Gaan na inhoud

Noord-Ierland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Noord Ierland)
Noord-Ierland
Northern Ireland (Engels)
Tuaisceart Éireann (Iers)
Norlin Airlanna (Ulster-Skots)
Vlag van Noord-Ierland Wapen van Noord-Ierland
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Dieu et mon droitb
(Frans vir: "God en my reg")
Volkslied: God Save the King (de jure)
(Engels vir: "God beskerm die koning")

Londonderry Air (de facto)
Ligging van Noord-Ierland
Hoofstad Belfast

54°36′N 5°55′W / 54.600°N 5.917°W / 54.600; -5.917

Grootste stad Belfast
Amptelike tale Engels; Iers en Ulster-Skots as streektale sonder amptelike status
Regering

Monarg
Eerste minister
• Adjunkpremier
Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Charles III
Michelle O’Neill
Emma Little-Pengelly
Onafhanklikheid
Vorming
• Regering van Ierland-wet
• Grondwet
• Noord-Ierland-wet
• Noord-Ierland-wet


3 Mei 1921
18 Julie 1973
17 Julie 1974
19 November 1998
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
13 793[1] km2  (4de (VK))
5 326 myl2
Bevolking
 - 2021-skatting
 - 2021-sensus
 - Digtheid
 
1 904 563[2] (4de (VK))
1 903 175[3]
141 / km2
365,2 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2021-skatting

£45,7 miljard[4] (4de (VK))
£24 007[4] (4de (VK))

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2018-skatting

£51,7 miljard[5] (4de (VK))
£27 154[5] (4de (VK))

MOI (2021) 0,896[6] ()  –  baie hoog
Gini (2019) 27[7] –  laag
Geldeenheid Pond sterlingc (£) (GBP)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
BST (UTC+1)
Internet-TLD .uk, .gbcd
Skakelkode +44 28ce
Beskermheilige: Sint Patrick (Naomh Pádraig)f
Nasionale blom: Shamrockf

a. Hierdie term is 'n neologisme, wat in die Skotse taal histories nooit gebruik is nie, maar in die ampstaal wél voorkom.
b. Soos Engeland en Wallis.
c. Soos die res van die Verenigde Koninkryk.
d. .co.ni, die Nicaraguaanse TLD, is ook gebruik.
e. +44 en 28 word by landlyne geskakel. Die skakelkode is 028 in die VK en 048 vanuit die Republiek Ierland.
f. Soos die res van Ierland.

Noord-Ierland (Engels: Northern Ireland, Iers-Gaelies: Tuaisceart Éireann, [ˈt̪ˠuəʃcəɾˠt̪ˠ ˈeːɾʲən̪ˠ], ; Ulster-Skots: Norlin Airlann) is een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Dit lê in die noordooste van die eiland van Ierland, in die provinsie van Ulster, en beslaan ses graafskappe van hierdie ou provinsie: Antrim, Londonderry, Tyrone, Fermanagh, Armagh en Down. Drie ander graafskappe van Ulster, Cavan, Donegal en Monaghan, maak deel uit van die Republiek Ierland. Nogtans word na Noord-Ierland soms as Ulster verwys.[8]

Die Unionistiese Ulster Banner op die voorgrond met 'n Republikeinse Ierse vlag op die agtergrond in Derry

Noord-Ierland is die enigste deelstaat van die Verenigde Koninkryk wat 'n gemeenskaplike landgrens met 'n ander nasie (die Republiek Ierland) het. Noord-Ierland is volgens die Wet op die Regering van Ierland in 1920 gestig en het, net soos Skotland en Wallis, oor sy eie regering beskik. Ná drie dekades van gewapende konflik tussen Protestantse en Rooms-Katolieke groeperings is in 1998 met die Goeie Vrydag-ooreenkoms die basis vir Noord-Ierse selfregering geskep. Kragtens hierdie ooreenkoms is daar op bepaalde gebiede samewerking met die Republiek Ierland, waarvan Noord-Ierland in 1921 geskei is, terwyl ander politieke aangeleenthede deur die regering van die Verenigde Koninkryk behartig word, hoewel die Ierse regering sy menings in hierdie verband mag inbring en voorstelle kan maak.

Noord-Ierland se oppervlak van 13 793 vierkante kilometer is sowat 'n sesde van Ierland se totale oppervlak, met 'n bevolking van 1 903 175 volgens die 2021-sensus. Die hoofstad en grootste nedersetting is Belfast.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Ligging

[wysig | wysig bron]

Noord-Ierland beslaan sowat 'n sesde van die eiland Ierland. Dit word in die ooste deur 'n nou seestraat, die Noordkanaal (wat by sy nouste punt slegs 21 km wyd is) van Skotland geskei, die mees nabygeleë ander deelstaat van die Verenigde Koninkryk. Die Ierse See skei dit in die ooste en suidooste van die Verenigde Koninkryk se twee ander landsdele, Engeland en Wallis, terwyl dit in die noorde deur die uitgestrekte waters van die Atlantiese Oseaan begrens word.

Sy enigste landgrens deel Noord-Ierland in die suide en weste met die Republiek Ierland.

Landskapsvorme

[wysig | wysig bron]
Giant's Causeway, 'n kenmerkende basaltrots-formasie en toeristetrekpleister aan die noordkus van Antrim, word deur Unesco as wêrelderfenis gelys. Die National Trust het 'n besoekersentrum naby die formasie opgerig
Kuslandskap naby Whitehead. Landskapsvorme soos dié is duisende jare gelede deur gletsers gevorm wat vanuit Skotland tot in die noorde van Ierland gestrek het

Noord-Ierland se landskapsvorme getuig van die dik yslae wat die land in die laaste koueperiodes bedek het. Kenmerkend is sogenaamde drumlins, lang gestrekte heuwels wat op omgedraaide lepels of half-begrawe eiers lyk en veral in die graafskappe Fermanagh, Armagh, Antrim en Down aangetref word.

Lough Neagh, 'n uitgestrekte meer met 'n oppervlak van 391 km², vorm die geografiese sentrum van Noord-Ierland. Dit is die grootste varswatermeer van die Britse Eilande. 'n Tweede uitgestrekte stelsel van mere word rondom die mere Lower en Upper Lough Erne in Fermanagh aangetref.

Die Sperrin Mountains is 'n uitloper van die geplooide Kaledoniese bergreeks in Skotland. Sy hoër geleë dele behels goudafsettings, die Mourne Mountains, wat hoofsaaklik uit granietgesteente gevorm is, die Antrim-basaltplato asook kleiner bergreekse in Suid-Armagh en langs die grens tussen Fermanagh en Tyrone. Cavehill is die hoogste piek in Belfast se stadsgebied.

Die vulkaniese aktiwiteit, waardeur die Antrim-plato gevorm is, het ook Noord-Ierland se bekende geometriese basaltpilare van Giant's Causeway aan die noordkus van Antrim geskep.

Noord-Ierland se riviere soos die Laer en Bo-Bann, Foyle en Blackwater het uitgestrekte en vrugbare riviervlaktes gevorm. Daarnaas word ook in Noord- en Oos-Down vrugbare landboustreke aangetref, terwyl die berggebiede van Noord-Ierland slegs as weiland dien.

Die Lagan-riviervallei word deur Belfast oorheers. In sy metropolitaanse gebied word meer as 'n derde van die totale bevolking van Noord-Ierland gehuisves. Die Lagan-vallei en die oewers van die meer Belfast Lough het die hoogste vlakke van verstedeliking en industrialisering op die eiland Ierland.

Waterliggame

[wysig | wysig bron]
Erne-riviermonding naby Kildoney ná 'n reënbui. Die ongewone steen met 'n mensgemaakte gat in die middel dateer uit die antieke tydperk
Mis daal oor die Bann-rivier naby Portadown

Die heersende westelike winde bepaal Noord-Ierland se klimaat met hoë reënval en min temperatuurskommelings. Die nat grond het dikwels swak dreinering, terwyl uitgestrekte waterliggame ontstaan het wat naas mensgemaakte kanale as belangrike waterweë dien. Noord-Ierland se natuurlike waterliggame sluit drie groot riviere in – Foyle, Upper Bann en Lower Bann.

Die Foyle, wat deur die graafskap Derry vloei en naby Derry in die Foyle-meer (Lough Foyle) uitmond, maak deel uit van die grenslyn tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland. Die Upper Bannrivier ontspring in die Mourne-berge in die suidweste en mond in die Lough Neagh uit, terwyl die Lower Bann sy oorsprong in dié meer het en naby Coleraine in die Noordkanaal (North Channel) uitmond.

Die belangrikste van die kleiner riviere is die Lagan, wat die grenslyn tussen die graafskappe Antrim en Down in die ooste vorm en in die Belfast Lough uitmond. Die Blackwaterrivier het sy oorsprong in Tyrone en vloei daarnaas ook deur die graafskap Armagh waar dit in die Lough Neagh uitmond. Fermanagh se twee groot varswatermere word eweneens deur riviere gevoed, waaronder die Erne-rivier (River Erne) wat uit die Lough Gowna in die Republiek Ierland ontspring en daarna deur Fermanagh vloei om uiteindelik naby Donegal in die Ierse Republiek in die Atlantiese Oseaan uit te mond.

