Gaan na inhoud

'n Duitse Requiem (Brahms)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Ein deutsches Requiem
'n Duitse dodemis
Komposisie vir soliste, koor en orkes deur Johannes Brahms
Die komponis rondom 1866
Afrikaans’n Duitse dodemis volgens die Woorde van die Heilige Geskrifte
Volledige titelEin deutsches Requiem, nach Worten der heiligen Schrift
TeksUit die Lutherse Bybel, asook ander apokriewe boeke
TaalDuits
Gekomponeer1865–1868
Bewegingssewe
PartituurPage Sjabloon:Hlist/styles.css has no content.
  • sopraan
  • bariton
  • gemengde koor
  • orkes

Ein deutches Requiem, op. 45 deur Johannes Brahms is 'n grootskaalse werk vir sopraan- en baritonsoliste, koor en orkes wat van 1865 tot 1868 gekomponeer is. Dit bestaan uit sewe bewegings, wat saam 65 tot 80 minute lank duur. Dit is dus Brahms se langste komposisie. Ein deutsches Requiem is gewyd, maar is nie liturgies nie, en anders as 'n lang tradisie van die Roomse requiem, is hierdie werk (soos die titel aandui) 'n dodemis in Duits.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Brahms se moeder is in Februarie 1865 oorlede – 'n verlies wat hom baie diep getref het en hom heel moontlik besiel het om Ein deutsches Requiem te komponeer. Brahms se voortslepende gevoelens oor Robert Schumann se dood in Julie 1856 het dalk ook daartoe bygedra, hoewel sy terughoudendheid oor sulke sake dit onseker maak.[1]

Sy oorspronklike idee was vir 'n werk van ses bewegings: Dié bewegings is die huidige bewegings I tot IV en VI tot VII.[2] Teen die einde van April 1865 het Brahms bewegings I, II en IV voltooi. Beweging II bestaan uit musiekmateriaal wat Brahms reeds voorheen in 1854 gebruik het maar uiteindelik laat vaar het. 1854 was 'n ontstuimige jaar vir Brahms: Dit was die jaar waarin Schumann sy senu-ineenstorting gehad het en selfmoord probeer pleeg het, waarna Brahms na Düsseldorf verhuis het om Clara Schumann en haar jong kinders te ondersteun.[1]

Brahms het teen Augustus 1866 al die bewegings voltooi, buiten wat nou beweging V is.[3] Johann Herbeck het op 1 Desember 1867 beweging I tot III in Wene uitgevoer. Dié gedeeltelike première het sleg afgeloop weens 'n misverstand in die keteltrompartituur. Seksies wat as fortepiano (hard en dan onmiddellik daarna sag) gemerk is, is as forte (hard) of fortissimo (baie hard) gespeel, wat in wese die res van die ensemble in die fuga van die deel III verdring het.[4] Die eerste uitvoering van die ses bewegings het ses maande later op Goeie Vrydag 10 April 1868 in die Bremen-katedraal plaasgevind, met Brahms as dirigent en Julius Stockhausen as die baritonsolis.[3] Die optrede was 'n groot sukses en het 'n keerpunt in Brahms se loopbaan gemerk.[1]

In Mei 1868 het Brahms 'n bykomende beweging gekomponeer, wat die vyfde beweging in die finale werk geword het. Dié nuwe beweging, vir sopraansolis en koor, is vir die eerste keer op 12 September 1868 in Zürich deur Ida Suter-Weber gesing, met Friedrich Hegar wat die Tonhalle Orchestre Zürich gedirigeer het. Die finale sewebewegingweergawe van Ein deutsches Requiem het op 18 Februarie 1869 in Leipzig gepremière, met Carl Reinecke wat die Gewandhaus-orkes en -koor gedirigeer het. Emilie Bellingrath-Wagner en Franz Krückl was die soliste.[3]

Brahms het die libretto self saamgestel. In teenstelling met die tradisionele Rooms-Katolieke dodemis, wat 'n gestandaardiseerde teks in Latyn gebruik, is die teks aan die Duitse Lutherse Bybel ontleen.

