Braam le Roux (skrywer)
Braam le Roux (* 28 Augustus 1918, Middelburg – † 31 Desember 1956, De Deur[1]) was ’n Afrikaanse skrywer van spanningsverhale, wat veral bekendheid verwerf vir sy reekse boeke oor Die swart luiperd en Temmers van die woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die woeste Laeveld. Laasgenoemde skryf hy saam met die skrywer, Dewald Brink. Sy reeks boeke is so gewild dat al sy reekse na sy dood voortgesit word deur ander skrywers. Die skrywer F.A. Venter (onder die skuilnaam Meiring Fouché) publiseer nog 23 titels in Die Swart Luiperd-reeks, terwyl die skrywer R. Hendriks die Temmers van die woestyn-reeks voortsit. 'Die SA Polisie' en 'Die Swerwerspeurder' reekse word Gys van Graan, Gerrie Radlof en F.A. Venter (as Meiring Fouché) voortgesit. Deur die loop van le Roux se loopbaan publiseer hy meer as 'n honderd boeke.[2]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Abraham le Roux Botha is op 28 Augustus 1918 op Middelburg in die Transvaal gebore. Hy matrikuleer in Pretoria en is dan werksaam by die Spoorweë en die Staatsdiens terwyl hy deur private studie verder studeer. Daarna is hy as joernalis verbonde aan Die Transvaler en Die Ruiter, totdat hy besluit om hom voltyds aan sy skryfwerk te wy.
Weens ’n ongeluk te perd is sy linkerhand slap en onbruikbaar, wat meebring dat hy al sy verhale met net een hand moet tik.[3] Ten spyte van hierdie gebrek is hy die enigste Afrikaanse skrywer wat in die vyftigerjare uitsluitend van sy skryfwerk leef en daarmee ’n behoorlike inkomste verdien.
In die laaste jare van sy lewe het hy ’n vaste kontrak gehad om twee boeke per maand te lewer! Hy was getroud. Hy is op 31 Desember 1956 oorlede, kort nadat hy van vakansie in Houtbaai in Kaapstad terug gekeer het na sy woning De Deur naby Johannesburg. Op pad terug voel hy reeds nie lekker nie en tuis ontbied sy vrou die huisdokter, maar hy is kort daarna oorlede.
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Spanningsverhale
[wysig | wysig bron]Sy eerste boek verskyn in 1946 en by sy sterwe het hy meer as honderd boeke geskryf, waarvan bykans ’n driekwartmiljoen eksemplare verkoop is. Aanvanklik skryf hy losstaande spanningsverhale.
Fiskale van Zimbabwe vestig onmiddellik sy gewildheid en hierdie verhaal word verskeie kere herdruk. Hierdie riller speel af teen die spookagtige ruïnes van Zimbabwe, waar die bobbejaanmanne die septer swaai en nie indringing duld nie en die ek-verteller verskeie noue ontkomings beleef.
Die geheim van Njabela is gebaseer op die gebied en tradisies van die Amandebele stam in Mpumalanga, maar is andersins blote fiksie. Hulle reënfeeste word nog jaarliks op die kruine van die Bothasberge gehou en gedurende die feestye waag geen vreemde stam hulle in die nabyheid nie. Die sogenaamde stat van Njabela is op ’n koppie in die voue van die Bothasberge gebou.
Haat dan die mens speel af op een van die groot eilande êrens in een van die groot riviere van suidelike Afrika en is gebaseer op ’n verhaal wat die oom op die eiland aan die skrywer vertel het.
Reeks-boeke
[wysig | wysig bron]Hy verwerf egter veral bekendheid vir die reekse wat hy vir boekklubs skryf, naamlik Die swart luiperd, Temmers van die woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die woeste Laeveld. Hierdie reekse is vol spanning en opwinding en verskaf iets nuuts tydens die verskyning daarvan, aangesien dit eg Suid-Afrikaans is en nie op buitelandse modelle steun vir inspirasie nie.
