Gaan na inhoud

Greenwich-tydsein

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Voorstelling van die ses pieptone.
Die masjien wat in 1970 gebruik is om die pieptone te genereer.

Die Greenwich-tydsein (Engels: Greenwich Time Signal) is 'n reeks van ses kort pieptone (blieps) wat op die radio-senders van die BBC uitgesaai word om die begin van 'n nuwe uur aan te dui. Dit is vir die eerste keer op 5 Februarie 1924 gebruik.[1] Hierdie piepgeluide word vanaf die 55ste tot en met die sestigste sekonde van die 59ste minuut van elke uur uitgesaai. Elke piep duur 0,1 sekonde, terwyl die laaste een 'n halwe sekonde duur. Die tydsein word meestal deur mense gebruik om hul horlosies in te stel.

As daar 'n skrikkelsekonde is, word sewe pieptone gespeel (of, teoreties, vyf om 'n negatiewe skrikkelsekonde aan te dui). Vóór die invoering van skrikkelsekondes was die laatste piep net so lank as die voriges.

Soortgelyke tone word oor die wêreld gebruik om 'n nuwe uur aan te dui, meesal oor die radio, en net voor die nuus gelees word. Die tyd word deesdae in sommige lande digitaal uitgesaai, met horlosies wat hulself daarvolgens instel. Elektroniese toestelle (soos selfone) wat aan die Internet gekoppel is kan hul tyd outomaties vanaf NTP-bedieners instel.

Die SAUK het ook uurlikse pieptone uitgesaai. Kort na die Tweede Wêreldoorlog het hulle blykbaar hul kantoor se venster oopgemaak om na die klokkespel van die Poskantoor se horlosie te luister, en hulle horlosie daarvolgens ingestel. Dit het later aan die lig gekom dat die Poskantoor op sy beurt weer hul horlosie volgens die blieps oor die radio ingestel het. Die Sterrewag het later die verantwoordelikheid by die Poskantoor oorgeneem, wat die blieps meer betroubaar gemaak het.[2]

Die Nederlandse Publieke Omroep (NPO) gebruik oorspronklik ses pieptone, almal ewe lank, maar sedert 1991 word net drie tone gespeel, met die derde een langer as die res.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Sci/Tech – Six pip salute, BBC News, 5 February 1999, http://news.bbc.co.uk/1/hi/sci/tech/271319.stm, besoek op 2009-04-23 
  2. Tyd (Deel I), LitNet, 12 April 2012