Gaan na inhoud

Vlaandere

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vlaandere
(Vlaanderen)

Vlag

Wapen
Algemene inligting
Land: Vlag van België België
Amptelike tale: Nederlands
Hoofstad: Brussel
Oppervlakte: 13 625,54 km² [1]
ISO 3166-2: BE-VLG
Amptelike webwerf: vlaanderen.be
Bevolking
Bevolking (totaal): 6 774 807 [2] (1 Januarie 2023)
Bevolkingsdigtheid: 497/km²
Instellings
Federasie: 1993
Regeringsvorm: Parlementêre demokrasie
Eerste Minister: Jan Jambon (N-VA)
Volkslied: De Vlaamse Leeuw
(Die Vlaamse Leeu)
Ligging
Vlaamse Gewes
Waalse Gewes
Brusselse Hoofstedelike Gewes
Vlaamse Gemeenskap
Franse Gemeenskap
Duitstalige Gemeenskap

Vlaandere (Nederlands: Vlaanderen [ˈvlaːndərə(n)] , Frans: Flandre, Duits en Luxemburgs: Flandern, Wes-Vlaams: Vloandern, Limburgs: Vlaondere, Waals en Pikardies: Flande) is die naam van 'n graafskap uit die Middeleeue. Die graaf van Vlaandere was 'n leenman van die koning van Frankryk.

In die huidige Belgiese konteks kan Vlaandere na die volgende verwys:

  • die Vlaamse Gemeenskap: een van België se drie gemeenskappe (naas die Franse en die Duitssprekende gemeenskap) wat bevoegdhede ten aansien van onderwys en kulturele sake in die Nederlandse taalgebied van België en - saam met die Franse Gemeenskap - in die tweetalige gewes Brussel-Hoofstad uitoefen;
  • die Vlaamse Gewes: een van drie geweste van België as federale staat (naas die Gewes Brussel-Hoofstad en die Waalse Gewes of Wallonië) wat die noordelike deel van die land beslaan;
  • die politieke instellings van daardie gewes: die Vlaamse parlement, die Vlaamse regering en die Vlaamse administrasie;
  • Vlaandere: die Belgiese provinsies Oos- en Wes-Vlaandere; die Nederlandse streek Zeeuws-Vlaanderen en Frans-Vlaandere (wat in afsonderlike artikels behandel word).

Geografie en klimaat

[wysig | wysig bron]

Antwerpen, Gent, Brugge en Leuven is die grootste stedelike gebiede in die Vlaamse Gewes. Antwerpen - die grootste stad in Vlaandere - het 'n bevolking van 539 000 in 2023 gehad, gevolg deur Gent 'n bevolking van 268 000, Brugge met 120 000 en Leuven met 103 000. Brussel is 'n deel van Vlaandere wat gemeenskapssake betref, maar maak nie deel uit van die Vlaamse Gewes nie.

Vlaandere het 'n gematigde seeklimaat met reën dwarsdeur die jaar. Die gemiddelde temperatuur is 3 °C in Januarie en 21 °C in Julie, met gemiddelde neerslae van 65 millimeter in Januarie en 78 millimeter in Julie.

Demografie

[wysig | wysig bron]

Bevolkingssamestelling en identiteit

[wysig | wysig bron]
Vlaamse Gemeenskap

Vlaandere (amptelik die Vlaamse Gewes) het 'n bevolking van amper 6.8 miljoen (2023). Die Nederlandssprekende minderheid in Brussel word op sowat 237 000 beraam. Die bevolkingsdigtheid van Vlaandere beloop 497 inwoners per km². Gewoonlik word na die bewoners van Vlaandere as Vlaminge verwys. As gevolg van die federalisering van België en die samesmelting van Vlaamse instellings word alle Belgiërs, wat in die Vlaamse Gewes woonagtig is, en bowendien ook alle Vlaamse inwoners van Brussel (dit wil sê bewoners van die Gewes Brussel-Hoofstad wat hulself as Vlaminge definieer), as Vlaminge beskou. Daar bestaan egter nie so iets soos 'n Vlaamse nasionaliteit nie.

Vlaamse Gewes

Daar is mense wat die term "Vlaming" liewer in 'n nouer sin gebruik en slegs na bewoners van die provinsies Oos- en Wes-Vlaandere as "Vlaminge" verwys. In Belgiese Frans is dus die term flandrien geskep om spesifiek na bewoners van dié twee provinsies te verwys.