Die swart luiperd-reeks
[wysig | wysig bron]Die swart luiperd is Leon Fouché, ’n jong Boerseun wie se ma reeds voor die Eerste Vryheidsoorlog deur die Basotho’s vermoor is. Sy pa trek dan die wildernis in en neem sy enigste seun saam. Na sy pa se dood vertoef Leon in die wildernis en klee hom in ’n swart luiperdmondering. Saam met sy mak luiperds, Simon en Spikkels, beleef hy verskeie avonture diep in die hartland van Afrika en kom vreemde wesens, diere en beskawings teen. So gewild is Die swart luiperd dat die uitgewers hierdie reeks na sy dood met ’n ander skrywer voortsit. F.A. Venter (onder die skuilnaam Meiring Fouché) dra nog 23 titels by tot Die swart luiperd.[4]
Die temmers vn die woestyn-reeks
[wysig | wysig bron]Die temmers van die woestyn is ’n reeks sonder ’n deurlopende hoofkarakter en beskryf avonture in die dae toe die land nog woes en ongetem was en mense nog ver uitmekaar gebly het. R. Hendriks skryf ook na sy dood ’n groot aantal boeke in die Temmers van die woestyn-reeks.[5]
Die S.A. Polisie en Swerwerspeurder-reekse
[wysig | wysig bron]Die S.A. Polisie en Swerwerspeurder-reeks bestaan eintlik uit twee reekse, naamlik die S.A. Polisie-reeks (met die speurkonstabel Kobus Roode as held) en Die Swerwerspeurder-reeks (met die privaat speurder Obed de Swardt as held). Braam le Roux is oorlede voordat hy hierdie reekse kon voltooi en die uitgewer kombineer daarna die boeke in een reeks, sodat die hoofkarakters mekaar afwissel. Die gewildheid van die boeke noop hulle ook om vir Gys van Graan, Gerrie Radlof en Meiring Fouché te nader om ekstra boeke in die reeks te skryf.[6][7]
Die Woeste Laeveld-reeks
[wysig | wysig bron]Saam met Dewald Brink skryf hy ook Die Woeste Laeveld-reeks. Dit is geskoei op die voorbeeld van die Wilde Weste-verhale uit Amerika en speel af in die tydperk 1885–1887, toe die ontdekking van goud honderde mense na die gebiede om Barberton laat stroom het. ’n Kosmopolitiese bevolking is in Barberton saamgehok en wetteloosheid het onrusbarend toegeneem. Die Republikeinse Polisie is nie in staat om hierdie wetteloosheid die hoof te bied nie.
Publikasies
[wysig | wysig bron]Jaar | Publikasies[8] |
---|---|
1946 | Fiskale van Zimbabwe |
1948 | Die geheim van Njabela |
1950 | Honger wolwe |
1951 | Haat dan die mens |
Oë in die muur | |
Bloed aan jou hande | |
1952 | Hoonlag van die duiwel |
1957 | Die een wat laaste lag |
Swart Luiperd-reeks:[4] | |
1954 | Rooi Maskers |
Kloue van die valk | |
Skedels in die sand | |
Gemaskerde moordenaars | |
Die mensvreters van Tsawo | |
Die bloedboodskap | |
Kamerade van die draak | |
Die kruipende dood | |
Die galg in die oerwoud | |
Die eiland van die blou duiwels | |
Pyle van vuur | |
Die mense van die meer | |
Die dood kom stil | |
Man sonder kop | |
Die songod praat | |
Pad van die arend | |
Die duiwel is ’n vrou | |
Geheim van die wit heks | |
Gees uit die vuur | |
Waar die dooies leef | |
Dans van die dood | |
1955 | Bloedfees van die ape |
Wraak van die gorillas | |
Vallei van gedrogte | |
Rooi is die waters | |