Brahms se eerste bekende gebruik van die titel Ein deutsches Requiem was in 'n brief van 1865 aan Clara Schumann, waarin hy geskryf het dat hy bedoel het dat die stuk "eine Art deutsches Requiem" (letterlik "'n soort Duitse requiem") sou wees. Brahms was redelik ontroer toe hy jare later uitvind dat Robert Schumann ook 'n werk met dieselfde naam beplan het.[1] Die woord "Deutsch" verwys na die taal eerder as die beoogde gehoor. Brahms het aan Carl Martin Reinthaler, musiekleier by die Bremen-katedraal, gesê dat hy die werk met graagte Ein menschliches Requiem (letterlik "'n menslike requiem") sou wou noem.[5]

Hoewel die dodemis in die Rooms-Katolieke liturgie met gebede vir die dooies begin – "Requiem aeternam dona eis Domine" (Afrikaans: "Gee hulle ewige rus, o Heer") – fokus Ein Deutsches Requiem op dié wat nog lewe, want dit begin met die teks: "Selig sind, die da Leid tragen, denn sie sollen getröstet werden" (Afrikaans: "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word") uit die saligsprekinge. Hierdie tema – die oorgang van angs na troos – keer in al die daaropvolgende dele terug, buiten in deel IV en VII (die sentrale en laaste deel). Hoewel die Here die bron van die troos is, word simpatieke humanisme deur die werk volgehou.[5]

Brahms het enige Christelike dogma doelbewus weggelaat.[6] In sy korrespondensie met Carl Reinthaler – nadat Reinthaler kommer hieroor uitgespreek het – het Brahms geweier om verwysings na "die verlossende dood van die Here" by te voeg (soos Reinthaler dit beskryf het), byvoorbeeld Johannes 3:16. In die Bremen-uitvoering van Ein deutsches Requiem het Reinthaler die vrymoedigheid geneem om die aria "I know that my Redeemer liveth" uit Händel se Messias in te voeg om die geestelikes tevrede te stel.[7]

Instrumentasie

[wysig | wysig bron]

Benewens die sopraan- en baritonsolis en gemengde koor is Ein deutsches Requiem georkestreer vir:

  • houtblasers – piccolo, 2 fluite, 2 hobo's, 2 klarinette, 2 fagotte en kontrafagot (ad libitum)
  • koperblasers – 4 horings, 2 trompette, 3 trombone en tuba
  • slagwerk: keteltromme
  • strykers en harp (een, maar verkieslik verdubbel)
  • orrel (ad libitum)

Struktuur

[wysig | wysig bron]

Sedert Brahms die vyfde beweging ingevoeg het, toon die werk simmetrie rondom die vierde beweging, wat die "lieflike wonings" van die Here beskryf.

Bewegings I ("Selig sind, die da Leid tragen") en VII ("Selig sind die Töten") begin albei met "Selig sind" (letterlik "Geseënd is"), geneem uit die saligsprekinge van die Bergpredikasie (in beweging I) en uit Openbaring (in beweging VII). Hierdie twee stadige bewegings deel ook musikale elemente, veral in hul eindes.

Bewegings II ("Denn alles Fleisch, es ist wie Gras") en VI ("Denn wir haben hie keine bleibende Statt") is albei dramaties. Beweging II handel oor die verbygaande aard van die lewe; beweging VI handel oor die opstanding van die dooies, wat vertel word as 'n geheim oor 'n verandering.

Bewegings III en V word albei deur die solis ingelui. In beweging III vra die bariton: "Herr, lehre doch mich." Sy woorde word verskeie kere deur die koor herhaal, wat die persoonlike gebed meer algemeen maak. In beweging V sing die sopraan en koor verskillende tekste, wat egter tog by mekaar aansluit. In teenstelling met Barok-oratoriums sing die soliste geen arias nie, maar is deel van die struktuur van die bewegings.