Die term "Vlaming" kan - in 'n taalkundige konteks - ook gebruik word om na Belgiërs te verwys wat by voorkeur Nederlands of een van die Vlaamse dialekte as hul huistaal praat. Daarnaas is daar ook etniese minderhede in Vlaandere, waaronder Jode (met 'n verskeidenheid huistale, waaronder Jiddisj), 'n Franssprekende minderheid, en minderhede van immigrante uit lande en gebiede soos Nederland, Frankryk, Pole, Roemenië, Italië, Spanje, Portugal, Noord-Afrika (Marokko), Turkye, Iran en Afghanistan. Altesaam is daar ongeveer 170 nasionaliteite in Vlaandere.

Baie Vlaminge beskou hulself as 'n aparte volk wat oor sy eie media, onderwysinstellings, politieke partye, wetenskaplike en kulturele verenigings beskik en waarvan die geskiedenis verder terugstrek as in die tyd toe België as federale staat geherorganiseer is. Die term "Vlaminge" verwys dus ook na die hele Vlaamse gemeenskap (in die sosiologiese, politieke en kulturele sin van die woord) met sy eie politieke instellings (parlement en regering) wat ook in die Belgiese grondwet as Vlaamse Gemeenskap erken word.

Die taalstryd en ander kwessies veroorsaak steeds spanninge tussen die Nederlands- en Franssprekende gemeenskappe van België. So word die status van Brussel, wat amptelik tweetalig is, maar ondanks sy kosmopolitiese en meertalige karakter nogtans deur 'n meerderheid Franssprekendes bewoon word, betwis. Nederlandssprekende bewoners van Brussel beskik oor hul eie openbare dienste en geriewe - 'n voorreg wat uit Brussel-Hoofstad se status as derde gewes van België voortspruit.

Vlaandere is besig om 'n demografiese verskuiwing na 'n ouer bevolking te maak, met meer afgetredenes en minder mense van 'n werkersouderdom.

Administratiewe indeling

[wysig | wysig bron]

Vlaandere / die Vlaamse Gewes is in vyf provinsies verdeel en behels 300 munisipaliteite.

Provinsies van Vlaandere
Provinsie Hoofstad Inwoners
(begin 2023) [2]
Oppervlakte
(km²) [1]
Inwoners
per km²
1 Antwerpen Antwerpen 1 911 000 2 876 664
2 Limburg Hasselt 0895 000 2 427 369
3 Oos-Vlaandere Gent 1 561 000 3 007 519
4 Vlaams-Brabant Leuven 1 187 000 2 118 561
5 Wes-Vlaandere Brugge 1 220 000 3 197 382
Totaal 6 775 000 13 626 497

Onafhanklik van die provinsies beskik die Gewes Vlaandere oor sy eie plaaslike instellings in Brussel-Hoofstad: die Vlaamse Gemeenschaps-Commissie (VGC) en sy munisipale takke (Gemeenschapscentra - gemeenskapsentrums vir die Vlaamse gemeenskap van Brussel). Hierdie instellings bestaan onafhanklik van die opvoedkundige, kulturele en sosiale instellings wat onder die gesag van die Vlaamse regering val. Hulle oefen onder meer kulturele bevoegdhede uit wat buite Brussel deur die provinsies behartig word.

Politiek

[wysig | wysig bron]
Die Vlaamse parlement in Brussel

Die Vlaamse Gewes en die Vlaamse Gemeenskap beskik oor hul eie parlement en regering. Die Vlaamse parlement met 124 afgevaardigdes word elke vyf jaar verkies. Vlaandere, met Brussel as sy administratiewe setel, het wetgewende en uitvoerende gesag ten opsigte van sowel binne- asook buitelandse sake. Hierdie bevoegdhede sluit onder meer ekonomie, buitelandse handel, gesondheidssorg, energievoorsiening, huisvesting, land- en tuinbou, omgewingsake, infrastruktuur en vervoer, mannekrag en arbeidsmark, kultuur, onderwys, wetenskap en innovasies in.

Op baie terreine geniet Vlaandere outonomie, en sy instellings is nie ondergeskik aan die federale regering in Brussel nie. Bevoegdhede is tussen die gewestelike en federale vlak verdeel sodat hulle nie oorvleuel nie. Vir elke politieke sfeer is daar gevolglik net een instelling en wetgewer.

Danksy die staatshervorming van 1993 kan die Vlaamse regering ten opsigte van sy binnelandse bevoegdhede ook ooreenkomste met buitelandse instellings sluit. Die Vlaamse Gewes beskik daarnaas oor sy eie diplomatieke verteenwoordiging in die buiteland en meer as honderd verteenwoordigings van ondernemings, landbou en toerisme wat handelsbetrekkinge met die buiteland bevorder.

