Waalse Gewes
- Hierdie artikel handel oor een van die drie Belgiese geweste. Vir ander artikels met 'n soortgelyke benaming, sien asseblief die Wallonië.
Waalse Gewes (Région Wallonne / Wallonische Region) | |
---|---|
Vlag |
Wapen |
Algemene inligting | |
Land: | België |
Amptelike tale: | Frans, Duits[1] |
Hoofstad: | Namur |
Oppervlakte: | 16 901,22 km² [2] |
ISO 3166-2: | BE-WAL |
Amptelike webwerf: | Webwerf van Wallonië |
Bevolking | |
Bevolking (totaal): | 3 681 575 [3] (1 Januarie 2023) |
Bevolkingsdigtheid: | 218/km² |
Instellings | |
Federasie: | 1993 |
Regeringsvorm: | Parlementêre demokrasie |
Eerste Minister: | Elio Di Rupo (PS) |
Volkslied: | Le Chant des Wallons (Die Gesang van die Wale) |
Vakansiedag: | 3de Sondag van September |
Ligging | |
Vlaamse Gewes Waalse Gewes Brusselse Hoofstedelike Gewes | |
Vlaamse Gemeenskap Franse Gemeenskap Duitstalige Gemeenskap |
Die Waalse Gewes (Frans: Région Wallonne [walɔni], Duits: Wallonische Region, Nederlands: Waals Gewest), algemeen bekend as Wallonië (Frans: Wallonie [walɔni], Duits: Wallonie(n), Nederlands: Wallonië [ʋaːˈloːni.ə] , Waals: Walonreye [walɔnʀɛj]; Luxemburgs: Wallounesch), is een van die drie Belgiese geweste (régions). Dit bestaan uit vyf provinsies: Waals-Brabant, Henegouwen, Luik, Luxemburg en Namen, soos beskryf in artikel 5 van die Grondwet. Die gewes het 'n oppervlakte van 16 901 km² vir amper 3.7 miljoen inwoners (2023), wat 55% van die Belgiese gebied verteenwoordig, 31% van die Belgiese bevolking en 'n bevolkingsdigtheid van 218 inwoners per km².
In 1970 gestig na die Waalse Beweging se eise vir 'n politieke erkenning van Wallonië, verkry dit 'n bevel en 'n uitvoerende gesag met die spesiale wet van 8 Augustus 1980. Op 11 Desember 1986 het hy Namur as sy hoofstad verkies.[4][5][6]
Op die gebied van die Waalse Gewes is daar ook twee taalgebiede van België: die Franssprekende streek, ook algemeen bekend as Wallonië, en die Duitstalige streek. Die Waalse Gewes dek slegs gedeeltelik die grondgebied van die Franse gemeenskap van België (wat ook die Franstalige bevolking van die Brusselse Hoofstedelike Gewes insluit) maar geheel en al van die Duitstalige Gemeenskap in die ooste.
Etimologie en terminologie
[wysig | wysig bron]Etimologie
[wysig | wysig bron]Die term "Wallonië" (aanvanklik nog as Wallonnie gespel) is eers in 1844 geskep en destyds deur die Belgiese skrywer Joseph Grandgagnage (1797–1877) gebruik om na die tuisland van die Franssprekende Belge te verwys. Dit het al hoe meer gebruiklik geword nadat die nasionale beweging van Vlaandere begin het om die Nederlandssprekende noorde van België - en nie net die provinsies Oos- en Wes-Vlaandere nie - "Vlaandere" te noem.[7] Voor 1844 is Belgiese skilders meestal "Vlaams" en Belgiese soldate "Waals" genoem sonder om hulle moedertaal in ag te neem.
Die term "Waal" bestaan egter reeds sedert die 15de eeu en is afgelei van 'n plaaslike antieke Keltiese stam se Latynse en Germaanse name (Volcae en Walha, sien die hoofstuk Geskiedenis voor 1830). Dit verskyn vir die eerste keer in 15de eeuse kronieke. In Duitsland was die term al vroeër in gebruik; die destydse beskrywing van 'n slag in die jaar 1302 verwys na "die Walen".
