Gaan na inhoud

Gevlekte ooruil

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur Arnwalt (besprekings | bydraes) op 19:02, 1 Julie 2009 (Inligting bygevoeg)

Gevlekte Ooruil
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Bubo

Temminck, Coenraad Jacob, 1821
Spesie:
Bubo africanus
Binomiale naam
Bubo africanus

Die Gevlekte Ooruil is 'n roofvoël van mediumgrootte met die kenmerkende "oortjies" van 'n ooruil en groot geel oë. Hulle is die kleinste van die ooruilspesies. Hierdie uile is die mees algemene uil wat in 'n groot verskeidenheid van habitatte voorkom - hulle het goed aangepas by die mens en is algemeen in beboude gebiede en in menslike nedersettings.

Algemene beskrywings

Identifikasie

Hierdie spesie is van mediumgrootte met die kenmerkende "ore" van die groep ooruile. In werklikheid is dit verepluise wat so regop staan – die uil se ore is onder die verekleed bedek en laer af langs die kop. Hulle word tussen 43 en 47 cm groot en kan tot 700g weeg. Die mannetjie is effe groter as die wyfie – verder is daar geen seksuele dimorfisme nie. Die bek en neusvrat is swart en die vere op hulle bene is wit. Hierdie uilspesie se pote is grys-bruin. [2] Daar is twee kleurvariasies in hierdie spesie. Die normale vorm is grys op die bokant met ylverspreide wit vlekke op die vlerke. Aan die onderkant is hulle wit, met fyn grys strepies wat ook op die bene en pote sigbaar is. Kenmerkende bruin vlekke kom op die bors voor (die Kaapse Ooruil het groot vlekke op die bors en is baie growwer gestreep oor die pensdeel as die Gevlekte Ooruil). Die oë van die Gevlekte Ooruil is geel (en die subspesie wat noord van die ewenaar voorkom het bruin oë, terwyl die Kaapse Ooruil oranje oë het). Die uile met die kleurvariasie is raar en het 'n rooibruin kleur in plaas van die grys op die bokant – hulle oë is oranje eerder as geel. Die Gevlekte Ooruil se pote is kleiner as dié van die Kaapse Ooruil – 'n onderskeidende kenmerk in die veld. Onvolwasse voëls lyk dieselfde as die ouers, maar hulle "oortjies" is korter en die strepies op die pens is swarter van kleur. Kuikens is bedek met wit donsvere en later word hulle donse gryser totdat hulle vere begin uitgroei.[3][4]


Ander name

  • Engelse naam: Spotted Eagle-owl
  • Wetenskaplike naam: Bubo africanus - "Bubo" (Lat) is waarskynlik 'n klanknabootsende naam en "africanus" (Lat) dui daarop dat hierdie uil "van Afrika" is.

Verspreiding en habitat

Hierdie spesie kom wydverspreid voor in sub-Sahara Afrika, uitgesonderd in die digste beboste gebiede en die droogste woestyndele. [5] Hierdie uilspesie kom ook voor op die Arabiese skiereiland. Noord van die ewenaar word die spesie vervang met die subspesie Bubo africanus cinerascens [2] - hulle word gekenmerk deur die groot bruin oë in plaas van die geel oë van die nominale spesie[5] (Sien eksterne skakels hieronder vir volledige verspreidingkaarte.)

Habitat

Gevlekte Ooruile kom in 'n groot verskeidenheid van habitatte voor. Hulle is lief vir rotsagtige gebiede wat grens aan grasvlaktes en struikagtige gebied. Hulle sal in bosveld, savanna, semi-woestyn en ook selfs op die rand van woudgebiede voorkom. Hierdie spesie het baie goed aangepas by menslike bedrywighede en sal daarom dikwels in beboude gebiede (dorpe en stede) en rondom plaasopstalle voorkom. [5][3][2]


Verwysings

  1. IUCN 2009. Bubo africanus. IUCN Red List of Threatened Species. Version 2009.1. <www.iucnredlist.org>. Besoek op 29 June 2009.
  2. 2,0 2,1 2,2 Hockey, PAR, Dean, WRJ, Ryan PG (eds), 2005, Roberts - Birds of Southern Africa, VIIth ed. Cape Town: The Trustees of the John Voelcker Bird Book Fund. ISBN 0620340533.
  3. 3,0 3,1 Roberts' Multimedia Birds of Southern Africa, Version 3.3, (sa). Westville: Southern African Birding cc.
  4. Sinclair, I, Hockey, P & Tarboton, W. 2002. Sasol Birds of Southern Africa. 3rd Edition. Cape Town: Struik Publishers. ISBN 1868727211.
  5. 5,0 5,1 5,2 Kemp, A & Kemp, M, 2006. Birds of Prey of Africa and its islands. Cape Town: Struik Publishers. ISBN 1770073698

Eksterne skakels

Sien ook