Die enigste ander klein rivier van ekonomiese betekenis is die Bushrivier wat in die Glens of Antrim ontspring en in noordwestelike rigting deur die dorp Bushmills vloei wat danksy sy whiskey-distilleerdery internasionale bekendheid verwerf het. Net noord daarvan mond die rivier naby Portballintrae in die see uit.[9]

Lough Neagh is die grootste meer op die eiland Ierland. Sy vlak water – die meer is op sy diepste punt net nege meter diep – en oewers is die habitat vir die grootste watervoëlkolonie op die Britse eilande. Die meer se uiteenlopende biotope word in twee natuurbewaringsgebiede beskerm. Nog in die 19de eeu, kort voor die begin van die spoorwegtydperk, was Lough Neagh, wat deur die Bann-rivier met die Atlantiese Oseaan verbind word, danksy kanale, wat na Belfast en Newry geloop het, die besigste waterweg in Noord-Ierland.[10]

Graafskappe (counties)

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van Noord-Ierland se ses counties

Vyf van Noord-Ierland se ses historiese graafskappe of counties – Armagh, Down, Antrim, Londonderry en Tyrone – is rondom Lough Neagh geleë, en slegs Fermanagh in die weste het nie regstreekse toegang tot die meer nie.

  • Die graafskap Antrim in die noordooste staan bekend vir sy ongerepte kuslandskap noord van Belfast met kalk- en sandsteen- asook basaltrotse. Die ravyne of glens, wat in die rotsige kuslyn ingesny is, loop in oostelike rigting. Die bekendste besienswaardigheid in Antrim is Giant's Causeway, 'n basaltformasie wat uit sowat 40 000 simmetriese rotssuile van vulkaniese oorsprong bestaan. Hulle is sowat sestig miljoen jaar gelede tydens 'n vulkaanuitbarsting deur lawastrome gevorm.
  • Londonderry grens in die weste aan Antrim en is na die tweede grootste stad in Noord-Ierland, Londonderry (ook bekend as Derry), genoem – die enigste stad in Ierland en die hele Britse eilande waarvan die stadskern binne 'n goed bewaarde stadsmuur geleë is. 'n Ander besienswaardigheid is die 18de eeuse herehuis van die biskop van Derry wat aan die rotsige Derrykus opgerig is.
  • In Tyrone is die grootste deel van die Sperrins geleë, 'n heuwellandskap met moerasgebiede en talle argeologiese vindplekke.
  • Die graafskap Fermanagh in die weste is rondom die tweelingmeer Upper en Lower Erne met 'n lengte van 80 km geleë. Die kalkplato in die weste van Fermanagh het 'n maksimale hoogte van 400 m bo seevlak.
  • Die bekendste toeristetrekpleisters in die graafskap Armagh is die gelyknamige historiese hoofstad, die heuwellandskap van die Drumlin Hills in die suide en Slieve Gullion, 'n bergpiek van vulkaniese oorsprong.
  • Die graafskap Down in die suidooste van Noord-Ierland word deur die Mourne Mountains in die suide, St. Patrick's Country in sy sentrum en die meerlandskap van Strangford Lough, 'n uitgestrekte see-inham en 'n voëlparadys in die noorde, oorheers.

Die historiese graafskappe dien tans nie meer as administratiewe eenhede nie. Hierdie funksie word deur 26 distrikte vervul waarvan die meeste rondom groter nedersettings geleë is en meestal is hulle ook na dié nedersetting genoem soos byvoorbeeld Coleraine Borough Council. Fermanagh District Council vorm 'n uitsondering; hierdie distrik strek grotendeels oor dieselfde gebied as die gelyknamige historiese graafskap.

Alhoewel graafskappe geen administratiewe funksie meer vervul nie, bly hulle steeds gewild om die geografiese ligging van 'n plek aan te dui. Hulle word daarnaas ook amptelik gebruik vir aansoeke om 'n paspoort van die Ierse Republiek aangesien die graafskap, waar 'n inwoner gebore is, in dié dokument aangedui moet word. Die skakelkodes is in 2000 geherstruktureer volgens 'n agtsyferstelsel (met uitsondering van Belfast) waarby die eerste syfer die graafskap aandui.

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Hoofkenmerke

[wysig | wysig bron]

Noord-Ierland word danksy die matigende invloed van die Atlantiese Oseaan deur 'n eenvormige klimaat met min temperatuurskommelinge gekenmerk. Winters is gematig, somers relatief koel. Weens die soms diep ingesnyde kus en uitgestrekte gebiede met 'n hoogte van meer as 200 meter bo seevlak verskil temperature, bewolking en neerslae van plek tot plek.

Temperature

[wysig | wysig bron]
West Strand in Portrush in Februarie

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur op laer plekke in Noord-Ierland wissel van 8,5 °C tot 9,5 °C, waarby die hoër waardes langs of naby die kus aangeteken word. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur neem met elke toename in hoogte bo seevlak van 100 m met sowat 0,5 °C af. So word in Parkmore Forest in die graafskap Antrim (235 m bo seevlak) 'n jaarlikse gemiddeld van 7,4 °C aangeteken.

Wintertemperature in die Verenigde Koninkryk word grootliks beïnvloed deur dié van die omgewende see wat hul laagste vlakke in laat Februarie of vroeg in Maart bereik. Februarie is dus die koudste maand in Noord-Ierland se kusgebiede, terwyl in binnelandse gebiede min variasie tussen temperature in Januarie en Februarie waargeneem word. Gemiddelde daaglikse temperature in Januarie wissel van 0,5 °C in hoër geleë streke tot 2 °C in kusgebiede, waarby die hoogste waardes langs die kuslyn van die graafskap Down aangeteken word.

Die koudste nagtemperature word aangeteken wanneer 'n sneeukleed die oppervlak bedek, veral in gebiede waar die matigende invloed van die see al geringer word, soos in binnelandse valleie waar koue lugmassas instroom. So het die kwik in Magherally naby Banbridge in die graafskap Down op 1 Januarie 1979 tot -17,5 °C gedaal – die laagste waarde wat ooit amptelik in Noord-Ierland aangeteken is. Die meeste kusgebiede ervaar nie hierdie soort erge winterkoue nie. So was die laagste temperatuur, wat byvoorbeeld in die drie dekades tussen 1961 en 1990 in Helens Bay in die graafskap Down aangeteken is, -5,4 °C.

Julie is gewoonlik die warmste maand in Noord-Ierland, waarby gemiddelde daaglikse maksimum temperature tussen sowat 17 °C in hoër geleë landsdele en langs die noordkus tot byna 20 °C in laer geleë streke suid van Lough Neagh en in Fermanagh wissel. Die hoogste temperatuur, wat ooit in Noord-Ierland gemeet is, was 30,8 °C in Knockarevan in Fermanagh op 30 Junie 1976 en by Shaw's Bridge in Belfast op 12 Julie 1983.[11]

Sonskyn

[wysig | wysig bron]
Die winterson gooi spatsels lig oor Dundrum Road, graafskap Down, teen die agtergrond van Noord-Ierland se hoogste bergreeks, die Mourne Mountains

In die algemeen neig Noord-Ierland as gevolg van sy heuwelagtige terrein en die nabyheid van die Atlantiese Oseaan om meer bewolk as Engeland te wees. Desondanks het die kusgebied van Down 'n gemiddeld van meer as 1 400 sonskynure per jaar – 'n waarde wat gunstig vergelyk met baie kusstreke in Engeland en Wallis, behalwe vir plekke langs die Suidoos-Engelse kus met jaarliks 1 750 sonskynure. Langer periodes van bewolkte toestande kom veral in die bergagtige streke in die noorde en weste voor waar jaarliks 'n gemiddeld van minder as 1 100 sonskynure aangeteken.

Mei is die sonnigste maand, terwyl Desember as die donkerste maand ervaar word. Die belangrikste faktor is wél die seisoenale variasie in daglengte, maar die voorkoms van bewolkte weertoestande speel ook 'n rol. Die meeste maandelikse sonskyn met 298 ure is in Junie 1940 by Mount Stewart in Down aangeteken. Eastbourne hou die rekord vir die Verenigde Koninkryk met 383,9 sonskynure in Julie 1911. In die donkerste wintermaande is al minder as 20 ure aangeteken. Die laagste getal maandelikse sonskynure was 8,3 in Januarie 1996 by Silent Valley in Down. Londen is die Britse rekordhouer met hoegenaamd geen sonskyn in die middestad in Desember 1890.

Reënval

[wysig | wysig bron]
September in Tyrone: reënwolke pak saam oor Aughafad Townland

Reënval word in Noord-Ierland gewoonlik met Atlantiese depressies of konveksie verbind. Dit is veral sterk Atlantiese laagdrukstelsels wat die meeste reën in die herfs- en wintermaande oor Noord-Ierland laat uitsak. Gedurende die somer vorm soms konveksiewolke of donderstorms wat reënbuie laat val. Hoër geleë landsdele kry meer reën as die laagliggende streke.

So varieer die jaarlikse reënval in Noord-Ierland grootliks. Die natste plekke is die Sperrins, Antrim en Mourne Mountains waar 'n gemiddelde jaarlikse maksimum van sowat 1 600 mm aangeteken word – dit is sowat die helfte van die neerslae wat in die Engelse Meredistrik of die westelike hoogland van Skotland val. Naas topografiese effekte word die hoeveelheid reënval ook deur die geografiese ligging beïnvloed. Die mees westelike graafskappe Fermanagh, Londonderry en Tyrone is meer blootgestel aan swaar reënwolke wat deur die westwind van die Atlantiese Oseaan af gewaai word. Die berggebiede rondom Killeter Forest in die uiterste weste van Tyrone is van die natste plekke in Noord-Ierland met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 1 950 mm. Die droogste plekke is verder ooswaarts geleë – rondom Stranford Lough en naby die suid- en oosoewer van Lough Neagh met 'n jaarlikse gemiddeld van minder as 800 mm.