Byna alle bewegings, met die uitsondering van IV en VII, maak gebruik van meer as een Bybelvers, wat van lyding en rou tot vertroosting lei. Die laaste woord van die werk is dieselfde as die eerste: "Selig" ("geseënd").

Bewegings

[wysig | wysig bron]

Die tabel hier onder is volgens beweging opgestel, en dan binne 'n beweging volgens die aanhalings uit die Bybel (waar toepaslik), wat oor die algemeen ook 'n verandering in stemming veroorsaak. Die tabel dui ook die verskillende tempo's en toonaarde aan. Die titel van elke beweging is vetgedruk. Die koor is deurgaans vierstemmig, met 'n paar enkele uitsondering in 'n paar akkoorde. Die koor word nie spesifiek in die tabel gemeld nie omdat dit regdeur die werk teenwoordig is. Die Afrikaans vertaling is op die Duits gebaseer ne geen spesifieke Afrikaanse Bybelvertaling nie. Brahms het vir sommige onderafdelings Duitse tempo- en interpretasieinstruksies gegee en geprobeer om meer presies te wees as die algemene Italiaanse tempoaanduidings.


Titel Solo Toonaard Tempo Tydsaanduiding Bron Translation
I  
Selig sind, die da Leid tragen F-majeur Ziemlich langsam und mit Ausdruck

(Redelik stadig en uitdrukkingsvol)
4/4 Matteus 5:4 Geseënd is dié wat hartseer verduur.
Die mit Tränen säen, werden mit Freuden ernten D-mol-majeur Psalm 126:5–6 Wie met trane saai, sal met vreugde oes.
Selig sind, die da Leid tragen F-majeur Geseënd is dié wat treur.
II  
Denn alles Fleisch, es ist wie Gras B-mol-mineur Langsam, marschmäßig

(Stadig, soos 'n mars)
3/4 1 Petrus 1:24 Want alle vlees is soos gras.
So seid nun geduldig G-mol-majeur Etwas bewegter

(Met 'n bietjie meer beweging)
Jakobus 5:7 Wees dan nou geduldig.
Denn alles Fleisch, es ist wie Gras B-mol-mineur Tempo I Want alle vlees is soos gras.
Aber des Herrn Wort bleibet in Ewigkeit B-mol-majeur Un poco sostenuto 1 Petrus 1:25 Maar die woord van die Here bly vir ewig.
Die Erlöseten des Herrn werden wiederkommen Allegro non troppo 4/4 Jesaja 35:10 Dié wat die Here verlos het, sal terugkeer.
Freude, ewige Freude Tranquillo Vreugde, ewige vreugde
III  
Herr, lehre doch mich Bariton D-mineur Andante moderato 4/4 Psalm 39:4 Here, leer my tog.
Ach, wie gar nichts Bariton 3/2 Psalm 39:5–6 Ag, vir niks ...
Ich hoffe auf dich D-majeur Psalm 39:7 U is my hoop.
Der Gerechten Seelen sind in Gottes Hand 4/2 Wysheid van Salomo 3:1 Die siele van die regverdigdes is in die hand van God.
IV  
Wie lieblich sind deine Wohnungen E-mol-majeur Mäßig bewegt

(Gematigd opgewek)
3/4 Psalm 84:1, 2, 4 Hoe lieflik is u wonings, Here!
V  
Ihr habt nun Traurigkeit Sopraan G-majeur Langsam

(Stadig)
4/4 Johannes 16:22 Julle treur nou.
Ich will euch trösten Jesaja 66:13 Ek sal julle vertroos.
Sehet mich an Sopraan B-mol-majeur Sirag 51:27 Kyk na my!
Ich will euch trösten Ek sal julle vertroos.
Ihr habt nun Traurigkeit Sopraan Julle treur nou.
Ich will euch trösten G-majeur Ek sal julle vertroos.
VI  
Denn wir haben hie keine bleibende Statt C-mineur Andante 4/4 Hebreërs 13:14 Want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie.
Siehe, ich sage euch ein Geheimnis Bariton F-kruis-majeur 1 Korintiërs 15:51–52 Kyk, ek vertel vir julle 'n geheim.
Denn es wird die Posaune schallen C-mineur Vivace 3/4 1 Korintiërs 15:52 Want die trompet sal weerklink.
Dann wird erfüllet werden Bariton 1 Korintiërs 15:54 Dan sal vervul word:
Der Tod ist verschlungen in den Sieg 1 Korintiërs 15:54–55 Die dood is is in die oorwinning verslaan.
Herr, du bist würdig C-majeur Allegro 4/2 Openbaring 4:11 Here, U is waardig.
VII  
Selig sind die Toten F-majeur Feierlich

