Gaan na inhoud

Daar kom die Alibama

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Daar Kom die Alibama
Die CSS Alabama.
Die CSS Alabama.
Genre  Afrikaanse volksmusiek
Woorde  Tradisioneel
Melodie  SA volkswysie
Verwerking  Chris Lamprecht
Portaal  Portaalicoon   Musiek

Daar kom die Alibama is 'n bekende tradisionele Afrikaanse liedjie. Dit is in die FAK-sangbundel opgeneem as lied 257. Volgens sommige bronne strek die liedjie se geskiedenis terug na omstreeks 1863, en het hy oorspronklik na die oorlogskip, die CSS Alabama, verwys.[1][2] In die Kaapse volksmond, het die Alabama egter die Alibama geword.

In die Amerikaanse Burgeroorlog was die CSS Alabama deel van die Gekonfedereerde State van Amerika se vloot, maar in plaas daarvan dat hy direk teen die Noordelike oorlogsvloot ingespan is, het hy eerder die oseane deurkruis op soek na Noordelike handelskepe. Hy was uiters suksesvol hiermee, en deur die handelskepe te kaap het hy wêreldberoemdheid verwerf. Sy faam is deels daaraan toegeskryf dat die skip nie die bemanning van verowerde skepe leed aangedoen het nie, en hulle weer vrygelaat het sodra dit 'n neutrale hawe aangedoen het. In 1863 en in 1864 het dit die Kaapse hawe aangedoen, onder meer vir vars voorraad, maar ook om van sy gebuite skepe te verkoop.[3] Die liedjie sou dan tydens hierdie besoeke ontstaan het.

Ander herkoms van liedjie aangetoon

[wysig | wysig bron]

Die bogenoemde is die bekende, mees populêre verklaring. En dit word steeds vir evangelie vertel, hoewel die skrywer Lawrence G. Green ná grondige navorsing reeds in 1967 daarop gewys het dat die lied 'n veel nederiger herkoms het – in sy boek On Wings of Fire, wat hier afgelaai kan word.[4] Die teks word aangedui as kopieregvry (in die openbare domein).

In die 1800's, vertel Green, was daar 'n rivierboot op die Bergrivier in die Boland waar dekriet en matjiesgoed geoes is. Die rivierboot is die Alabama (Alibama) genoem. Een keer per jaar het die Alibama se werkers met hul vrag riete op die Bergrivier afgevaar see toe, en daar links koers gekies op die golwe om reguit na Kaapstad-hawe te vaar.

In die hawe is hulle deur wewers ingewag wat een soort riet sou gebruik om bruidsbeddens vir die Kaap se gretige Maleise bruide te vleg. En op die hawe is daar gesing: "Daar kom die Alibama … die Alibama die kom oor die see ..."

Dit verklaar duidelik waarom daar in die refrein van die lied na 'n nooi en 'n rietkooi verwys word -- wat natuurlik op aarde niks te doen kan hê met 'n befaamde oorlogskip uit die Amerikaanse Burgeroorlog nie.

Tog word die oorlogskip-legende lewend gehou, nie die minste nie deur mense in die Amerikaanse staat Alabama self, waar dit as 'n bewys beskou word van die blywende invloed van die Amerikaanse Burgeroorlog tot in die uithoeke van die wêreld. En die jeug daar sing steeds lustig aan ons "oorlogsliedjie", min wetende dat dit eerder sou kon inpas in 'n romantiese blyspel in die beste tradisie van 'n Rodgers en Hammerstein![5]

Woorde

[wysig | wysig bron]

Die FAK-sangbundel[6] dui die liedjie se woorde soos volg aan:

Daar kom die Alibama, die Alibama die kom oor die see.
Daar kom die Alibama, die Alibama die kom oor die see.
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak,
die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap.
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak,
die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap.
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see.
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see.

Daar kom die Alibama, die Alibama die kom oor die see.
Daar kom die Alibama, die Alibama die kom oor die see.
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see.
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. [1][dooie skakel] Sons of Confederate Veterans
  2. [2] Civil War Navy Sesquicentennial
  3. [3] militaryhistory.about.com
  4. [4] On Wings of Fire by Lawrence Green, 1967, passasie op bl. 201/202.]
  5. [5] Meisies, vermoedelik van die Amerikaanse staat Alabama, sing op YouTube in Afrikaans oor die Alibama, maar spreek dit "Alabama" uit.
  6. Woorde op fak.org.za