Daar is minder seisoenale variasie in reënval in die droër suidelike en oostelike landsdele, maar nogtans is die natste maande orals in Noord-Ierland tussen Oktober en Januarie. Dié feit is onder meer aan seisoenale weerspatrone te danke – so kom Atlantiese depressies in die wintermaande gereeld voor, terwyl donderstorms in die somer net af en toe vorm. In Armagh sak donderbuie slegs op 'n gemiddeld van minder as vier dae per jaar uit, in vergelyking met vyftien tot twintig dae op baie plekke in Engeland. Slegs op enkele plekke in Noord-Ierland pak donderwolke jaarliks op meer as vyf dae saam.

Dae met 'n totale reënval van 1 mm of meer word deur die Britse Weerburo (Met Office) as "nat dae" gedefinieer. Die getal nat dae per jaar volg dieselfde patroon soos dié van totale reënval. In hoër geleë landsdele word 'n gemiddeld van meer as 55 nat dae in die wintermaande (Desember tot Februarie) en meer as 45 nat dae gedurende die somer (Junie tot Augustus) aangeteken. In die droogste streke rondom Lough Neagh en ooswaarts tot by Strangford Lough val respektiewelik 45 en 35 dae in dié kategorie.

Aktiewe weerstelsels, wat vanuit die Atlantiese Oseaan in ooswaartse rigting beweeg, bring soms swaar reën na hoër geleë streke. Die hoogste reënval per dag met 158,9 mm is op 31 Oktober 1968 in Tollymore Forest, graafskap Down gemeet. Swaar en lank aanhoudende reënval kan tot oorstromings lei. So was die herfs van 2000 die natste in meer as honderd jaar, met neerslae van 167 mm binne twee dae vroeg in November in die Silent Valley, Down en oorstromings op plekke.

Sneeuval

[wysig | wysig bron]
Die Drumachose Presbiteriaanse kerk in Limavady, graafskap Londonderry, in 'n Desember-sneeukleed gehul

Sneeu val gewoonlik net wanneer die kwik tot 4 °C of laer daal. Die getal dae met sneeuval en 'n sneeukleed weerspieël die topografie van 'n gebied en neig om hoër te wees in bergagtige streke in die noorde van die land. Sneeu val selde in gebiede wat op seevlak geleë is, maar gereeld in hoër geleë landsdele. So styg die gemiddelde getal dae met sneeuval van tien in die oostelike kusgebiede tot meer as 35 in die berggebiede van die Sperrins, Antrim en Mourne. Kusstreke word voor Desember en ná Maart nouliks met 'n sneeukleed bedek. Die gemiddelde getal dae met 'n sneeukleed varieer tussen minder as vyf in kusgebiede tot meer as 30 in bergagtige streke.

Die jaarlikse getal dae met sneeuval en 'n sneeukleed varieer grootliks. Op baie plekke is gedurende die afgelope vyftig jaar in baie winterseisoene hoegenaamd geen sneeuval aangeteken nie, terwyl daar in die winters van 1962/1963 en 1981/1982 op meer as dertig dae sneeu geval het, insluitende kusstreke, en groot dele van die land in 'n sneeukleed gehul was.

Gedurende swaar sneeuval kan sterk winde sneeu so hoog opwaai dat padvervoer en kragvoorsiening veral in bergstreke ontwrig word, alhoewel dié soort uiterste weerstoestande selde voorkom. Op 27 Februarie 2001 het swaar sneeuvalle en sterk noordoostelike winde veral in die graafskappe Antrim en Down padvervoer vyf dae lank ontwrig. Kraglyne, wat elektrisiteit aan 70 000 lewer, was leweloos.

Elliott's Hill-windplaas naby Ballyclare

Noord-Ierland kry meer wind as baie ander gebiede in die Verenigde Koninkryk. Die winderigste plekke is hoër geleë streke en die kusgebiede van Antrim en Down. Sterk winde waai wanneer laedrukgebiede oor of naby die Verenigde Koninkryk beweeg. Hierdie weerstoestande kom veral gedurende die wintermaande voor.

Windsnelhede van meer as 34 knope, wat tien minute lank gemeet word, word as stormagtige weer gedefinieer. In die kusgebiede van Antrim en Down waai stormsterktewinde op 'n gemiddeld van vyftien dae per jaar. Hierdie getal neem af hoe verder 'n mens na die binneland beweeg, tot vyf dae of minder rondom en wes van Lough Neagh. Windsnelhede varieer afhangende van topografiese invloede en landgebruik. Op plekke, wat deur heuwels beskerm word, of in stedelike gebiede word minder dae met stormagtige weer en laer windsnelhede aangeteken.

Orkaansterktewinde kan geboue beskadig en padvervoer en kragvoorsiening ontwrig. Die hoogste windsnelheid, wat ooit in laer geleë landsdele gemeet is, was 108 knope (125 myl per uur) in Kilkeel, graafskap Down op 12 Januarie 1974. Hierdie storm het woonhuise beskadig, bome ontwortel en kragtoevoer vir 150 000 huishoudings onderbreek.

Wanneer Atlantiese depressies oor die Verenigde Koninkryk beweeg, waai winde aanvanklik uit suidelike of suidwestelike rigting. Later draai die wind wes of noordwes sodra die laedrukgebied van die Britse Eilande wegbeweeg. In laer geleë dele van die binneland waai winde dwarsdeur die jaar hoofsaaklik uit 'n suidwestelike rigting. Gedurende lentetyd draai die wind egter dikwels noord, noordoos en oos.

Fauna en flora

[wysig | wysig bron]
Castlewellan Forest Park, graafskap Down, in die vroeë oggendure

Noord-Ierland se plantlewe deel baie kenmerke met dié van Noordwes-Brittanje. Opvallend is die gebrek van bome, 'n gevolg van eeue-lange boerderypatrone in 'n gebied wat grotendeels vir akkerbou en veeteelt gebruik en gedreineer is. Selfs die grond in ruwe bergterreine, wat nie geskik is vir die verbouing van gewasse nie, word as weiveld vir intensiewe veeteelt gebruik. Bergplantegroei is beperk tot die hoogste terrein. Tans is net vyf persent van Noord-Ierland se oppervlakte bebos, waarby die meeste bome deur staatsliggame aangeplant is. Jonger bosaanplantings, waardeur die plaaslike landskapsvorme gediversifiseer is, het geen ekonomiese waarde vir die klein plaaslike bosboubedryf nie en word eerder vir ontspanningsdoeleindes gebruik.[12]

Ook Noord-Ierland se fauna verskil nie opmerklik van dié van Groot-Brittanje nie, behalwe vir die feit dat hier minder soogdier- en voëlspesies aangetref word. Slegs twee soogdierspesies – die Ierse wesel en die Ierse haas (Lepus timidus hibernicus) – en drie voëlspesies is endemies aan Ierland. Visspesies is volop in Noord-Ierland, waaronder Europese snoek, Europese baars, forel en salm. Die eersgenoemde is die enigste visspesie wat in historiese tye in Ierland ingevoer is.

Om Noord-Ierland se plant- en dierlewe te beskerm, is sowat veertig natuurbewaringsgebiede en voëlreservate gestig wat deur die Ulster Wildlife Trust en die Noord-Ierse Departement van Omgewingsbewaring bestuur word. Belfast se dieretuin in Newtownabbey, wat sy deure in 1934 vir die publiek geopen het en tans sowat 55 akkers in heuwelagtige terrein beslaan, bied 'n veilige hawe vir meer as 140 rare en bedreigde dierspesies.[13]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë en middeleeuse geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die 12de eeuse Carrickfergus-kasteel, hier afgeneem teen die agtergrond van Belfast Lough se metaalgrys water, getuig van vroeë Anglo-Normandiese invloed in die noorde van Ierland
Die Scrabo-toring is naby Newtownards, graafskap Down, aan die noordpunt van die Ards-skiereiland geleë

Ulster is naas Leinster, Munster en Connacht een van die historiese provinsies van Ierland. Ulster het in die vroeë Middeleeue selfs die politieke en kulturele sentrum van Ierland gevorm. Die beskermheilige van Ierland, Sint Patrick, wat in 432 vanuit Wallis na Ierland gekom het, het die bisdom van Armagh gestig. Ulster staan daarnaas bekend as die tuiste van 'n groot aantal Ierse digters, geleerdes en heersers, waaronder die magtige dinastie O'Neill in die 14de en 15de eeu.

Die Anglo-Normandiese konings van Engeland het reeds in 1169 begin om Ierland te verower, tog het hulle tot in die 15de eeu nie daarin geslaag om meer as die oostelike kusgebiede in die omgewing van Dublin te oorheers nie. Dikwels het die vroeë Engelse setlaars selfs by die Ierse kultuur en leefwyse begin aanpas.

Vroeë moderne tydperk

[wysig | wysig bron]

Onder die heerskappy van Hendrik VIII en Elisabeth I is die eerste plantations (Engelse nedersettings) in die graafskappe Offaly en Laois gestig.

Koning Jakobus I van Engeland het beslag op landgoedere in Ulster gelê en in 1609 die vestiging van Engelse en Skotse setlaars in die gebied bevorder. Ook Oliver Cromwell het Ierse boerderye as skenkings vir sy troepe gebruik.

Die Rooms-Katolieke bevolking het in 1688 in opstand teen die Engelse heerskappy gekom en die stad Derry beleër. Twee jaar later, op 12 Julie 1690, is hulle deur Willem van Oranje in die Slag van die Boynerivier verslaan – 'n gebeurtenis wat tydens die jaarlikse marching season in die somer deur die Protestantse Orde van die Oraniërs herdenk word. Die oorlewende Katolieke troepe het na die buiteland gevlug en as soldate van die Franse leër 'n oorwinning oor die Engelse in die Slag van Fontenay behaal.

