Wynbou in Chili
Die wynboubedryf in Chili het 'n lang tradisie en trek voordeel uit die besonder gunstige klimaattoestande in die land. Warm temperature bedags en somernagte, waartydens die lug in die wingerde soms tot minder as 10 °C afkoel, is belangrike klimatiese voorvereistes vir Chili se ryk wyne met hulle kenmerkende komplekse smake. Danksy die laer werkkoste het Chili op die wêreldmark reeds 'n strawwe mededinger vir die Franse wynboubedryf geword.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die eerste wingerde in Chili is reeds teen die middel van die 16de eeu deur die Spaanse veroweraars aangelê, waarvoor tipiese Spaanse druiwesoorte soos Albilho, Moscatel, Pais (Negra Peruana) en Torontel gebruik is. Volgens historiese oorlewerings het die Engelse piraat Francis Drake al in 1578 'n Spaanse skip gekaap, wat 1 770 wynsakke van Chili na Peru vervoer het. Waarskynlik is teen hierdie tyd reeds wyn uit Chili uitgevoer.
Die moderne Chileense wynbou het met die immigrasie van Franse wynboere teen die middel van die 19de eeu 'n aanvang geneem. Die Franse het hulle eie druiwesoorte soos byvoorbeeld Cabernet Sauvignon en Chardonnay uit die wynbougebiede van Bordeaux en Boergondië saamgebring. Weens die afgeleë ligging van die land is Chili in die 19de eeu nie deur die Amerikaanse druiweluis geraak nie, wat Europa se oorspronklike druiwesoorte vernietig het. Ook ander plantsiektes soos meeldou kom in Chili steeds nie voor nie, sodat plaaslike wynboere slegs klein hoeveelhede chemikalieë moet gebruik. Ook veredeling van druiwesoorte is hier nie noodsaaklik nie.
Chili se wynuitvoere was in die 1980's net soos die gehalte van sy wyne nog relatief beskeie; in 1985 is wyn ter waarde van slegs VSA-$ 10 miljoen uitgevoer. Maar met die oprigting van 'n reusagtige wyngoed in die Chileense Sentraalvallei het die Spaanse onderneming Miguel Torres in 1981 die hoeksteen vir die land se suksesvolle toetrede tot die wêreldmark van topwyne gelê, en in 1998 het die wynuitvoere reeds VSA-$ 550 miljoen beloop.
Die buitengewone sukses van Chileense wyne het vervolgens 'n aantal bekende beleggers uit die buiteland gelok, waaronder Rothschild, Larose Trintaudon, Grand Manier, Robert Mondavi en die Christian-gebroeders.
Tipiese Chileense wynsoorte
[wysig | wysig bron]Die ou Carménère-druiwesoort uit Bordeaux word as Chili se mees tipiese wynsoort beskou, en die plaaslike wynbedryf is die enigste ter wêreld wat dit grootskaals en op 'n professionele manier verbou. Net soos die druiwesoorte Cabernet Sauvignon, Syrah, Merlot en Pinot Noir word Carménère deur ander lande se wynbedrywe, wat deur siektes gepla is, heringevoer.
Terwyl die Pais in 1985 nog 44 persent van die land se wynbou-oppervlak beslaan het, is sedert die 1990's in toenemende mate druiwesoorte van hoë gehalte aangeplant. Nuwe soorte soos die rooi Syrah, Moscatel Alejandria (witwyn) en die rooiwyn Tintoreras is hierby in Chili ingevoer.
