Barbaryse Oorloë
Die Barbaryse Oorloë was ’n reeks konflikte wat gelei het tot twee oorloë tussen die Verenigde State, Swede en die Barbaryse state (Marokko en die Ottomaanse Ryk, insluitende Tunis, Algiers en Tripoli) van Noord-Afrika vroeg in die 19de eeu. Die Swede was sedert 1800 in ’n oorlog met Tripoli betrokke; die Amerikaners het eindelik by hulle aangesluit.[1]
Die Barbaryse seerowers het heffings van die Amerikaanse handelskepe in die Middellandse See geëis. As ’n skip nie betaal het nie, het die seerowers dit aangeval, sy voorraad gesteel en dikwels die bemanningslede vir ’n losprys gevange geneem. Toe Thomas Jefferson in 1801 president van die VSA word, het hy geweier om heffings te betaal en ’n vloot na die Middellandse See gestuur.
Oorloë
[wysig | wysig bron]Die Eerste Barbaryse Oorlog (1801-1805) het plaasgevind tydens die bewind van Thomas Jefferson. Toe hy in 1801 president van die VSA word, het hy geweier om verder heffings te betaal, want dit het teen dié tyd ’n vyfde van die regering se jaarlikse begroting uitgemaak.[2]. ’n Amerikaanse vloot is op 13 Mei 1801 na die hawe van Tripoli gestuur, waar een skip, die Philadelphia, gestrand het. Die bemanning is gevang en slawe gemaak.
Die ander skepe het verskeie gefortifiseerde seerowerstede in die hedendaagse Libië, Tunisië en Algerië gebombardeer, en eindelik toestemming van hulle gekry om deur hul gebiedswater te vaar.
James Madison, Jefferson se opvolger, het militêre magte vir die Tweede Barbaryse Oorlog (1815) opgekommandeer, kort ná die beëindiging van die Anglo-Amerikaanse Oorlog van 1812 met die Verdrag van Ghent. Dit het finaal ’n einde gebring aan Amerika se betaling van heffings.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Woods, Tom. "Presidential War Powers: The Constitutional Answer". Libertyclassroom.com. Besoek op 9 Julie 2014.
- ↑ Fremont-Barnes, Gregory The Wars of the Barbary Pirates, Londen: Osprey, 2006 bl. 36-37
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Barbaryse Oorloë.