As gevolg van hierdie politieke onluste, wat sowel Ierland asook Brittanje geraak het, is in 1695 die sogenaamde Strafwette (Penal Laws) ingestel, wat in verskillende mate teen alle godsdienste – behalwe vir die Anglikaanse Kerk – gerig was. Katolieke het in die tydperk tussen die 18de en vroeë 19de eeu die meeste van hulle politieke en ekonomiese regte kwytgeraak. Die Rooms-Katolieke bevolking van Ulster is besonder swaar deur hierdie maatreëls getref, aangesien hulle net in die noorde van Ierland 'n minderheid gevorm het en nuwe nywerhede byna steeds hier gevestig is. Die Anglikaanse burgery se magsposisie het sodoende aansienlik versterk.

Nywerheidsomwenteling

[wysig | wysig bron]
Royal Avenue, Belfast
Fotochroombeeld, omstreeks 1890–1900

Die nywerheidsomwenteling het Ierland se drie suidelike provinsies nouliks geraak, maar dit het Ulster vanaf die middel van die 19de eeu ingrypend verander. Ierland was vanweë die gebrek aan steenkoolvelde en ystervoorrade allesbehalwe 'n geskikte terrein vir industriële ontwikkeling. Maar die ooste van Ulster was 'n merkwaardige uitsondering.

Die sentralisering van die linnebedryf in Belfast was die beginpunt van Noord-Ierland se industrialisering en Belfast se vinnige groei gedurende die 19de eeu. Tussen 1808 en 1901 het sy bevolking van slegs 25 000 tot byna 350 000 gestyg.

Die handels- en dienstesektor het saam met die nywerhede ontwikkel. Drie groot bankondernemings is tussen die 1820's en die 1830's in die provinsie gestig – die Northern, Belfast en Ulster Bank. Filiale van Britse versekerings is in Belfast gevestig en het handelsaktiwiteite vergemaklik. Noorde en suide het albei voordeel uit die Napoleontiese Oorloë getrek, al was dit op verskillende manier. Terwyl die suidelike provinsies veral ten opsigte van hul landboubedryf gefloreer het, het in die noorde hoofsaaklik die linne- en katoenbedryf sterk groei getoon. So het Suid-Ierland kos vir die leër verskaf, die noorde kleding. Ná die onvermydelike resessie, waarin albei landsdele ná die oorloë gedompel is, het die nywerheidsomwenteling in Noord-Ierland versnel.

Kwessie van Ierse selfregering

[wysig | wysig bron]

Teen die einde van die 19de eeu het die proses van Ierland se politieke, ideologiese en kulturele skeiding van Groot-Brittanje begin. Dit het aan die begin van die 20ste eeu 'n voorlopige hoogtepunt bereik. As deel van die Ierse onafhanklikheidsbeweging is 'n aantal organisasies soos Sinn Féin (1905) gestig.

Pogings om deur middel van parlementêre wette, die sogenaamde Home Rull Bills, Ierland se onafhanklikheid te bereik, was onsuksesvol. Ná die Eerste Wêreldoorlog en die Ierse Paasopstand van 1916, wat deur Britse troepe neergeslaan is, het dit duidelik geword dat daar moontlik geen vreedsame oplossing vir die Ierse konflik sou wees nie.

Ná die Ierse Onafhanklikheidsoorlog (1919 tot 1921) het die onderhandelinge tussen Ierland en Groot-Brittanje tot die Anglo-Ierse Verdrag gelei, wat bepaal het dat die Noord-Ierse graafskappe met 'n oorwegend Protestantse bevolking van die Ierse Republiek geskei sou word. Uiteindelik is die graafskappe Antrim, Down, Armagh, Londonderry, Tyrone en Fermanagh van die res van Ierland geskei.

Politieke konflik in Noord-Ierland

[wysig | wysig bron]

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
Protestantse optog op 12 Julie, Donegall Street, Belfast
Oor die hele somer vind optogte van Protestantse Unioniste plaas en word strate met Britse vlae versier: Carrickfergus in September 2016

Die konflik in Noord-Ierland is in wese 'n etnies-politieke, en nie soseer godsdienstige konflik nie. Die twee konflikpartye, Protestantse en Rooms-Katolieke Noord-Iere met verskillende etniese en religieuse agtergronde, streef onversoenbare territoriale en politieke ambisies na. Die Protestantse gemeenskap, wat ook as Unioniste of Lojaliste bekend staan en tans meer as 60 persent van die totale bevolking verteenwoordig, staan lojaal teenoor die Britse Kroon. Hulle beskou Noord-Ierland as 'n integrale deel van die Verenigde Koninkryk en is gekant teen enige verandering van hierdie status. Die Unioniste voer hulle politieke en territoriale aanspraak terug na hul Engelse en Skotse voorvaders wat reeds eeue gelede gebiede in Ierland verower en hulle daar gevestig het.

Die Rooms-Katolieke gemeenskap in Noord-Ierland pleit vir die verbreking van politieke bande met die Verenigde Koninkryk en die hereniging van Noord-Ierland en die Republiek Ierland. Vanweë hulle Iers-nasionalistiese houding en die strewe na 'n vereniging met die Ierse Republiek word hulle dikwels ook Nasionaliste of Republikeine genoem. Naas territoriale en nasionale kwessies was die diskriminasie teen die Rooms-Katolieke minderheid, soos dit deur die Protestantse elites toegepas is, 'n beslissende faktor in die konflik. Die benadeling van Rooms-Katolieke is dekades lank in Noord-Ierland se politieke bedeling weerspieël nadat 'n Protestantse eenpartyregering ná die verdeling van Ierland in 1921 gevorm is en tot 1976 geregeer het.

In Junie 2011 het meningspeilings verrassende steun vir die huidige politieke status van Noord-Ierland uitgewys. So is intussen 52 persent van die Rooms-Katolieke gemeenskap ten gunste van 'n bedeling waarin Noord-Ierland deel van die Verenigde Koninkryk sal bly.[14]

Geskiedenis van die konflik

[wysig | wysig bron]
Gedenkteken in Derry ter herinnering aan die veertien slagoffers wat op die Bloedige Sondag deur Britse troepe doodgeskiet is

Die Rooms-Katolieke minderheid het in die 1960's hul stryd om gelyke regte met 'n vreedsame menseregtebeweging begin wat politieke aksies en betogings georganiseer het. Die gewapende konflik het op 5 Oktober 1968 in Londonderry (Derry) begin toe betogings in oproer geëskaleer het.

Protestantse politici het tot in die laat 1960's geweier om met Rooms-Katolieke verteenwoordigers in gesprek te tree. Die destydse eerste minister van Noord-Ierland het besware van Rooms-Katolieke kant van die hand gewys en beweer dat daar geen sprake van diskriminasie teen Rooms-Katolieke kon wees nie. Die Ulster Unionist Party (UUP) was tussen 1921 en 1976 die enigste regeringsparty wat ook alle eerste ministers benoem het.

Die konflik het verder geëskaleer toe op 30 Januarie 1972, wat later as die "Bloedige Sondag" bekend sou staan, veertien ongewapende Rooms-Katolieke betogers deur 'n spesiale eenheid van die Britse leër, die Parachute Regiment, doodgeskiet is nadat die betoging as onwettig verklaar en ontbind is. Terwyl die politieke klimaat verder versleg het en gemeenskappe deur geweldpleging ontwrig is, het die Britse konserwatiewe regering onder premier Edward Heath in Maart 1972 die Noord-Ierse Parlement in Belfast opgehef en regstreekse administrasie deur die Britse staatssekretaris vir Noord-Ierland ingestel.

Pogings is onderneem om orde en stabiliteit te herstel deur 'n hervormde stelsel van selfregering vir Noord-Ierland. Voorstelle is gemaak vir 'n nuwe wetgewende vergadering of 'n alternatiewe oplossing deur magsdeling tussen Protestantse Unioniste en Rooms-Katolieke Nasionaliste in 'n gemeenskaplike regering. Nogtans is meer as 'n kwarteeu lank geen politieke skikking bereik nie. Noord-Ierland het in 'n voortdurende toestand van burgeroorlog verkeer wat eers met die Goeie Vrydag-ooreenkoms op 10 April 1998 beëindig is.

Goeie Vrydag-ooreenkoms

[wysig | wysig bron]

Die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 10 April 1998 rus op drie pilare: die interne betrekkinge en strukture van Noord-Ierland; die betrekkinge tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland; en die trilaterale samewerking tussen Noord-Ierland, die Republiek Ierland en die Verenigde Koninkryk. Alle besluite ten opsigte van die territoriale kwessie sal volgens die beginsel van konsensus geneem word. So sal die Noord-Ierse bevolking in referendums, wat gereeld gehou sal word, met die meerderheid van die uitgebragte stemme oor die toekomstige politieke status van Noord-Ierland besluit.

Die ooreenkoms maak voorsiening vir die vorming van 'n Noord-Ierse streeksparlement (Stormont) en 'n streeksregering met wetgewende bevoegdhede. Volgens die model van 'n konkordansie-demokrasie sal politieke partye van albei etnies-godsdienstige konflikpartye in die regering verteenwoordig wees wat deur 'n Protestantse eerste minister en 'n Rooms-Katolieke adjunk-eerste minister gelei word.

