Gaan na inhoud

Boodskapperstaf

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vir die verkeerde gebruik van die boodskapperstaf as ’n mediese simbool, sien Boodskapperstaf as mediese simbool
Vir die mediese simbool met een slang, sien Staf van Asklepios
’n Moderne uitbeelding van die caduceus as simbool van die handel.
Hemres met ’n boodskapperstaf met vlerke in sy linkerhand (Museo Pio-Clementino, Rome).

Die boodskapperstaf of caduceus[1] (Latyn: cādūceus, van die Griekse κηρύκειον kerukeion, "staf") is die staf wat Mercurius in die Griekse mitologie en Hermes in die Romeinse mitologie gedra het. Die staf is ook deur ander boodskappers gedra, soos deur Iris, die boodskapper van Hera. Dit is ’n kort staf wat deur twee slange omstrengel word; dit het soms vlerke. In mitologiese ikonografie word dit dikwels vasgehou in die linkerhand van Mercurius, die boodskapper van die gode, gids van die afgestorwenes en beskermer van handelaars, herders, dobbelaars, leuenaars en diewe.[2] Dit word ook die Hermesstaf of Mercuriusstaf genoem.

Volgens sommige weergawes is die oudste bekende beelde van die boodskapperstaf van Mesopotamiese oorsprong: Die Sumeriese god Ningishzida het so ’n staf gedra wat dateer van 4000-3000 v.C.[3]

As ’n simboliese voorwerp verteenwoordig dit Hermes/Mercurius, en dus ook handel, beroepe of ondernemings wat met dié god te doen het. In die latere oudheid was die staf die basis van die astrologiese simbool van die planeet Mercurius. Dit verteenwoordig ook kwik (Engels: mercury). Daar word beweer die staf sal die slapendes wakker maak en dié wat wakker is aan die slaap maak. As dit op sterwendes gebruik is, was hul dood sag; as dit op afgestorwenes gebruik is, het hulle lewend geword.[4]

Die boodskapperstaf word dikwels verkeerdelik gebruik as simbool van die mediese beroep en gesondheidsorganisasies weens ’n verwarring met die tradisonele mediese simbool, die Staf van Asklepios, wat net een slang en geen vlerke het nie.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die boodskapperstaf as sterrekundige simbool.
Iris met die boodskapperstaf op ’n rooifiguurpot, middel 5de eeu v.C. (Agrigento, Sisilië).

Die Homeriese lofsang aan Hermes vertel hoe Hermes sy lier van skilpaddop aan Apollo aangebied het om op te maak vir beeste wat hy van sy halfbroer gesteel het. Apollo het in ruil vir Hermes die boodskapperstaf gegee as ’n gebaar van vriendskap.[5] Die verbintenis met die slang verbind Hermes aan Apollo, nes die slang later verbind is met Asklepios, die "seun van Apollo".[6] Die verbintenis van Apollo met die slang kom van die mite oor die god wat Piton, die slang by Delphi, doodgemaak het.[7]

’n Ander Griekse mite oor die oorsprong van die staf is deel van ’n storie oor Tiresias,[8] wat op twee slange afgekom het wat besig was om te paar. Hy het die wyfie met sy staf doodgemaak. Tiresias het dadelik in ’n vrou verander en het een gebly totdat hy sewe jaar later ook die mannetjie kon doodmaak. Die staf en sy herskeppende kragte het later in Hermes se besit gekom.

Volgens nog ’n mite het Hermes/Mercurius twee slange gesien wat in ’n geveg verstrengel was. Hy het sy staf gebruik om hulle te skei en so vrede tussen hulle bewerkstellig, en daarna is die staf met twee slange beskou as ’n teken van vrede.[9]

Ikonografie

[wysig | wysig bron]

In sommige vaastekeninge lyk die Griekse kerukeion effens anders as die gewone moderne uitbeeldings. Die twee slange kom bo-op die staf voor en kruis mekaar om ’n sirkel te vorm. Die slange se koppe lyk soos twee horings. Dié ou vorm, met ’n bykomende dwarsbalk, vorm vermoedelik die basis van die simbool vir die planeet Mercurius () wat sedert die laat oudheid in Griekse sterrekunde gebruik word.[10]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Caduceus" in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig).
  2. Hornblower, Spawforth, The Oxford Classical Dictionary, third ed., Oxford 1996, p. 690 f.
  3. Gary Lachman, "The Quest for Hermes Trismigestus", 2011, Hoofstuk 3, bl. x.
  4. William Godwin (1876). "Lives of the Necromancers". p. 37.
  5. Tyson 1932:494.
  6. Deldon Anne McNeely Mercury rising: women, evil, and the trickster gods, Spring Publications, 1996, ISBN 978-0-88214-366-8, bl. 90.
  7. S. Davis (wat W.H. Roscher aanhaal, Omphalos (1913)). Argeiphontes in Homer – The Dragon-Slayer, Greece & Rome Vol. 22, No. 64 (Februarie 1953), ble. 33–38. JSTOR 640827.
  8. Blayney, Keith (September 2002). "The Caduceus vs the Staff of Asclepius" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2019. Besoek op 15 Junie 2007.
  9. Tyson 1932:495
  10. "Signs and Symbols Used In Writing and Printing", bl. 269, in Webster's New Twentieth Century Dictionary of the English Language, unabridged, New York, 1953.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]