Terminologie
[wysig | wysig bron]Die presiese betekenis van die term Wallonië hang oor die algemeen van die konteks af waarin dit gebruik word. Die Belgiese grondwet verwys steeds na een van die drie gemeenskappe, geweste en taalgebiede van België as "Waalse Gewes". Die plaaslike regering het die gewes nogtans hernoem as Wallonië - die naam waaronder dit in die algemene omgangstaal bekend staan.[8]
Voor 1 April 2010 - die datum waarop die naam van die gewes amptelik gewysig is - het die term "Wallonië" soms na die gebied verwys wat deur die Waalse Gewes geadministreer word, terwyl "Waalse Gewes" in ander gevalle spesifiek na die regering verwys het. Die verskil tussen die twee betekenisse is in die praktyk nogal klein, en die konteks, waarbinne dit gebruik word, verduidelik die spesifieke betekenis daarvan.
Geografie
[wysig | wysig bron]Oppervlakte en bevolking
[wysig | wysig bron]Met sy oppervlakte van 16 901 vierkante kilometer beslaan Wallonië meer as die helfte van die Belgiese grondgebied. Dit sluit die provinsies Waals-Brabant, Hainaut, Liège, Luxemburg en Namur in. Die grootste stede (met meer as 50 000 inwoners) is Charleroi, Liège, Namur, Mons, La Louvière, Mouscron, Seraing, Tournai en Verviers.
Wallonië is landgebonde en dig bevolk. Die amper 3.7 miljoen inwoners maak sowat 'n derde van die totale bevolking van die land uit. Frans is die spreektaal vir die groot meerderheid van die bevolking, met uitsondering van die oostelike kantons, wat 'n Duitssprekende bevolking van sowat 71 000 in die gebied van Eupen, Malmédy en St. Vith het. Die plaaslike dialek, Middelfrankies, is slegs gedeeltelik deur die Middelhoogduitse klankverskuiwing geraak sodat woorde soos dat, Pund, Appel naas machen en ich staan.[9]
Daar bestaan ook 'n Nederlandstalige minderheid in bepaalde dorpe langs die Frans-Nederlandse taalgrens met Vlaandere met die reg op Nederlandstalige fasiliteite.
Administratiewe verdeling
[wysig | wysig bron]Wallonië / die Waalse Gewes is in vyf provinsies verdeel en behels 262 munisipaliteite.
|
Politiek
[wysig | wysig bron]Sedert 13 September 2019 is 'n links-regse kabinet onder leiding van Elio Di Rupo aan bewind.
Hoofstad
[wysig | wysig bron]Namur is die amptelike hoofstad van Wallonië. Hierdie status is nogtans tot die politieke sfeer beperk - daar is geen sentralistiese neigings in die huidige Wallonië nie sodat geeneen van sy groter stede 'n oorheersende rol op 'n bepaalde gebied speel nie. Die Waalse owerheid het gevolglik aan verskillende stede 'n amptelike status as spesiale "hoofstad" gegee waarby Mons as kulturele, Liège (Luik) as ekonomiese, Charleroi as sosiale en Verviers as hoofstad van die Waalse watervoorsiening fungeer. So het die ooreenkomstige administrasies of openbare ondernemings hulle setels in hierdie stede.
Tale en taalbeleid
[wysig | wysig bron]Die Wale praat sedert die 5de eeu Frans of Franse dialekte. Met uitsondering van die mees oostelike dele (die gebied van die Duitssprekende Gemeenskap) is Frans die amptelike taal van Wallonië, en Frans oorheers ook die parlementsdebatte en regeringsake. Nogtans moet alle plaaslike wette ook in 'n Duitse weergawe gepubliseer word en antwoorde aan Duitstalige burgers moet in Duits gegee word.
Die amptelik Franstalige gebied maak oorwegend deel uit van die Waalse taalgebied, en net die mees westelike deel van Wallonië hoort by die Pikardiese taalgebied. Sowel Waals asook Pikardies word deur hulle sprekers dikwels as selfstandige Romaanse tale beskou en word in 'n beperkte mate ook amptelik as streektale erken. Die Waalse taal met sy vier dialekte en Pikardies was tot by die 20ste eeu die omgangstale van die Waalse volk, maar word nou steeds minder gebesig.