Volgens die beleid van magsdeling moet alle besluite in die Noord-Ierse parlement op die basis van 'n parallele konsensus geneem word. Alle wetgewing moet dus deur 'n meerderheid van sowel Rooms-Katolieke asook Protestantse afgevaardigdes goedgekeur word. Die politieke instellings en prosedures van die Goeie Vrydag-ooreenkoms is nog eens in die St. Andrews-ooreenkoms van Oktober 2006 bevestig.

Struikelblokke

[wysig | wysig bron]

Ondanks alle pogings van die Britse regering en die Europese Unie, wat onder meer finansiële steun aan Noord-Ierland verleen, het burgerlike versoening nog nie 'n werklikheid in die land geword nie. Die onderwysstelsel, wat volgens godsdienstige lyne verdeel is, is die grootste struikelblok op die pad ná 'n vreedsame samelewing. Rooms-Katolieke leerders woon tradisioneel Katolieke skole by, terwyl sogenaamde staatskole onderwys aan Protestantse kinders verskaf. Net 'n klein persentasie leerders woon "geïntegreerde skole" by. Die aankondiging van Noord-Ierland se eerste minister Peter Robinson dat onderhandelinge oor 'n geïntegreerde onderwysstelsel sou begin, het in Oktober 2010 skerp protes van die Rooms-Katolieke Kerk en Katolieke politieke partye ontlok.

Politieke rolspelers

[wysig | wysig bron]
Unionistiese muurskildery in Belfast
Republikeinse muurskildery in Belfast

Geeneen van die Verenigde Koninkryk se vier grootste partye – die Konserwatiewe Party, die Arbeidersparty (Labour Party), die Liberale Party of die Skotse Nasionale Party – het 'n funksionele basis in Noord-Ierland nie.[15] Noord-Ierland se Konserwatiewe Party kon in die laaste verkiesing in Maart 2017 slegs 0,3 persent van die uitgebragte stemme op hom verenig. Die party se sukses word belemmer deur die feit dat kandidate, wat vir Noord-Ierse verkiesings benoem word, meestal in Londen gesetel is en gewoonlik geen plaaslike verkiesingsveldtogte hou nie. Die Noord-Ierse Arbeidersparty-beweging is tans verdeel in drie partye – Labour Alternative, die Cross-Community Labour Alternatve en die nuutgestigte Northern Ireland Labour Representation Committee-party. Al drie partye het in die laaste verkiesing slegs 0,8 persent van die uitgebragte stemme op hulle verenig.

Politieke partye in Noord-Ierland is rofweg in drie kampe verdeel: Unioniste wat die politieke unie tussen Groot-Brittanje en Noord-Ierland steun en as verteenwoordigers van die Protestantse meerderheid beskou word; Nasionaliste wat teen die unie gekant is en hulle ten gunste van 'n hereniging met die Republiek Ierland uitspreek en veral op die Rooms-Katolieke minderheid steun; en sogenaamde Cross-Community Parties wie se aanhangers voel dat nóg die Unioniste- nóg die Nasionaliste-kamp op hul belange fokus. Hierdie Intergemeenskapspartye trek stemme uit sowel die Protestantse asook die Katolieke bevolking.

Unioniste-partye

[wysig | wysig bron]
  • Die Ulster Unionist Party (UUP, Iers: Páirtí Aontachtach Uladh) is oorspronklik in 1905 as Unionist Party gestig en was tot en met 2002 die belangrikste Protestantse party in Noord-Ierland. Dit is in 2002 vir die eerste keer deur Ian Paisley se Democratic Unionist Party (DUP) verbygesteek. Die partyleier is Robin Swann (sedert 8 Maart 2017).
  • Die Democratic Unionist Party (DUP, Iers: Páirtí Aontachtach Daonlathach) het onder sy vroeëre voorsitter, wyle Ian Paisley, tot Noord-Ierland se invloedrykste Unionisteparty gegroei. Die amp van partyleier is sedert Arlene Foster se aftrede op 9 Januarie 2017 vakant. Sy het in die koalisieregering tussen DUP en Sinn Féin die amp van eerste minister beklee.
  • Die Northern Ireland Unionist Party (NIUP) is op 5 Januarie 1999 deur Protestantse teenstanders van die Goeie Vrydag-ooreenkoms gestig.
  • Die Progressive Unionist Party (PUP) is in 1977 gestig om die bestaande grondwetlike verhouding tussen Noord-Ierland en die Verenigde Koninkryk te behou en beywer hom vir magsdeling tussen Unioniste en Nasionaliste.
  • Die UK Unionist Party is 'n nie-sektariese party wat die unie tussen Noord-Ierland en Groot-Brittanje steun.

Nasionaliste-partye

[wysig | wysig bron]
  • Sinn Féin (SF) is in 1905 gestig met die doelwit om die Britse bewind in Ierland te beëindig. Die party steun die Goeie Vrydag-ooreenkoms en het met die DUP in 'n koalisieregering saamgesluit. Die partyleier vir heel Ierland is Mary Lou McDonald (sedert 2018), dié vir Noord-Ierland Michelle O'Neill (sedert 2017).
  • Die Social Democratic and Labour Party (SDLP) was ná sy stigting in 1970 jare lank die grootste nasionalistiese party in Noord-Ierland.

Cross-Community-partye

[wysig | wysig bron]
  • Die Alliance Party is in 1970 gestig as politieke verteenwoordiging vir kiesers wat gevoel het dat hul belange nie deur Unioniste- en Nasionaliste-partye waargeneem is nie.
  • Die Northern Ireland Women's Coalition is in 1996 gevorm. Slegs vroulike kandidate word benoem vir parlementêre of munisipale verkiesings.
  • Die Workers Party of Ireland (WP) beywer hom vir 'n outonome demokratiese regeringstelsel in Noord-Ierland.

Administrasie

[wysig | wysig bron]

Noord-Ierland as deel van die Verenigde Koninkryk

[wysig | wysig bron]

As een van die vier lande of nasies binne die Verenigde Koninkryk oefen die Britse eerste minister ook die amp van regeringshoof vir Noord-Ierland uit, terwyl die regerende Britse monarg as sy staatshoof fungeer.

Historiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Inwyding van die nuwe Noord-Ierse parlementsgebou deur Edward, destyds Prins van Wallis, op 16 November 1932 in Belfast

Met die Uniewet, wat in 1801 in werking gestel is, is die Ierse parlement in Dublin afgeskaf en voorsiening gemaak vir Ierse verteenwoordiging in die Britse Parlement. In die laat 19de en vroeë 20ste eeu het Ierse selfregering of Home Rule weer 'n brandende kwessie in die Verenigde Koninkryk geword.

Die Wet oor die Regering van Ierland, wat in 1920 afgekondig is, het voorsiening gemaak vir twee afsonderlike parlemente wat respektiewelik jurisdiksie oor Suid- en Noord-Ierland sou uitoefen. Die argitekte van Ierland se politieke verdeling het die lewensvatbaarheid van Noord-Ierland as selfstandige politieke entiteit nogtans in twyfel getrek. Die verwagting was dat die noorde uiteindelik in 'n verenigde Ierland ingesluit sou word. Die Protestantse bevolking van Noord-Ierland het enige voorstel, om deur die Ierse regering in Dublin geadministreer te word, nogtans summier van die hand gewys. So bestaan die politieke grens tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland, al is dit oop en word tans geen grenskontroles toegepas nie, ook in die 21ste eeu steeds.

Die Wet van 1920 het aan Noord-Ierland se parlement en regering 'n betreklik hoë mate aan outonomie toegestaan. So het Noord-Ierse bevoegdhede ook behuising, onderwys en polisiedienste ingesluit. Daarenteen was die nuwe regering se fiskale gesag uiters beperk. Noord-Ierland het sodoende as gevolg van ekonomiese moeilikhede in toenemende mate afhanklik geword van subsidies wat deur die Britse regering toegeken is.

Noord-Ierland se parlementêre stelsel het die Westminstermodel weerspieël. So is 'n tweekamerparlement met Hoër- (Senaat) en Laerhuis (Huis van Afgevaardigdes of House of Commons) in Belfast gevestig. Volgens die bepalings van die Verdelingsooreenkoms het sekere bevoegdhede – byvoorbeeld alle aangeleenthede en wetgewing rakende die Kroon, militêre sake en nasionale verdediging, buitelandse sake, handel, seevaart en navigasie en Noord-Ierland se geldeenheid – steeds onder die gesag van die Britse parlement in Londen geval. Noord-Ierse kiesers is ook na die Ierse verdeling in 1922 deur afgevaardigdes in die Britse Parlement verteenwoordig.

Ierland se besluit om formeel uit die Britse Statebond uit te tree en sy volledige onafhanklikheid as Ierse Vrystaat te verklaar, het in 1949 'n keerpunt in die betrekkinge tussen Dublin en Londen daargestel. Protestantse vrese in Noord-Ierland is met nuwe Britse wetgewing gesus waarin Noord-Ierland se status as integrale deel van die Verenigde Koninkryk bevestig is.

Devolusie en uitvoerende gesag

[wysig | wysig bron]
Parlementsgebou op Stormont, Belfast, setel van die Noord-Ierse vergadering

Noord-Ierland het sedert 1998 sy eie regering en parlement volgens die Verenigde Koninkryk se beleid van devolusie vir die landsdele Skotland, Wallis en Noord-Ierland. Die Noord-Ierse regering (Northern Ireland Executive) en die (wetgewende) Vergadering van Noord-Ierland (Northern Ireland Assembly, tans met 90 en voor 2017 met 108 afgevaardigdes) besluit oor wetgewing in Noord-Ierland en regeer die land. Magsdeling op regeringsvlak tussen die grootste partye uit die Unioniste- en Iers-Republikeinse kamp – die Demokratiese Unionisteparty en Sinn Féin – maak deel uit van Noord-Ierland se vreedsame skikking. Daar is egter twee soorte sake wat steeds onder die gesag van die Britse regering en parlement val:

  • voorbehoue sake (soos byvoorbeeld burgerlike lugvaart, maateenhede en menslike genetika) waarvoor die verantwoordelikheid in die toekoms aan Noord-Ierland se wetgewende vergadering en regering oorgedra mag word; en
  • sake wat uitdruklik uitgesluit is van devolusie (soos byvoorbeeld internasionale verhoudinge, belasting en verkiesings).