(Plegtig)
4/4 Openbaring 14:13 Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.
Ja, der Geist spricht, daß sie ruhen A-majeur Ja, sê die Gees, hulle sal rus van hulle arbeid.
Selig sind die Toten F-majeur Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.

Opmerklike orkestrasieontwerpe sluit in die weglating van eerste en tweede viole in die eerste beweging; die gebruik van 'n piccolo, klarinette, een paar horings, trompette, 'n tuba en keteltromme regdeur die werk; en die gebruik van harpe aan die einde van sowel die eerste as sewende bewegings – die treffendste in laasgenoemde geval, omdat hulle op daardie stadium nog nie sedert die middel van die tweede beweging gehoor is nie.

Ein deutsches Requiem word komposisioneel verenig deur 'n drienootmotief van 'n interval van 'n majeurderde, gewoonlik gevolg deur 'n halwe interval in dieselfde rigting. Die eerste blootgestelde koorintrede bied dié motief in die sopraanstem (F–A–B-mol). Hierdie motief kom gereeld in elke beweging en in baie van die tematiese materiaal in die stuk voor.[8]

Kritiese ontvangs

[wysig | wysig bron]

Die meeste kritici het kommentaar gelewer op die uitstekende vakmanskap wat die werk kenmerk, en het die byna klassieke strukture daarvan op prys gestel (die tweede, derde en sesde bewegings het elkeen 'n fuga in hul hoogtepunte). Tog het nie alle kritici die werk gunstig ontvang nie. George Bernard Shaw, 'n geswore Wagner-ondersteuner, het geskryf dat die werk slegs vanuit die eersteklasbegrafnisondernemer se perseel kon kom. Sommige kommentators was ook verbaas oor die gebrek aan voor-die-hand-liggende Christelike inhoud, hoewel dit duidelik blyk dat dit vir Brahms 'n humanistiese eerder as 'n Christelike werk was.[4]

Weergawes en verwerkings

[wysig | wysig bron]

Brahms self het in 1866 'n verwerking vir klaviersolo van die sesbewegingweergawe van die werk gedoen, wat hy oor Kersfees van dieselfde jaar aan Clara Schumann gewys het.[9]

Brahms het later ook 'n alternatiewe weergawe van die volle sewebewegingweergawe van die werk voorberei. Omdat dié weergawe deur 'n klavierduet begelei word, bied dit 'n aanvaarbare plaasvervangerbegeleiding vir koor en soliste in omstandighede waar 'n volle orkes nie beskikbaar is nie. Die vokale dele kan ook weggelaat word, wat daarop dui dat dit ook bedoel was as 'n selfstandige weergawe – waarskynlik vir tuisgebruik. Die alternatiewe weergawe is op 10 Julie 1871 gebruik (maar in Engels gesing) vir die eerste volledige Britse uitvoering van dié werk by Wimpolestraat 35 in Londen, die tuiste van sir Henry Thompson en sy vrou, die pianis Kate Loder, Lady Thompson. Die pianiste was Kate Loder en Cipriani Potter.[10] Dié weergawe vir klavierduet het later as die Londense Weergawe (in Duits die Londoner Fassung) bekendheid verwerf.[11]

'n Verwerking van die eerste beweging vir konsertorkes deur Barbara Buehlman, getiteld "Blessed Are They", is vir baie jare al 'n standaarddeel van dié ensemble se repertoire.

