Gaan na inhoud

Groot Donker Vlek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Groot Donker Vlek, soos deur Voyager 2 gesien.

Die Groot Donker Vlek (ook bekend as GDS-89, vir Great Dark Spot, 1989)[1] was een van ’n reeks donker vlekke op Neptunus, met ’n voorkoms soortgelyk aan dié van Jupiter se Groot Rooi Vlek. GDS-89 was die eerste Groot Donker Vlek wat op die planeet waargeneem is, in 1989 deur Nasa se ruimtetuig Voyager 2. Nes Jupiter se vlek is die Groot Donker Vlekke antisikloniese storms. Hulle binnekant is egter redelik wolkloos en dit lyk of hulle korter duur as Jupiter se Groot Rooi Vlek, wat al honderde jare bestaan. Volgens waarnemings deur Voyager 2 en sedertdien deur die Hubble-ruimteteleskoop lyk dit of Neptunus sowat die helfte van die tyd ’n Groot Donker Vlek het.

Eienskappe

[wysig | wysig bron]

Die donker, ovaalvormige vlek (met aanvanklike afmetings van 13 000 × 6 600 km) van GDS-89 was omtrent dieselfde grootte as die Aarde en het nes Jupiter se Groot Rooi Vlek gelyk. Winde van tot 2 100 km/h is aan die rand van die vlek gemeet, wat die vinnigste winde is wat nog in die Sonnestelsel aangeteken is.[2][3] Die Groot Donker Vlek is vermoedelik ’n gat in die metaanwolkkombers van Neptunus. Die vlek is op verskillende tye met verskillende vorms en groottes waargeneem.

Die Groot Donker Vlek het groot wit wolke geskep in of net onder die tropopouse,[4] soortgelyk aan hoë cirruswolke op Aarde. Anders as die Aarde se wolke, wat uit yskristalle bestaan, bestaan Neptunus se cirruswolke uit kristalle van bevrore metaan. En terwyl cirruswolke gewoonlik binne ’n paar uur vorm en verdwyn, was die wolke in die Groot Donker Vlek nog sigbaar ná 36 uur, of twee rotasies van die planeet.

Neptunus se donker vlekke kom vermoedelik voor in die troposfeer by laer hoogtes as die ligter, boonste wolkkombers.[5] Omdat hulle stabiele verskynsels is wat maande lank bestaan, is hulle vermoedelik werwelstorms.[6]

Verdwyning

[wysig | wysig bron]
’n Donker vlek op Neptunus in volkleur (links) en blou lig (regs).[7]

Toe Hubble die vlek in November 1994 moes afneem, het dit heeltemal verdwyn. Wetenskaplikes het gedink dit het óf verdwyn óf is bedek. Die meegaande wolke wat steeds voorgekom het, het gewys sommige vorige donker vlekke kan steeds as siklone bestaan, al is hulle nie meer as donker vlekke sigbaar nie. Donker vlekke kan verdwyn as hulle te na aan die ewenaar kom, of andersins vanweë ’n ander, onbekende meganisme.[8]

In 2016 het ’n feitlik soortgelyke vlek in Neptunus se noordelike halfrond ontstaan. Dié vlek, wat die Noordelike Groot Donker Vlek (NGDS) genoem word, was ’n paar jaar lank sigbaar.[9][10] Dit is onbekend of die vlek steeds teenwoordig is, want waarnemings met Hubble is beperk.[11]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Hammel, H. B.; Lockwood, G. W.; Mills, J. R.; Barnet, C. D. (1995). "Hubble Space Telescope Imaging of Neptune's Cloud Structure in 1994". Science. 268 (5218): 1740–1742. Bibcode:1995Sci...268.1740H. doi:10.1126/science.268.5218.1740. PMID 17834994.
  2. "What is the Great Dark Spot?". Cool Cosmos. CalTech. Besoek op 20 Mei 2019.
  3. Suomi, V.E.; Limaye, S.S.; Johnson, D.R. (1991). "High Winds of Neptune: A possible mechanism". Science. 251 (4996): 929–32. Bibcode:1991Sci...251..929S. doi:10.1126/science.251.4996.929. PMID 17847386.
  4. Stratman, P. W.; Showman, A. P.; Dowling, T. E.; Sromovsky, L. A. (2001). "EPIC Simulations of Bright Companions to Neptune's Great Dark Spots" (PDF). Icarus. 151 (2): 275–285. Bibcode:1998Icar..132..239L. doi:10.1006/icar.1998.5918. Besoek op 26 Februarie 2008.
  5. Gibbard, S.G.; de Pater, I.; Roe, H.G.; Martin, S.; Macintosh, B.A.; Max, C.E. (2003). "The altitude of Neptune cloud features from high-spatial-resolution near-infrared spectra" (PDF). Icarus. 166 (2): 359–374. Bibcode:2003Icar..166..359G. doi:10.1016/j.icarus.2003.07.006. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 20 Februarie 2012. Besoek op 26 Februarie 2008.
  6. Max, C.E.; Macintosh, B.A.; Gibbard, S.G.; Gavel, D.T.; Roe, H.G.; de Pater, I.; Ghez, A.M.; Acton, D.S.; et al. (2003). "Cloud Structures on Neptune Observed with Keck Telescope Adaptive Optics". The Astronomical Journal. 125 (1): 364–375. Bibcode:2003AJ....125..364M. doi:10.1086/344943.
  7. "Dark spot on Neptune". Besoek op 28 Junie 2016.
  8. Sromovsky, L.A.; Fry, P.M.; Dowling, T.E.; Baines, K.H. (2000). "The unusual dynamics of new dark spots on Neptune". Bulletin of the American Astronomical Society. 32: 1005. Bibcode:2000DPS....32.0903S.
  9. "Neptune". SolarViews.com. Besoek op 28 September 2011.
  10. "Hubble Discovers New Dark Spot on Neptune". newscenter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 2016. Besoek op 4 Februarie 2016.
  11. "Dark Spots in Our Knowledge of Neptune". nytimes. Besoek op 4 Februarie 2016.

Skakels

[wysig | wysig bron]