Daarnaas is devolusie in Noord-Ierland verbonde aan die aktiewe deelname van Noord-Ierse regeringslede in die Noord-Suid-Ministerraad (North/South Ministerial Council) wat die samewerking met die Republiek Ierland op gebiede soos landbou, onderwys en gesondheid koördineer. "In erkenning van die Ierse regering se besondere belange in Noord-Ierland" werk die regerings van Ierland en die Verenigde Koninkryk nou saam ten opsigte van sake wat nie onder devolusie val nie. Die liggaam, wat hiervoor in die lewe geroep is, is die Brits-Ierse Interregeringskonferensie (British-Irish Intergovernmental Conference).

Wetgewing aangaande aborsie en selfdegeslaghuwelike

[wysig | wysig bron]

Nadat die twee grootste politieke partye in Noord-Ierland, Sinn Féin en die Demokratiese Unionisteparty (DUP), in Julie 2019 nog steeds nie konsensus bereik het oor die vorming van 'n Noord-Ierse koalisieregering nie, het die Britse Laerhuis op 9 Julie 2019 die ongewone stap geneem om wetgewing aangaande aborsie en selfdegeslaghuwelike – wat eintlik onder die bevoegdheid van die Noord-Ierse regering val – in Noord-Ierland toe te pas. Die wette het op 22 Oktober 2019 in werking getree nadat die Noord-Ierse Vergadering nie tot 21 Oktober 2019 sitting gehou en dit betwis het nie.[16] Op 11 Februarie 2020 het twee jong dames, Robyn Peoples en Sharni Edwards, geskliedenis geskryf toe hulle Noord-Ierland se eerste selfdegeslaghuwelik in 'n hotel in Carrickfergus, graafskap Antrim voltrek het.[17]

Aborsies is in die drie ander deelstate van die Verenigde Koninkryk reeds in 1967 en in die Republiek Ierland (Éire) in 2018 gewettig, terwyl Noord-Ierland sy restriktiewe wetgewing steeds gehandhaaf het. Volgens Noord-Ierse wetgewing is enige aborsie onwettig, selfs in gevalle waar 'n swangerskap uit seksuele geweld soos verkragting of bloedskande voortspruit of voor die geboorte abnormaliteite van die fetus opgemerk word. Oortreders kan tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.[18]

Plaaslike regering

[wysig | wysig bron]

Noord-Ierland is vir administratiewe doeleindes in elf (voor 2015: 26) distrikte verdeel. Plaaslike rade (local councils) vervul nie dieselfde administratiewe funksies soos hul eweknieë in die res van die Verenigde Koninkryk nie. So het hulle byvoorbeeld geen bevoegdhede ten opsigte van onderwys, padbou of behuising nie, alhoewel hulle lede van die raadgewende Behuisingsraad van Noord-Ierland (Northern Ireland Housing Council) benoem. Dienste, wat hulle lewer, sluit vullisverwydering en herwinning van afvalmateriaal, ontspannings- en gemeenskapsdienste, boutoesig en plaaslike ekonomiese en kulturele ontwikkeling in. Hulle tree nie as beplanningsowerhede op nie, maar word ten opsigte van sommige beplanningsaangeleenthede soos toepassing geraadpleeg. Die Agentskap vir Land- en Eiendomsdienste (Land and Property Services agency) is verantwoordelik vir die insameling van munisipale dienstegelde.

Na die rade van Noord-Ierland se distrikte word amptelik verwys as district councils, borough councils, city councils of city and district councils.

Distrikte

[wysig | wysig bron]

Op administratiewe vlak is Noord-Ierland onderdeel in ses distrikte (Engels: districts).

Noord-Ierland se distrikte
Distrik Distriksraad Vergaderplek Bevolking Nr op die kaart
Antrim and Newtownabbey Antrim and Newtownabbey Borough Council Newtownabbey en Antrim (om die beurt) 140 500 3
Ards and North Down Ards and North Down Borough Council Bangor 158 800 2
Armagh, Banbridge and Craigavon Armagh City, Banbridge and Craigavon Borough Council Craigavon 207 800 6
Belfast Belfast City Council Belfast 338 900 1
Causeway Coast and Glens Causeway Coast and Glens Borough Council Coleraine[19] 143 100 8
Derry and Strabane Derry City and Strabane District Council Derry 149 500 10
Fermanagh and Omagh Fermanagh and Omagh District Council Omagh en Enniskillen[20] 115 300 11
Lisburn and Castlereagh Lisburn and Castlereagh City Council Lisburn[21] 140 200 4
Mid and East Antrim Mid and East Antrim Borough Council Ballymena[22] 137 100 7
Mid-Ulster Mid-Ulster District Council Dungannon[23] 144 000 9
Newry, Mourne and Down Newry, Mourne and Down District Council Downpatrick en Newry 176 400 5

Demografie

[wysig | wysig bron]

Etnogenese

[wysig | wysig bron]
Sint Patricksdag in Downpatrick, graafskap Down, Maart 2011

'n Verskeidenheid immigrante en setlaars het hulle deur die loop van die geskiedenis in die gebied van die huidige Noord-Ierland gevestig, waaronder Kelte vanuit die Europese vasteland, Wikings uit Skandinawië en Angel-Saksers. Die nouste betrekkinge, wat deur wedersydse migrasie versterk is, is met dele van Wes-Skotland gehandhaaf.

In die 17de eeu is duisende Skotse Presbiterianers aan gedwonge verskuiwings onderwerp en in Ulster hervestig, terwyl ook Engelse militêre buiteposte hier ontstaan het. Die etniese, godsdienstige, kulturele en politieke konflikte, wat die Noord-Ierse samelewing in die 20ste eeu ontwrig het, het hulle historiese oorsprong in dié periode.

Ná die Tudor-invalle en die gedwonge vestiging van Skotse Protestante in Noord-Ierland het Engelse en Skotse setlaars aan die een en inheemse Ierse bewoners aan die ander kant hulle sowel deur hul geloof asook deur hul taal van mekaar onderskei. Protestantse setlaars het die meerderheid van die bevolking van die graafskap Antrim, die noordelike dele van Down en die sogenaamde Lagan-korridor, wat tot Antrim strek, uitgemaak, maar ook aansienlike minderhede in ander landsdele gevorm. Die geografiese verspreiding van Katolieke en Protestante het sedertdien min of meer onveranderd gebly.

'n Veeltalige inligtingsbord van die Noord-Ierse Departement van kultuur, kunste en vryetydsbesteding, met opskrifte in Engels, Iers en Ulster-Skots
Verspreiding van Iers in Noord-Ierland volgens die sensus van 2011
Verspreiding van Ulster-Skots in Noord-Ierland volgens die sensus van 2011
Die permanente uitstalling in die Discover Ulster-Scots Centre in Belfast (geleë in die historiese Corn Exchange-gebou) behandel die geskiedenis van Skotse setlaars in Ulster, hul taal en hul kulturele, godsdienstige en ekonomiese invloed, nie net op plaaslike vlak nie, maar ook in 'n internasionale konteks

Op taalkundige gebied het Iers as gesproke taal in Noord-Ierland agteruitgang ervaar. Tans is Engels die huistaal vir die oorweldigende meerderheid Noord-Iere, al word dit in Ulster met 'n verskeidenheid aksente gespreek. Die noordoostelike dialek van Noord-Ierse Engels, wat hoofsaaklik in die historiese graafskappe Antrim en Londonderry asook in dele van Down gebesig word, is uit Sentraal-Skotland oorgebring. Dialekte in ander landsdele, insluitende die Lagan-vallei, het hulle oorsprong in Engeland, veral in Cheshire, Merseyside, Groter Manchester en Suid-Lancashire, maar ook in die graafskappe van die West Country, waaronder Gloucestershire, Avon, Somerset en Devon. Die spreektaal in stedelike nedersettings toon sterker invloede van Standaard-Engels.[24]

In Noord-Ierland se gespanne politieke klimaat is taalkeuses steeds polities gelaai. Vir 'n baie klein, maar bestendig groeiende deel van die bevolking – veral Rooms-Katolieke nasionaliste wat 'n politieke unie met die Republiek Ierland voorstaan – vorm Iers 'n sentrale element van hul kulturele identiteit, selfs al het hulle dikwels min kennis van dié Gaeliese taal, terwyl baie Protestantse Unioniste, wat die huidige status van Noord-Ierland as deelstaat van die Verenigde Koninkryk wil bybehou, Iers met argwaan bejeën en die taal as die kulturele uitdrukking van politieke verdeeldheid beskou.

Ulster-Skots

[wysig | wysig bron]

Skots, die Skotse sustertaal van Engels, is met die vestiging van Skotse setlaars gedurende die Plantation-tydperk in die vroeë 17de eeu in Ulster gevestig. Sy status as omgangstaal van 'n aansienlike deel van die Noord-Ierse bevolking is sowel deur latere migrasiegolwe asook die noue maatskaplike en ekonomiese bande met Skotland bevestig.