Noemenswaardige opnames

[wysig | wysig bron]

Sien 'n lys van noemenswaardige opnames van Brahms se Ein deutsches Requiem hier.

In ander werke

[wysig | wysig bron]

Ein deutsches Requiem het die titels van Jorge Luis Borges se 1949-kortverhaal Deutsches Requiem en Philip Kerr se 1991-roman A German Requiem geïnspireer.

Die begin van die stuk se tweede beweging ("Denn alles Fleisch, es ist wie Gras") word gebruik in die openingskrediete van die BBC se dokumentêre filmreeks The Nazis: A warning from history. Verskeie dele van hierdie beweging word ook vir die slotkrediete gebruik.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Steinberg, M. 2005. Johannes Brahms: A German Requiem ..., Op. 45. Choral Masterworks: A Listener's Guide. [1] Oxford University Press, bl. 69. ISBN 978-0-19-512644-0
  2. McCorkle, M.L. 1990. In Bozarth, G.S. (Ed.). Brahms studies: Analytical and historical perspectives. Oxford: Clarendon, bl. 306–307. ISBN 0-19-311922-6.
  3. 3,0 3,1 3,2 Steinberg, M. 2005. Johannes Brahms: A German Requiem ..., Op. 45. Choral Masterworks: A Listener's Guide. [1] Oxford University Press, bl. 68. ISBN 978-0-19-512644-0
  4. 4,0 4,1 Thuleen, N. 1998. Ein deutsches Requiem: (Mis)conceptions of the Mass. Beskikbaar by http://www.nthuleen.com/papers/415brahms.html. Geraadpleeg op 13 Oktober 2023.
  5. 5,0 5,1 Steinberg, M. 2005. Johannes Brahms: A German Requiem ..., Op. 45. Choral Masterworks: A Listener's Guide. [1] Oxford University Press, bl. 70. ISBN 978-0-19-512644-0
  6. Zebrowski, A. 2002. Brahms' German Requiem. In Sunrise Magazine, Augustus/September 2002. Theosophical University Press. Beskikbaar by https://www.theosophy-nw.org/theosnw/arts/ar-azeb.htm. Geraadpleeg op 13 Oktober 2023.
  7. McGrade, M. 2007. "Blessed Are They That Mourn": Notes on Brahms' German Requiem. In State of the Arts 3(2): 7. Brandeis University.
  8. Steinberg, M. 2005. Johannes Brahms: A German Requiem ..., Op. 45. Choral Masterworks: A Listener's Guide. [1] Oxford University Press, bl. 71–74. ISBN 978-0-19-512644-0
  9. Swafford, J. 1999. Johannes Brahms: a Biography. Londen: Macmillan, bl. 311. ISBN 0-333-59662-5.
  10. Musgrave, M. 1987. Brahms 2: Biographical, documentary, and analytical studies. Volume 2. Cambridge: Cambridge University Press, bl. 6. ISBN 0-521-32606-0.
  11. Gramophone. 1997. "Brahms Ein deutsches Requiem, Op. 45 (London version)". Gramophone. Haymarket: 92. Junie 1997. Die oorspronklike is geargiveer op 1 Augustus 2012. Beskikbaar by https://archive.ph/20120801201356/http://www.gramophone.net/Issue/Page/June%201997/92/824216/47. Geraadpleeg op 13 Oktober 2023.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • McGrade, M. 2007. 'Blessed Are They That Mourn', Notes on Brahms' German Requiem. "State of the Arts" (PDF)., vol. 3, no. 2, Winter/Lente 2007, bl. 7.
  • Steinberg, Michael (2005). "Johannes Brahms: A German Requiem ..., Op. 45." Choral Masterworks: A Listener's Guide. [1] Oxford University Press. ISBN 978-0-19-512644-0
  • Thuleen, Nancy (1998). "Ein deutsches Requiem: (Mis)conceptions of the Mass." Website Article. 2 April 1998.
  • Zebrowski, Armin (2002). "Brahms' German Requiem" Sunrise magazine, August/September 2002, Theosophical University Press.

Verdere leeswerk

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]