Naas Frans- en Duitssprekendes is daar ook 'n klein Vlaamse minderheid. In die munisipaliteite Comines-Warneton (Nederlands: Komen-Waasten), Enghien (Edingen), Flobecq (Vloesberg) en Mouscron (Moeskroen) het Nederlandssprekendes bepaalde taalregte, sogenaamde "fasiliteite". Die "Platduitse" munisipaliteite Baelen (Balen), Plombières (Bleyberg/Bleiberg) en Welkenraedt (Welkenrath/Welkenraat) het sedert 1966 die moontlikheid om dieselfde fasiliteite vir hulle Nederlandstalige bewoners daar te stel, maar tot dusver maak hulle plaaslike owerhede hiervan nog geen gebruik nie.
Die taalgrens met Vlaandere is tussen 1960 en 1971 deur middel van 'n aantal wette vasgelê. In 1963 is 25 oorwegend Franssprekende Vlaamse nedersettings met 'n bevolking van 90 000 by Wallonië ingesluit, terwyl 24 Waalse nedersettings met 23 000 Nederlandssprekende inwoners deel van die gewes Vlaandere geword het.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Voor 1830
[wysig | wysig bron]Ná die verowering van die Belgiese Gallië deur Gaius Julius Caesar is 'n deel van die bevolking geromaniseer; hulle het by hulle Germaanse bure as "Walha" bekend gestaan. Van hierdie woord is die huidige naam "Waal" en "Waals" afgelei. Tydens die Romeinse heerskappy is ook die Romaans-Germaniese taalgrens gevestig - dit het sedertdien min wysigings ondergaan.
Tydens die volgende eeue het die Waalse gebiede eers deel van die Romeinse en vervolgens van die Karolingiese Ryk geword; later is hulle opgesplits in 'n aantal klein vorstedomme wat met mekaar om mag meegeding het. Hulle is in die 15de eeu by die Hertogdom Boergondië en daarna by die Spaanse en Oostenrykse Nederlande ingelyf. Net die Vorstedom Liège het as outonome gewes voortbestaan.
Met die anneksasie deur die Franse Republiek en vervolgens deur die Napoleoniese Keiserryk was die Waalse gebiede tot en met 1815 verenig. Vervolgens het die gebied 'n deel van die Koninkryk van Nederland geword.
Ná 1830
[wysig | wysig bron]Nadat dit in 1830 sy onafhanklikheid van Nederland verkry het, is die Koninkryk van België as 'n eenheidsstaat opgerig - dit was veral Frankryk met sy sentralistiese grondwet en sy kultuur wat as voorbeeld vir die nuwe nasie gedien het. Sy stigters het vir 'n monargiese stelsel gepleit. Aanvanklik is Louis Philippe van Frankryk genader oor die koningskwessie, ná sy weiering ook sy seun - 'n Franse staatshoof is as eerste stap in 'n proses beskou wat uiteindelik tot die vereniging met Frankryk sou kon lei. Hierdie voorneme het net soos die Engelse inmenging waardeur Leopold van Sakse-Coburg, 'n oom van koningin Victoria, as Belgiese koning gekroon is, politieke spanninge tussen Wale en Vlaminge verhoog. Nog vyftig jaar lank het die Franssprekende bevolking vergeefse pogings onderneem om België by Frankryk in te sluit.
Franssprekendes het die Vlaminge in die nuwe koninkryk geleidelik begin oorheers. Charles-Joseph Grandgagnage het in 1844 die term "Wallonië" geskep. Die gedagte van 'n Waalse deelstaat het eers met die groeiende mag van Vlaandere teen die einde van die 19de eeu al hoe meer gewild geraak.
Die Taalwet van 1932 het die eentaligheid van die Waalse en Vlaamse geweste bevestig (behalwe vir die hoofstad Brussel wat tot 'n tweetalige gebied verklaar is). 'n Aantal bykomstige taalwette is in die jare 1962 en 1963 verkondig. Die spanninge tussen die Franse en Vlaamse gemeenskappe het in 1968 'n nuwe hoogtepunt bereik toe die Franssprekende studente en dosente die Vlaamse Universiteit van Louvain (Nederlands: Leuven) verlaat het. Die universiteit is vervolgens in 'n Franse en 'n Nederlandssprekende instelling verdeel.
Die huidige gewes Wallonië is amptelik in 1980 met die hervorming van die Belgiese staat en die begin van die federale staatsbedeling opgerig.