Sedert 2 Oktober 2019 is 'n sentrumregse kabinet onder leiding van Jan Jambon aan bewind.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
'n Terminaal in die Antwerpse hawe

Vlaandere het al vroeg 'n beduidende rol in die Europese ekonomie begin speel. So het die florerende middeleeuse lakennywerheid van Vlaandere een van die welvarendste gebiede in Europa gemaak.

Danksy die groot steenkoolvelde is veral die suidelike buurgebied Wallonië deur die nywerheidsomwenteling in die 19de eeu geraak, terwyl die industriële ontwikkeling in Vlaandere hoofsaaklik tot Gent beperk was. Anders as in die suide met sy mynbou en swaar nywerhede het hier veral tekstielfabrieke ontstaan. Daarnaas kon Vlaandere nog voordeel trek uit handel en seevaart, maar is in ekonomiese opsig deur 'n toenemende agterstand teenoor die Franssprekende Wallonië gekenmerk.

Eers met die agteruitgang van mynbou en swaar nywerhede in die tweede helfte van die 20ste eeu het Vlaandere sy agterstand uiteindelik uitgewis en 'n leidende ekonomiese rol binne die Belgiese staat begin speel. Terwyl Wallonië steeds strukturele veranderings ondergaan en onder 'n relatief hoë werkloosheidsyfer gebuk gaan, trek Vlaandere voordeel uit 'n goed ontwikkelde dienstesektor, sy groot voorraad aan hoogs opgeleide en meertalige mannekrag, hoë produktiwiteit, buitelandse beleggings en 'n uitstekende infrastruktuur, met moderne snelweë, waterweë, spoorlyne en die seehawens van Antwerpen en Zeebrugge. Intussen het ook chemiese en ruolie-, motor-, diamante- en metaalnywerhede hulle hier gevestig.

Die gebied het 'n hoëtegnologie-ekonomie ontwikkel wat vir sy burgers hoë lewenstandaard verseker.

Vlaandere het in Wes-Europa 'n gewilde toeristebestemming geword. Gholf, hengel, fietsry, staptoere, noem maar op—Vlaandere bied omtrent alles wat die buitelug-mens verlang.

Kuns en kultuur

[wysig | wysig bron]

Vlaandere het baie bekende skilders. Bekende meesters is onder meer Jan van Eyck, Pieter Bruegel die Ouere, Peter Paul Rubens, Antoon Van Dijck, James Ensor, Rik Wouters, Roger Raveel, Luc Tuymans en Michaël Borremans.

Sakrale kuns en tradisies

[wysig | wysig bron]
Heilig-Bloed-prosessie in Brugge

Al speel die Christelike geloof vir die meeste Vlaminge intussen 'n minder belangrike rol, is dit nogtans in hulle kultuur gewortel. So is Vlaandere ryk aan sakrale boukuns en kunsskatte van hoë gehalte wat die vroeëre invloed van die Katolisisme weerspieël. Maar ook vandag lok kerkfeeste nog besoekers.

Abdye was een van pilare van die Rooms-Katolieke geloof. In Vlaandere is kloosters veral deur die Norbertyne-, Sistersiënser- en Benediktyne-orde gestig. Die ledetal van monastieke orde het weliswaar gekrimp, maar die meeste kloosters word steeds deur monnike en nonne bewoon. Hulle is dikwels kundige bierbrouers of kaasmakers en bied hul produkte ook vir die publiek te koop aan.

Naas die ordes het ook die sogenaamde begijnenhoven 'n beduidende rol in die maatskaplike lewe van die middeleeue gespeel. Begijnen was ongetroude vroue wat in 'n soort kloostergemeenskap saamgewoon het, maar nie verplig was om selibaat le leef nie en hul begijnhof te eniger tyd kon verlaat. Volgens middeleeuse maatstawe was begijnhoven 'n progressiewe konsep in die godsdienstige lewe. Begijnhoven met hul kenmerkende boustyl kan nog dwarsdeur Vlaandere aangetref word.

Groot Begijnhof in Leuven

Gedurende die 16de eeu was Vlaandere een van die Europese streke wat deur die Rooms-Katolieke Kerk se teenreformatoriese beweging geraak is. In hierdie tydperk is orals in die land pragtige kerkgeboue opgerig wat vir gelowiges die almagtigheid van God sou verduidelik - dikwels ook met kunswerke wat deur meesters soos Peter Paul Rubens of van Eyck geskep is en steeds in hulle oorspronklike omgewing besigtig kan word.