Ulster-Skots, wat ook Ullans of Braid Scotch genoem word, is 'n variant van Skots, die inheemse Germaanse taal van Skotland wat deur die digter Robert Burns vir baie van sy gedigte gebruik is en vandag steeds in die Lowlands, die laer geleë streke van Skotland, gebesig word.

Net soos sy Skotse eweknie het ook Ulster-Skots sy eie literatuur voortgebring soos die werke van 18de en 19de eeuse rhyming weaver-digters, onder wie Hugh Porter, bekend as the Bard of Moneyslane; James Orr, the Bard of Ballycarry; Samuel Thomson, the Bard of Carngranny; en David Herbison, the Bard of Dunclug.

Bevolkingsontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Noord-Ierland se bevolkingsgroei tussen 1910 en 2009

Sedert 1978 het die bevolking van Noord-Ierland jaarliks toegeneem. In 2011 het dit 1,811 miljoen beloop, 'n styging van 7,5 persent in die afgelope dekade en in vergelyking met die sensus van 2001 toe die getal op byna 1,7 miljoen gestaan het. Noord-Ierland verteenwoordig minder as drie persent van die totale bevolking van die Verenigde Koninkryk (62 miljoen) en ietwat meer as 28 persent van die bevolking op die eiland Ierland.

Die Noord-Ierse bevolking is etnies min of meer homogeen en met 98,2 persent merendeels blank. Volgens die sensus van 2001 was 91 persent boorlinge van Noord-Ierland, 4,8 persent is uit ander dele van die Verenigde Koninkryk afkomstig en 2,3 persent is in die Republiek Ierland gebore. Die persentasie inwoners, wat buite Noord-Ierland gebore is, het tussen 2001 en 2011 gestyg van 9 persent (151 000) tot 11 persent (of 201 000).[25] 0,33 persent word as Pavee (Irish Travellers) geklassifiseer.

Die belangrikste etniese minderhede is Chinese (6 300) en Indiërs (6 200). 0,2 persent is swartes en 0,2 persent van gemengde afkoms. Ná die toetreding van agt Sentraal- en Oos-Europese lande tot die Europese Unie in Mei 2004 het netto-immigrasie naas die natuurlike aanwas tot Noord-Ierland se bevolkingsgroei bygedra. Die getal immigrante uit hierdie lande is in 2007 op 30 000 of byna twee persent van die Noord-Ierse bevolking beraam.[26] In 2011 was Pools die naasgrootste huistaal in Noord-Ierland ná Engels, met 17 700 sprekers (een persent van die totale bevolking).

Noord-Ierland is die tweede mees ylbevolkte deel van die Verenigde Koninkryk na Skotland, maar het die jongste bevolking in die koninkryk – in 2013 was 21 persent van die inwoners jonger as 16 jaar. Die gemiddelde ouderdom was 37,6 jaar.[27]

Godsdiens

[wysig | wysig bron]
Die persentasie Protestante in Noord-Ierse distrikte volgens die sensus van 2011

In vergelyking met die res van die Verenigde Koninkryk is Noord-Ierland steeds 'n diep godsdienstige land en bly kerkbywoning nog sterk. Opvallend is die groot getal Christelike denominasies, gegewe die relatief klein bevolking. Die meeste Noord-Iere is aanhangers van die Christendom, met die Rooms-Katolieke Kerk, Presbiteriaanse Kerk in Ierland, die Kerk van Ierland (Anglikane) en Metodiste as die belangrikste gemeenskappe. Evangelikale tradisies is diep gewortel in Noord-Ierse Protestantisme.

Die meeste ander groot godsdienste het eweneens aanhangers, alhoewel hulle net klein gemeenskappe verteenwoordig.

Protestantse en Katolieke is nie eweredig oor die land versprei nie. Gedurende die lang periode van politieke onluste in die laaste derde van die 20ste eeu het Protestantse bewoners uit die mees westelike landsdele en grensgebiede verkies om na die ooste verhuis waar die Protestantse bevolking al eeue saamgetrek is. Hier het die persentasie Protestante merkbaar toegeneem, met uitsondering van dele van Belfast waar Katolieke tans die meerderheid vorm. Gedurende die onluste het talle welvarende Protestantse bewoners van Belfast na landelike omgewings in die noorde van Down verhuis, terwyl minder bevoorregte Katolieke in nuwe satellietstede rondom die oorspronklike stadsgebied gevestig is. Die historiese graafskappe Londonderry, Fermanagh en Tyrone is tans oorwegend Rooms-Katoliek.

Presbiterianers is al eeue lank een van die mees invloedryke geloofsgemeenskappe in heel Ierland. Maar dit is Noord-Ierland waar hulle tot die belangrikste Protestantse gemeenskap gegroei het. Noord-Ierse en Suid-Ierse Presbiterianers het hul oorsprong in Skotland en in die opeenvolgende golwe van Skotse immigrante wat hulle in die 17de eeu op dié eiland gevestig het.

Nedersettings

[wysig | wysig bron]
Cookstown se hoofstraat, een van die langstes en wydstes in Ierland
Die "Diamant" in Ballycastle

Baie van Noord-Ierland se stedelike nedersettings en groter dorpe dateer uit die 17de eeu toe Londense maatskappye die Irish Society gestig het. Die nedersettings, wat deur hulle beplan en gebou is, het rondom 'n sentrale vergaderplek, die sogenaamde diamond (diamant), ontstaan. Dit is gewoonlik deur twee strate gekruis, terwyl die padstelsel op 'n ruitpatroon uitgelê is. Elke nedersetting het oor 'n markhuis beskik en is met 'n stadsmuur versterk. Limavady en Coleraine in die graafskap Londonderry is uitstekende voorbeelde van hierdie vroeë stadsuitleg.

Later, in die 19de eeu, het sogenaamde "meuldorpe" rondom 'n sentrale meent ontstaan. Die meent is dikwels gebruik om wasgoed in die son te laat bleik. Hierdie dorpe, waarvan Bessbrook in die graafskap Armagh 'n tipiese voorbeeld is, het uit reekse van klein huisies bestaan waarin meulwerkers gehuisves is. Baie van hierdie woonhuise is intussen gemoderniseer, maar hul oorspronklike boustyl het bewaar gebly.

Groter markdorpe word deur hul lang en breë hoofstrate gekenmerk. So is die hoofstraat in Cookstown in die graafskap Tyrone 1,25 myl lank en 130 voet wyd. Lurgan in die graafskap Armagh is 'n ander goeie voorbeeld vir hierdie soort dorpsuitleg. Gegewe die landelike karakter van die meeste Noord-Ierse streke is daar 'n relatief groot aantal markdorpe.

Op die platteland is daar 'n verskeidenheid gehugte en dorpies. Die kleinste tradisionele geografiese eenheid, waarin land in Ierland verdeel is, is die townland wat soms nie groter as 300 akkers was nie. In die Ordnance Survey van 1846 is meer as 60 000 van hierdie townlands op die hele eiland Ierland geregistreer. In dele van Noord-Ierland is bewoners baie trots op hul townland en doen moeite om die oorspronklike toestand te bewaar. So verkies baie van hulle hul townland bo hul amptelike pad- of straatnaam as posadres.[28]

Gedurende die Britse volksplanting in die 17de eeu is die meeste Gaeliese plekname in Ierland "verengels". Vertaling het beteken dat daar 'n groot aantal plekname ontstaan het wat eenders klink, veral wat voorsetsels betref. Gewoonlik is die Ierse naam min of meer by die Engelse spelling en fonetiek aangepas. Tipiese voorbeelde van voorsetsels in plekname is Bally-, afgelei van Iers Baile "stad", soos in Ballymena of Ballymoney, en Drum- of Drom-, afgelei van Iers droim "bergrug". Knock is die Engelse spelling van cnoc "heuwel", en Carrick, soos in Carrickfergus, is afgelei van die Ierse carraig "rots".

Dikwels word die Bannrivier as 'n politieke en ekonomiese grenslyn in Noord-Ierland beskou wat die digbevolkte, meer welvarende ooste van die ylbevolkte, minder welgestelde weste skei. Min stede en dorpe wes van die Bann het 'n bevolking van meer as 10 000 soos Derry, die grootste nedersetting in Noord-Ierland se weste.

Alhoewel byna 'n derde van Noord-Ierland se bevolking in die Groter Belfastgebied saamgetrek is, woon die meerderheid van Noord-Iere in kleiner landelike nedersettings. Tans is daar vyf nedersettings met stadstatus: Belfast, Derry, Armagh, Lisburn en Newry. Aan die twee laasgenoemde nedersettings is stadstatus eers so onlangs soos 2002 tydens koningin Elizabeth II se Goue Jubileumfeesvierings toegeken.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Whiskeyvate by die Old Bushmills-distilleerdery in die graafskap Antrim

Die Noord-Ierse ekonomie het in die verlede swaar op vervaardigingsnywerhede soos skeepsbou, tou- en tekstielvervaardiging en landbou gesteun, maar vanaf die 1980's in die rigting van 'n dienste-gebaseerde ekonomie met 'n sterk openbare sektor begin ontwikkel. Tans is groot- en kleinhandel, vervaardiging en dienste die belangrikste sektore. Die inligtings- en kommunikasiebedryf, toerisme en finansiële dienste is nuwe groeisektore met 'n belowende potensiaal.

Noord-Ierland is egter in baie opsigte steeds een van die ekonomies mees benadeelde streke in die Verenigde Koninkryk. Sy lone en salarisse is die laagstes in die hele land, terwyl ook sy arbeidsproduktiwiteit nie met dié van ander dele van die Koninkryk kan meeding nie. Die swak ontwikkelde privaat sektor maak die plaaslike ekonomie afhanklik van die openbare sektor as een van die grootste verskaffers van werksgeleenthede. Die privaat sektor in Noord-Ierland het hom daarnaas op bedrywe met 'n laer waardetoevoeging soos landbou en voedselverwerking toegespits.