Ekonomiese basis
[wysig | wysig bron]Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Waalse swaar nywerheid, wat onder meer die mynbou en die vervaardiging van yster, metaal en glas insluit, groei baie sterk in die verloop van die 19de eeu, veral in die omgewing van Liège en Charleroi. België word in die tyd die eerste nywerheidsland van die Europese vasteland. Met die onvermydelike agteruitgang van die swaar nywerhede in die 20ste eeu en die eerste sluitings van myne in die jaar 1958, asook die krisis van die yster- en staalbedryf in die volgende jare, neem 'n reeks van moeilike herstrukturerings sy aanvang.
Met die huidige stabilisering van die ekonomie word 'n nuwe groeifase ingelui. Wallonië probeer om voordeel uit sy ligging in die hartland van Europa te trek en steun nou op nuwe tegnologieë.
Ekonomiese basis volgens sektore
[wysig | wysig bron]Vandag werk volgens die statistieke gegewens van die jaar 2001 70,8 persent van die Waalse beroepsbevolking in die tersiêre (dienste-)sektor, 27,4 persent in die nywerheid, energievoorsiening en boubedryf, en net 1,8 persent in die land- en bosbou en vissery.
Bruto geografiese produk en werkloosheid
[wysig | wysig bron]Volgens syfers van die jaar 2002 is die bruto geografiese produk (BGP) van Wallonië 61,582 miljard Euro; die BGP per capita bereik 78,2 persent van die gemiddelde BGP van die destydse 15 lidstate van die Europese Unie. Die werkloosheidsyfer volgens die berekeningsmetode van Eurostat, die statistieke diens van die EU, is in 2003 10,9 persent (teenoor 'n gemiddelde van 8,2 persent vir die 15 lidstate van die EU).
Kuns en kultuur
[wysig | wysig bron]Literatuur
[wysig | wysig bron]Die oorheersende rol, wat Parys in die Franstalige literêre lewe speel, het dit vir skrywers uit Wallonië steeds moeilik gemaak om hul eie kenmerkende identiteit te ontwikkel. Uiteindelik het hulle juis in dié genres uitgeblink waaraan die Franse literêre elite min aandag geskenk het: Albert Mockel (1866–1945) se simbolistiese werke, die speurverhale van Georges Simenon (1909–1989) met hul besondere psigologiese diepgang, die magiese realisme van Franz Hellens (eintlik Frédéric van Ermengem, 1881–1972), surrealistiese werke deur Achille Chavée (1906–1969) en Henri Michaux (1899–1984) en die regionalistiese stroming met Arthur Masson (1896–1970) het die Franstalige literatuur van Wallonië op die internasionale kaart geplaas.
Die moderne Franse literatuur van Wallonië word deur skrywers soos Amélie Nothomb, Jacqueline Harpman, Jean Louvet, Jean-Claude Bologne en François Emmanuel verteenwoordig. Met Maurice Grévisse en Joseph Hanse kom ook twee beduidende grammatici uit Wallonië.
Skildery en beeldhoukuns
[wysig | wysig bron]Waalse kunstenaars het belangrike bydraes tot nuwe kunsstromings gemaak: Robert Campin en Roger de la Pasture (later Rogier van der Weyden) tot die Vlaamse skilderkuns, Joachim Patinir tot landskapskildery, Antoine Wiertz tot die Romantiese skilderkuns, Pierre Paulus tot die Realisme. Ook die Surrealisme het in Wallonië op vrugbare grond geval - met meesterskilders soos René Magritte en Paul Delvaux.
Ook Waalse graveerders soos Félicien Rops en beeldhouers soos Constantin Meunier en Félix Roulin het internasionale bekendheid verwerf.
Musiek
[wysig | wysig bron]Die ryk musikale tradisie van Wallonië strek tot in die 9de eeu terug. Waalse meesters sluit Johannes Ciconia, een van die baanbrekers van polifoniese musiek in die 14de eeu, Josquin des Prés wat musiek en liedteks op 'n innovatiewe manier met mekaar verbind het, en Roland de Lassus, 'n beduidende hoofse Renaissance-musikant.
François-Joseph Gossec en André-Modeste Grétry het later nuwe lewe in die operakuns geblaas; Adolphe Sax het bekendheid verwerf as die uitvinder van die saxofoon; Eugène Ysaye het die bekende Koningin Elisabeth-musiekkompetisie in die lewe geroep; terwyl César Franck, 'n boorling van Luik en befaamde komponis van klassieke musiek, veral bekend staan vir sy simfonie en drie chorale vir orrels.