Fees van die kopbeen | |
Die watermonster brul | |
1956 | Geheim van die berge |
Newels van verraad | |
Bloed op die maan | |
Die laaste kreet | |
Die groot voël sterf | |
Die geheim van die groen hel | |
1957 | Spoor na die onbekende |
Manne van die maan | |
Draer van die bloedstene | |
Die gorillas kom! | |
Tiere van die heilige woud | |
Vegters van die slanggod | |
Goud en assegaaie | |
1958 | Die jagters van Bloedeiland |
Kettings in die oerwoud | |
Oog van die Songod | |
Wraak van die woud | |
Bloed van die maagd | |
Temmers van die woestyn-reeks:[5] | |
1953 | Die bekende vreemdeling |
Die wind beveel | |
Ek kom vannag | |
1954 | Wyn met bloed |
Gif vir die hart | |
Vlamme teen die horison | |
Moordenaar in wit | |
Wind oor haar graf | |
Gestaltes in die skemer | |
Lantern in die nag | |
Nag van wraak | |
Geraamtes op die duine | |
Skaduwees op die krans | |
1955 | Sluipers in die nag |
Die dal van vrees | |
Lied van die klowe | |
Berg van verraad | |
Vlam van hartstog | |
Die nagwind ween | |
1956 | Wees sterk my hart |
Die nag het oë | |
Wolke voor die maan | |
Swerwer uit die weste | |
Vrees is my erfenis | |
Vreemde maskers | |
Ver lê die môre | |
Duiwels van die duine | |
Ridders uit die bose | |
Kring van die aasvoël | |
Swart wolk oor die Kalahari | |
1957 | Wag tot dagbreek |
Wolwe van die wildernis | |
Moordenaars van die Kosiesberge | |
Skerpioen van die Richtersveld | |
1958 | Bloedspoor oor die kranse |
Nag van verskrikking | |
Die wurgbende | |
Kraaie oor die wapad | |
Die rooi duiwel | |
S.A. Polisie-reeks[6] | |
1954 | Monster uit die mis |
My metgesel die dood | |
1955 | Vallei van wit beendere |
Rivier van onheil | |
Terwyl die nagwolf huil | |
Vrou van skarlaken | |
Een uur vir Satan | |
Geen galg vir jou | |
Glimmende skedels | |
Vrou in die skaduwees | |
Reën oor die berge | |
Die band van bloed | |
Swerwerspeurder-reeks[7] | |
1956 | Riete in die wind |
Wraak is myne | |
Met ’n druppel wyn | |
Sterf om twaalfuur | |
1957 | Kettings vir die siel |
Vrees vannag | |
Die Woeste Laeveld-reeks | |
1950 | Vlam van die Laeveld (met Dewald Brink) |
Die poort van trane (met Dewald Brink) | |
Vonnis van die berge (met Dewald Brink) | |
Spore in die dou (met Dewald Brink) | |
Beminde verraaier (met Dewald Brink) | |
Geen vergiffenis (met Dewald Brink) | |
1953 | Hoefslae teen middernag |
Ruiters van die dood |
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-no2013118037/
- ↑ Skatkis Boeke: http://www.softcoverbooks.co.za/braam%20le%20roux.html
- ↑ Kannemeyer, J.C. Meer as 100 boeke uit sy pen. Insig, Mei 1998
- ↑ 4,0 4,1 Skatkis Boeke: http://www.softcoverbooks.co.za/swart%20luiperd%20reeks%20pronk.html
- ↑ 5,0 5,1 Skatkis Boeke: http://www.softcoverbooks.co.za/temmers%20van%20die%20woestyn%20reeks%20pronk.html
- ↑ 6,0 6,1 Skatkis Boeke: http://www.softcoverbooks.co.za/sa%20polisie%20reeks%20pronk.html
- ↑ 7,0 7,1 Skatkis Boeke: http://www.softcoverbooks.co.za/swerwer%20speurder%20reeks%20pronk.html
- ↑ Springbokboeke: http://www.springbokboeke.co.za/html/braam_le_roux_boeke.html