Die historiese tradisies van Katolisisme sluit ook in Vlaandere talle prosessies in. Die grootstes hiervan is 'n demonstrasie van die volksgeloof, en gewoonlik verbind hulle godsdienstige en geskiedkundige tradisies en soms selfs bygelowe in. Groot straatoptogte soos die jaarlikse Heilig-Bloedprosessie in Brugge of Hasselt se Virga-Jesse-fees, wat elke sewe jaar gevier word, lok duisende besoeker en het lankal volksfeeskarakter gekry.

Bedevaartsorde is in die Rooms-Katolieke tradisie dikwels plekke wat met 'n bonatuurlike verskyning verbind word. Twee sulke plekke word ook in Vlaandere aangetref. In Scherpenheuvel is reeds in die middeleeue 'n eikeboom vereer wat aan die Jonkvrou Maria gewy is en waaraan gelowiges wonderlike geneeskrag toegeskryf het. Dadizele het danksy 'n reeks Maria-verskynings tot 'n beduidende bedevaartsoord ontwikkel.

Vlaamse Feesdag

[wysig | wysig bron]
'n Feesdagbanier.

Die feesdag van die Vlaamse Gemeenskap, ook bekend as die Vlaamse feesdag, is die amptelike feesdag van Vlaandere en 'n nie-amptelike feesdag in Frans-Vlaandere wat op 11 Julie gevier word.[3] Op die Vlaamse feesdag en die dae daarrondom organiseer verskillende stede en munisipaliteite verskillende vieringe, volksfeeste en optredes. Die plaaslike regering en inwoners hang die Vlaamse vlag oral op. Die Vlaamse regering reik ook op hierdie dag die Eretekens van die Vlaamse Gemeenskap aan verdienstelike Vlaamse burgers uit.[4]

Die Guldensporenslag van 1302.

Die Vlaamse feesdag herdenk die Guldensporenslag wat op 11 Julie 1302 plaasgevind het. Die slag was die gevolg van die Vlaamse Opstand, 'n konflik tussen die graafskap van Vlaandere en die koninkryk van Frankryk. Militêre magte van Vlaamse stede en munisipaliteite het 'n weermag van Franse ridders te perd op die Groeningekouter ('n kouter is 'n hoogliggende oop gebied) naby Kortrijk verslaan. Die Vlaamse milisies het hoofsaaklik bestaan uit 'n burgerweermag van vakmanne en boere. Die naam Guldensporenslag,[5] is afkomstig van die vele goue metaalspore wat na die geveg op die Groeningekouter gevind is.

Tydens die Vlaamse feesdag is Vlaamse simboliek sentraal. Die Vlaamse leeu as simbool gaan terug na die grafte van Vlaandere in die 12de eeu. Die Vlaamse Leeu as lied het in dieselfde romantiese tydgees as Hendrik Consciences se roman ‘De Leeuw van Vlaanderen’ ontstaan.[6] In 1973 word die amptelike simbole van Vlaandere vir die eerste keer deur die Nederlandse Kultuurgemeenskap (voorloper van die Vlaamse owerheid) erken. Die amptelike Vlaamse simboliek is die Vlaamse vlag, die wapenskild van Vlaandere, die volkslied en die feesdag van die Vlaamse Gemeenskap.[7]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Bodembezetting volgens het Kadasterregister, Statbel
  2. 2,0 2,1 Loop van de bevolking, Statbel
  3. "Vlaamse feestdag ook in Frankrijk gevierd". Radio 1. 1 Julie 2011. Besoek op 8 Julie 2022. {{cite web}}: Onbekende parameter |archiefdatum= geïgnoreer (hulp); Onbekende parameter |archiefurl= geïgnoreer (hulp)
  4. "Ereteken van de Vlaamse Gemeenschap 2021". www.vlaanderen.be. Besoek op 8 Julie 2022. {{cite web}}: Onbekende parameter |archiefdatum= geïgnoreer (hulp); Onbekende parameter |archiefurl= geïgnoreer (hulp)
  5. Nieuwsblad, 11 juli - officiële feestdag van de Vlaamse Gemeenschap, 11 juli 2013. Gearchiveerd op 7 juli 2023.
  6. beheerder. "Symbolen kort". Vlaanderen Feest. Besoek op 8 Julie 2022. {{cite web}}: Onbekende parameter |archiefdatum= geïgnoreer (hulp); Onbekende parameter |archiefurl= geïgnoreer (hulp)
  7. "Vlaamse Symbolen | Vlaams Parlement". www.vlaamsparlement.be. Besoek op 8 Julie 2022. {{cite web}}: Onbekende parameter |archiefdatum= geïgnoreer (hulp); Onbekende parameter |archiefurl= geïgnoreer (hulp)

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]