Druiwesoorte volgens die Chileense Departement van Landbou (SAG) in persent | ||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Druiwesoort | 1985 | 1994 | 1995 | 1996 | 1997 | 1998 | 1999 | 2000 | 2001 | 2002 | 2003 | 2004 |
Cabernet Sauvignon | 12,12 | 20,93 | 22,58 | 23,38 | 25,17 | 27,98 | 30,66 | 34,62 | 35,74 | 36,16 | 35,76 | 35,77 |
País (Misión) | 43,77 | 30,12 | 28,09 | 27,28 | 23,98 | 20,48 | 18,11 | 14,61 | 14,09 | 13,78 | 13,58 | 13,26 |
Merlot | 1,49 | 4,43 | 4,97 | 5,77 | 8,51 | 11,16 | 12,02 | 12,35 | 12,05 | 11,76 | 11,70 | 11,54 |
Carménère | 0,00 | 0,00 | 0,00 | 0,00 | 0,52 | 1,55 | 2,70 | 4,54 | 5,05 | 5,35 | 5,49 | 5,75 |
Syrah | 0,00 | 0,00 | 0,00 | 0,03 | 0,32 | 0,75 | 1,19 | 1,96 | 2,05 | 2,16 | 2,24 | 2,45 |
Pinot noir | 0,15 | 0,26 | 0,40 | 0,51 | 0,65 | 0,78 | 0,98 | 1,55 | 1,36 | 1,32 | 1,29 | 1,28 |
Cabernet Franc | 0,00 | 0,00 | 0,00 | 0,03 | 0,10 | 0,18 | 0,37 | 0,66 | 0,77 | 0,80 | 0,84 | 0,94 |
Ander rooiwyne | 5,29 | 3,27 | 3,26 | 3,37 | 3,41 | 3,57 | 4,44 | 5,13 | 5,12 | 5,32 | ||
Rooiwyne totaal | 62,82 | 59,01 | 59,30 | 60,38 | 62,66 | 66,46 | 70,48 | 75,44 | 76,23 | 76,31 | ||
Chardonnay | 0,36 | 7,82 | 8,09 | 8,04 | 8,75 | 8,89 | 8,09 | 7,39 | 7,07 | 6,96 | 6,87 | 6,89 |
Sauvignon Blanc | 7,39 | 11,27 | 11,28 | 11,02 | 10,35 | 8,96 | 7,69 | 6,54 | 6,24 | 6,49 | 6,69 | 6,91 |
Semillon | 9,23 | 5,10 | 4,87 | 4,67 | 3,82 | 3,22 | 2,76 | 1,82 | 1,74 | 1,70 | 1,65 | 1,53 |
Riesling | 0,41 | 0,58 | 0,54 | 0,57 | 0,53 | 0,46 | 0,34 | 0,28 | 0,27 | 0,26 | 0,26 | 0,26 |
Chenin Blanc | 0,03 | 0,19 | 0,19 | 0,17 | 0,15 | 0,14 | 0,11 | 0,07 | 0,05 | 0,05 | 0,05 | 0,07 |
Ander witwyne | 19,76 | 16,04 | 15,72 | 15,15 | 13,73 | 11,87 | 10,54 | 8,47 | 8,41 | 8,03 | ||
Witwyne totaal | 37,18 | 40,99 | 40,70 | 39,62 | 37,34 | 33,54 | 29,52 | 24,56 | 23,77 | 23,69 | ||
Wynbou-oppervlak in ha | 67 132 | 53 093 | 54 392 | 56 003 | 63 550 | 75 388 | 85 357 | 103 876 | 106 970 | 108 569 | 110 096 | 112 056 |
Wynbougebiede
[wysig | wysig bron]Chili strek oor 'n lang afstand in noord-suidelike rigting en behels 'n aantal verskillende klimaatgebiede. Die wynbedryf is gekonsentreer op vier hoofsaaklike wynbougebiede, wat in kleiner streke verdeel word en almal tussen die 30ste en 38ste breedtegraad lê.
- Wynbougebied Coquimbo
- Wynbougebied Aconcagua
- Valle del Aconcagua
- Valle de Casablanca
- Valle de San Antonio
- Wynbougebied Valle Central
- Wynbougebied Valle Sur
- Valle del Itata
- Valle del Bío-Bío
- Valle del Malleco
Maipo, sowat 100 kilometer suid van die hoofstad Santiago de Chile, word as die beste wynbougebied beskou. Die aangrensende Rapel-vallei in die suide lewer rooi topwyne op. In die Région de Maule in Suid-Chili word veral Pais-rooiwyne verbou, terwyl die wynbougebied Casablanca naby die Pasifiese kus die beste witwyne, waaronder Chardonnay en Sauvignn, oplewer.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wyn in die Chileense Departement van Landbou SAG[dooie skakel]