Die huidige toestand weerspieël 'n verskeidenheid politieke, ekonomiese en sosio-kulturele faktore, waaronder die erfenis van drie dekades van gewapende konflik wat te bowe gekom moet word, die demografiese struktuur en Noord-Ierland se afgeleë geografiese ligging. Die opswaai in sektore soos die boubedryf en handel word eerder as 'n soort normaliseringsproses ná die burgeroorlogsjare beskou.

Die sterkste punte van die plaaslike ekonomie, waarop in die toekoms voortgebou kan word, is Noord-Ierland se relatief jong en goed opgeleide bevolking, laer arbeidskoste as in die res van die Verenigde Koninkryk (VK), 'n uitstekende infrastruktuur met vervoerverbindings na die VK en die Republiek Ierland, 'n breëband-internet met 100-persent-dekking, beter opleidingsgeriewe en laer misdaadsyfers as in die res van die VK. Die natuurskoon van die land bied 'n groot potensiaal vir die ontwikkeling van 'n sterk toerismesektor.

Noord-Ierland was die eerste streek in Europa wat in sy geheel met breëband-internettoegange gedek is. Transatlantiese hoëspoed-kommunikasieverbindings met 100 gigagrepe per sekonde bestaan met vastelandse Europa en Noord-Amerika.[29]

Sport

[wysig | wysig bron]
Die Ierse nasionale rugbyspan nadat hulle die Sesnasies-toernooi in 2009 gewen het
Ierland (in heldergroen) speel teen Essex in die Friends Provident-trofee in 2007

Sport word meestal op 'n gemeenskaplike basis vir die hele Ierland georganiseer met 'n enkele span vir dié eiland. Die mees noemenswaardige uitsondering is sokker wat afsonderlike beheerliggame vir elke jurisdiksie het.[30] Op Olimpiese Spele maak Noord-Ierse atlete egter deel uit van Groot-Brittanje se span, saam met Engeland, Skotland en Wallis. Noord-Ierland stuur sy eie span vir elke Statebondspele en het sedert 1930 elke geleentheid waargeneem.

Sokker is die enigste van die gewilde sportsoorte waar Noord-Ierland oor sy eie nasionale sokkerspan beskik en nie met die suidelike deel van dié eiland 'n gemeenskaplike Ierse sokkerspan vorm nie. Die Noord-Ierse nasionale sokkerspan kon tot dusver drie keer vir die FIFA Sokker-Wêreldbeker kwalifiseer (in 1958, 1982 en 1986) en het twee keer die kwarteindrondte gehaal (in 1958 en 1982). Tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2016, die eerste deelname vir Noord-Ierland by 'n UEFA Europa-beker nog, het die nasionale sokkerspan tot die agtste eindrondte deurgedring, maar teen die Britse buurland Wallis verloor. Interessant genoeg het die Ierse nasionale sokkerspan ook vir dié toernooi gekwalifiseer en die agtste eindrondte gehaal.

Rugby is 'n gewilde sport in Noord-Ierland en word deur die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) vir die hele eiland georganiseer. Die Noord-Ierse verteenwoordiger Ulster Rugby is een van die vier professionele provinsiale spanne op dié eiland wat aan die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese Rugbykampioenebeker deelneem; die drie ander is die Ierse Connacht Rugby, Leinster Rugby en Munster Rugby. Ulster Rugby het die Europese Rugbykampioenebeker in 1999, die Keltiese beker in 2003–’04 en die Pro14 in 2005–’06 gewen. Die Ierse nasionale rugbyspan ding in die Sesnasies-toernooi met Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis mee en neem gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deel. Ierland was een van die gashere tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en die Rugbywêreldbeker 1999. Dit word as 'n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.[31]

Krieket was eens 'n sportsoort wat min ondersteuning geniet het, maar danksy die onlangse sukses van die Ierse nasionale krieketspan tydens die onlangse krieketwêreldbekertoernooie in 2007, 2011 en 2015 groei die gewildheid in krieket. Op 22 Junie 2017 is Ierland saam met Afghanistan toetsstatus toegeken.[32] Ierland het as een van die medegashere tydens die Krieketwêreldbeker 1999 opgetree en sal die T20I-wêreldbeker 2030 saam met Engeland en Skotland aanbied.[33]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Standard Area Measurements (Latest) for Administrative Areas in the United Kingdom (V2)". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 5 April 2023. Besoek op 5 Maart 2024.
  2. (en) "Estimates of the population for the UK, England, Wales, Scotland and Northern Ireland". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 21 Desember 2022. Besoek op 5 Maart 2024.
  3. (en) "2021 Census". Noord-Ierse Statistiek- en Navorsingsagentskap. Besoek op 5 Maart 2024.
  4. 4,0 4,1 (en) Trevor Fenton (25 April 2023). "Regional gross value added (balanced) per head and income components". Kantoor vir Nasionale Statistieke. Besoek op 5 Maart 2024.
  5. 5,0 5,1 (en) Trevor Fenton (25 April 2023). "Regional gross domestic product: all ITL regions". Kantoor vir Nasionale Statistieke. Besoek op 5 Maart 2024.
  6. (en) "Subnational HDI – Area Database – Global Data Lab". Global Data Lab. Besoek op 5 Maart 2024.
  7. (en) "Gini coefficient by UK nation". Skotse regering. Besoek op 5 Maart 2024.
  8. (en) Encyclopædia Britannica: Northern Ireland. Besoek op 21 Januarie 2015
  9. (en) Karen P. Corrigan: Dialects of English – Irish English. Volume 1 – Northern Ireland. Edinburgh: Edinburgh University Press 2010, bl. 6–7
  10. (de) Ralph-Raymond Braun: Irland. 7de uitgawe. Erlangen: Michael Müller 2012, bl. 701
  11. (en) Met Office: Klimaat van Noord-Ierland Geargiveer 3 Maart 2014 op Wayback Machine
  12. (en) Encyclopædia Britannica: Northern Ireland – plant and animal life. Besoek op 18 Januarie 2015
  13. (en) Discover Northern Ireland: Belfast Zoo. Besoek op 18 Januarie 2015
  14. (de) www.bpb.de: Innerstaatliche Konflikte – Nordirland
  15. (en) The Guardian, 20 April 2017: Opinion – Come what may, the biggest loser in the general election will be Northern Ireland. Besoek op 20 April 2017
  16. The Guardian, 22 Oktober 2019: ‘What a day to be gay in Northern Ireland’: marriage equality becomes law at last. Besoek op 3 November 2019
  17. The Guardian, 11 Februarie 2020: First same-sex marriage takes place in Northern Ireland. Besoek op 11 Februarie 2020
  18. The Guardian, 3 Julie 2019: Mordaunt targets ‘appalling’ Northern Ireland abortion laws. Besoek op 17 Julie 2019
  19. (en) https://www.causewaycoastandglens.gov.uk/contact-us
  20. (en) http://fermanaghomagh.public-minutes.com/ Geargiveer 9 Julie 2022 op Wayback Machine
  21. (en) https://www.lisburncastlereagh.gov.uk/contact
  22. (en) http://www.midandeastantrim.gov.uk/downloads/Schedule_of_Mid_and_East_Antrim_meetings_Jan_-_June_2016.pdf Geargiveer 4 April 2016 op Wayback Machine
  23. (en) http://www.midulstercouncil.org/Council/Council-Meetings/Council-Meetings/2016
  24. (en) Encyclopædia Britannica: Northern Ireland – People: Ethnic groups and languages. Besoek op 11 Februarie 2015
  25. (en) BBC News, 11 Desember 2012: Census figures: NI Protestant population continuing to decline. Besoek op 30 Augustus 2017
  26. (en) Report: A demographic portrait of Northern Ireland. In: Population Trends 135, Spring 2009, uitgegee deur die Northern Ireland Statistics and Research Agency (NISRA) Geargiveer 1 Junie 2013 op Wayback Machine
  27. (en) Office for National Statistics (ONS): Profile of Northern Ireland. Besoek op 6 April 2015
  28. (en) Michael McKernan (red.): Northern Ireland Yearbook 2005. Lisburn: bmf Publishing 2004, bl. 25
  29. British-American Business: Finding Your Way. The Trade and Investment Guide to the UK 2019/20, bl. 63
  30. (en) "How do other sports in the island cope with the situation?". The Herald. 3 April 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Maart 2019. Besoek op 6 Mei 2018.
  31. (en) "British & Irish Lions". Britse en Ierse Leeus. Besoek op 14 Februarie 2021.
  32. (en) "Ireland and Afghanistan ICC newest full members amid wide-ranging governance reform". Internasionale Krieketraad. 22 Junie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2020. Besoek op 6 Mei 2018.
  33. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 16 November 2021.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wiki-webtuistes

Amptelike webtuistes – regering en ander staatsinstellings

Ensiklopediese inligting


Vlag van die Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk Wapen van die Verenigde Koninkryk
LandeEngelandSkotlandWallisNoord-Ierland
Oorsese gebiedeAnguillaBermudaBrits-Antarktiese GebiedBritse Indiese OseaangebiedBritse Maagde-eilandeFalkland-eilandeGibraltarKaaimanseilandeMontserratPitcairneilandeSint Helena, Ascension en Tristan da CunhaSuid-Georgië en die Suidelike SandwicheilandeTurks- en Caicoseilande
KroongebiedeEiland ManGuernseyJersey
Sowereine militêre basisseAkrotiri en Dhekelië