20ste eeuse musiek in Wallonië word verbind met sangers soos William Dunker, Julos Beaucarne, Pierre Rapsat, Jeff Bodart, Maurane en die groep Sttellla. Musiekfeeste van internasionale betekenis sluit die Rockfees van Dour, die Gaume Jazz Festival, die Jazzfees van Luik, die Francofolies de Spa en baie ander in.
Rolprentbedryf
[wysig | wysig bron]Danksy akteurs en aktrises soos Benoît Poelvoorde, Natacha Régnier en Marie Gillain, asook regisseurs soos Benoît Mariage, Alain Berliner en Gérard Corbiau het die Waalse rolprentkuns ook buite landsgrense gepresteer. Die werk van regisseurs en akteurs is met talle toekennings bekroon - soos die Palme d'Or ("Goue Palm") van die Cannes-rolprentfees vir Emilie Dequenne se Rosetta (onder regie van die Dardenne-broers), die César vir Pasqual Duquenne se Le huitième jour ("Die agste dag") en onlangse pryse wat aan die akteurs Natacha Régnier, Olivier Gourmet en Cécile de France toegeken is.
Strokiesprente
[wysig | wysig bron]Strokiesprente het hul verskyning oorspronklik in Wallonië gemaak[10] - hul hoofkarakters, waaronder Kuifie, die Smurfs, Boule en Bill, Asterix, Natacha, Spirou et Fantasio en ander legendariese helde is danksy die talent van Waalse tekenaars soos Hergé (eintlik Georges Remi, 1907–1983), Morris (eintlik Maurice de Bévère, 1923–2001), André Franquin (1924–1997) en François Walthéry (* 1946) geskep en het by 'n internasionale leserspubliek gewild geraak. Die tydskrif Le Journal de Spirou, die skool van Marcinelle asook die uitgewerye Casterman, Dupuis en Lombard het daartoe bygedra dat strokiesprente van blote vermaak- en ontspanningsliteratuur tot 'n selfstandige kunsvorm ontwikkel het.
Intussen is strokiesverhale een van die mees gelese literêre genres. Hul styl en uitdrukkingsvorm het in die loop van dekades steeds meer diversiteit gekry en sluit intussen wetenskapsfiksie, fantasie elemente, humor, folklore, riller-elemente en romantiese verhale in.
Kunshandwerk en ontwerpkuns
[wysig | wysig bron]Tipiese inheemse kunshandwerk sluit kantwerk, goudsmeekuns, keramiek, brandskilderglas, koper- en tinwerk, glasware en ander in. Enkele stede het 'n ou tradisie van kunshandwerk - so word Andenne met keramiekware, die Cité des Copères met leerprodukte en koperware, Huy met tingoed en Val St-Lambert in Seraing naby Luik met kristalware verbind.
Die mode-ontwerper Olivier Strelli en die hoedmaker Elvis Pompilio het buite België bekendheid verwerf.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Vlaamse overheid - Taalwetwijzer - Wetgeving". vlaanderen.be (in Nederlands). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 April 2020.
- ↑ 2,0 2,1 Bodembezetting volgens het Kadasterregister, Statbel
- ↑ 3,0 3,1 Loop van de bevolking, Statbel
- ↑ Décret du 11 décembre 1986 instituant Namur capitale de la Région wallonne.
- ↑ Décret du 21 octobre 2010 instituant Namur comme capitale de la Wallonie et siège des institutions politiques régionales.
- ↑ Portail de la Wallonie - La capitale. Consulté le 19 juillet 2013 Geargiveer 18 Julie 2013 op Wayback Machine "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Julie 2013. Besoek op 3 September 2017..
- ↑ Stephens, Meic: Minderheiten in Westeuropa. Husum: Matthiesen 1979, bl. 31
- ↑ gouvernement.wallonie.be: Le Gouvernement a décidé de promouvoir le terme « Wallonie » en lieu et place de « Région wallonne »
- ↑ Belgien: Sprachen. In: Lexikon-Institut Bertelsmann: Das moderne Länderlexikon in zehn Bänden. Band 2: Barbados - Dänemark. Gütersloh: Bertelsmann Lexikon Verlag 1979, bl. 20
- ↑ "www.wallonie.be: Culture and art - Comic strips".
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Wallonia. |
- (fr) Amptelike webwerf
- (en) Toerisme-inligting oor Wallonië op Wikivoyage