johann Gottlieb Fichte en later ook Ludwig Tieck en Novalis was hy lid van 'n literêre kring wat beslissende invloed op die nuwe "Romantiese skool" in die literatuur sou uitoefen en van Jena een van die sentrums van die vroeg-Romantiese beweging in Duitsland gemaak het.
Die tydskrif Athenaeum, wat hy saam met sy broer Friedrich tussen 1798 en 1800 in Jena uitgegee het, het uitdrukking aan die gedagtes van die nuwe krities-poëtologiese stroming gegee. Reeds in 1796 het Schlegel, onder meer in artikels wat in Friedrich Schiller se literêre tydskrif Die Horen gepubliseer is, Duitse vertalings van William Shakespeare se dramatiese werke aangekondig. Tussen 1797 en 1810 het hy veertien toneelstukke vertaal. Sy vertalings, wat later deur Dorothea Tieck en Wolf Heinrich Graf von Baudissin bygewerk is, is ook meer as twee eeue ná hul publikasie die Duitse standaardversies.
Berlyn
[wysig | wysig bron]Nadat sommige van sy werke min byval by gehore gevind het (laat in 1801 het sy klassisistiese toneelstuk Ion in Weimar negatiewe kritiek uitgelok) en polemieke in Weimar en Jena uitgebreek het, het Schlegel in 1801 na Berlyn verhuis. Hier het hy tussen 1801 en 1804 sy lesings Über schöne Literatur und Kunst ("Oor skone lettere en kuns") gehou waarin hy die literature van die klassieke antieke tydperk, die Germaanse en Provensaalse middeleeue en die moderne Romaanse (veral Spaanse en Italiaanse) tydperk as gelykwaardig beskryf het. Hierdie lesings is tagtig jaar later, in 1884, gepubliseer.
Madame de Staël
[wysig | wysig bron]Nadat sy huwelik met Caroline Schlegel in 1803 ontbind is, was hy tot en met 1817 die huisvriend en manlike begeleier van Madame de Staël tydens haar verblyf in die kasteel Coppet langs die Meer van Genève en in Italië asook haar lang reise na Wene. Tegelykertyd was hy die opvoeder vir Madame de Staël se seun Albert. Die hoogtepunt van hierdie tydperk was die lesings oor dramatiese kuns en literatuur wat Schlegel in 1808 in Wene gehou het. Hierdie lesings, wat tussen 1809 en 1811 gepubliseer is, het uit sy vertalings van werke van Shakespeare en die Spaanse digter Pedro Calderón de la Barca voortgespruit wat tussen 1803 en 1809 ontstaan het. Schlegel het in dié lesings antieke en moderne dramatiese kuns volgens godsdienstige, geskiedkundige en kunsbeginsels ontleed. Ondanks sy opleiding in klassieke filologie en sy noue verhouding met Johann Wolfgang von Goethe en Wilhelm von Humboldt se Weimarer Klassik (Weimar-klassisisme) het Schlegel die werke van groot middeleeuse en vroeg-moderne digters soos Dante, Cervantes, Calderón en Shakespeare as rigtingwysend vir moderne poësie beskou.
Europa en Bonn
[wysig | wysig bron]Omstreeks 1810 het Schlegel in die Switserse hoofstad Bern gebly, maar was genoodsaak om die stad weer te verlaat. Hy het vervolgens 'n tyd lank in Rusland, Denemarke en Swede gebly waar hy as diplomaat in diens van Bernadotte, die latere Sweedse koning, getree het. In sy latere jare, veral ná sy aanstelling as professor in literatuur aan die universiteit van Bonn in 1818, waar hy in 1819 en 1820 die dosent van Heinrich Heine was, het Schlegel hom weer met Indiese filologie besig gehou. Tussen 1829 en 1846 het sy Duitse vertaling van die Ramayana, een van Indië se nasionale heldedigte. ontstaan.
Saam met Humboldt en Franz Bopp word Schlegel as die grondlegger van vergelykende taal- en letterkunde beskou. Sy belangstelling was nie beperk tot suiwer filologiese onderwerpe nie. In sy geskrifte het hy verduidelik hoe hy van voorneme was om met sy taalkundige navorsing ook by gevolgtrekkinge oor die "natuurgeskiedenis van die mens" uit te kom.
In sy latere lewe het Schlegel, wat vanweë sy beroemdheid soms ingenome van homself was, dikwels kritiek en spot uitgelok, onder meer van sy student Heinrich Heine. Die lesings oor die teorie en geskiedenis van beeldende kunste, wat hy in 1827 in Berlyn gehou het, het min byval gevind. Op 12 Mei 1845 is August Wilhelm Schlegel in Bonn oorlede en daar op die Ou Begraafplaas ter ruste gelê.