Gaan na inhoud

Kirby van der Merwe

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kirby van der Merwe
Gebore1957
Paarl, Wes-Kaap
BeroepSkrywer, kunstenaar
NasionaliteitVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Noemenswaardige werkeSy skryfwerk
Noemenswaardige toekenningsEugène Maraisprys (2023)
Kinders3
OuersRosa (moeder)

Kirby van der Merwe is 'n Suid-Afrikaanse skrywer en is in 1957 in die Paarl gebore as een van ses kinders.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Kirby van der Merwe[1] is in 1957 in die Paarl gebore as een van ses kinders. Hy word op hierdie dorp groot en begin hier skoolgaan. Sy ma, Rosa, is 'n kleremaker en vroeg reeds leer hy by haar kos maak en tuinmaak, waardeur hy 'n verbondenheid met die aarde ontwikkel wat later ook in sy skryfwerk neerslag vind. Op tienjarige ouderdom verhuis die gesin na Franschhoek vir twee jaar, waarna hulle terugtrek Paarl toe. Hier skryf hy sy matriek aan die Noorder Paarl Hoërskool en studeer dan vir 'n jaar kuns aan die Michaelis-kunsskool, waarna hy as onderwyser kwalifiseer aan die Hewat Opleidingskollege in Kaapstad.

Vir lank is hy 'n kunsonderwyser en gee ook onderrig in tale en biologie, waarna hy hom as redaksielid aansluit by die tydskrif Insig in Kaapstad,[2] waar hy assistent-boekeredakteur is en artikels en resensies doen en onderhoude voer. In 2002 wen hy die M-Net-beurs vir Skeppende Skryfwerk[3] vir M.A.-graad studies aan die Universiteit van Kaapstad, wat hy onder leiding van Etienne van Heerden voltooi. Hierna sluit hy aan by die redaksie van Huisgenoot en word dan 'n redakteur van By, die bylae tot Beeld, terwyl hy steeds artikels lewer vir Boeke-Insig. As bekroonde skilder lê hy hom ook toe op die pottebakkerskuns, beeldhouwerk en kabinetmakery. In 2001 onderneem hy 'n reis na Indonesië om te gaan kyk hoe die land van oorsprong van baie van die Kaapse bruin mense lyk en besoek onder andere die eiland Bali.

Hy is 'n stigterlid en vir 'n ruk lid van die bestuur van die Afrikaanse Skrywersvereniging en dien ook in die redaksie van Tydskrif vir Letterkunde.[4] Verder sluit hy aan by die Pretoria tak van die internasionale skrywersvereniging, PEN, wat hoofsaaklik Afrikaanse skrywers verteenwoordig. In 2000 neem hy by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees deel aan Die Burger se lesingreeks “Hoekom trek die kinders van apartheid hul skouers op?” Hierin doen hy 'n beroep op voorheen agtergeblewenes om nie agterryers van die wit skrywers se taalstryd te word nie, maar om hul eie stories oor apartheid te skryf en 'n eie boekebedryf te vestig. In 2012 bied hy as deel van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) 'n slypskool in kreatiewe joernalistiek met die tema “ 'n Kirby-plan” aan, waarin hy gefokus het op die skryf van artikels en rubrieke. Hy woon eers in Kuilsrivier maar verhuis dan na Johannesburg. Hy was voorheen getroud en is die vader van drie dogters.

As kunstenaar ontvang hy in 1998 'n merieteprys in die Bellville-Kunsvereniging se Nuwe handtekeninge Kompetisie vir kunstenaars wat nog nie voorheen uitgestal het nie en in 2000 is hy die wenner van die beeldhouwerk-afdeling van hierdie kompetisie. As joernalis wen hy ook verskeie pryse. In 2004 word hy bekroon met 'n Mondi-toekenning vir sy artikel “Terug na Brandfort” wat in Insig verskyn het. In 2001 is hy op die kortlys vir 'n soortgelyke toekenning met sy artikel “As mense diewe word” in Insig, in 2003 met “Paraat! In Dainfern” en in 2005 weer met “Die baba wat agtergebly het”. Beeld ken die beskrywende artikel van die jaar toekenning in 2007 aan hom toe vir sy beskrywing van die reis na Zimbabwe en terug wat hy in 'n taxi onderneem het. In Augustus 2007 is hy een van vyf Suid-Afrikaners wat uitgenooi word om deel te neem aan Diversity is Power, die Literatuurfees in Suriname. Die ATKV[5] bekroon hom in 2009 met 'n Mediaveertjie in die kategorie Ondersoekende Joernalistiek vir sy artikel “Die swart en wit van Swartruggens” wat in By verskyn het. Hy wen dieselfde toekenning in 2010 vir sy artikel in By getiteld “So waai die wind in Richmond” na aanleiding van die Boekbedonnerdfees op hierdie dorp en in hierdie jaar is hy ook die naaswenner van Media24 se glansartikel-joernalis van die jaar toekenning. In 2014 word hy genooi na die Winternachtenfees in Nederland tydens die Week van de Afrikaanse roman.

In 2023 word die Eugène Maraisprys aan hom toegeken vir sy roman Eugene.

Skryfwerk

[wysig | wysig bron]

Hy begin eers skryf nadat hy as jong kunstenaar kennis maak met Onrus se mense soos Uys Krige en Jan Rabie en hy skryf dan sy eerste gedig in 1993. Sy skryfwerk omvat verskeie genres. So is hy by geleentheid 'n finalis vir Radiosondergrense se radiodramawedstryd met “Vis en vlees” en vir De Kat-Human & Rousseau se Vonkfiksiewedstryd met “Brand”. Van sy gedigte word in “Nuwe stemme I”,[6]Groot verseboek” en “Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte” opgeneem.

Sy prosadebuut maak hy met die roman “Klapperhaar slaap nie stil nie”,[7] wat handel oor Kinta Januarie, 'n begaafde meisie wat uit die strikke van die sukkelbestaan op die Kaapse Vlakte probeer ontsnap en haar eie pad begin loop.[8] Sy word 'n regsgeleerde wat die grens oorgesteek het na 'n groter wêreld, maar steeds verbonde is aan die een waaruit sy kom.[9] By haar pa se sterfbed word sy gedwing om bestek op te neem van haar eie lewe en dié van haar mense. Sy vind by die hospitaal meer oor haar pa uit by die besoeker, sy kleintyd vriend Hans Brink, as wat sy ooit voorheen van hom geweet het. Langs sy sterfbed maak sy ook kennis met Gustav van As, die jong wit dokter wat haar pa versorg. Die boek skets 'n realistiese prentjie van die dilemma van vandag se jong, opgevoede bruin mense in Suid-Afrika wat na beter streef, maar dan agterkom dat sy of haar familie nie daardie pad met hom of haar kan of wil loop nie en dan verskeur word tussen twee wêrelde.[10] Kirby is 'n finalis in De Kat en Human & Rousseau se Vonkfiksie-wedstryd.[11] Van sy verhale word opgeneem in die bundels “Die stukke wat ons sny” en “Vonkfiksie”.

As vertaler is hy onder meer verantwoordelik vir die oorsit van Carol Campbell se “My children have faces” na Afrikaans as “Karretjiemense”,[12] Chris van Wyk se “Eggs to lay, chickens to hatch” as “Daar’s 'n hoender wat 'n eier nie kan lê” en Zoë Wicomb se “October” as “Oktobermaand”. Carol Campbell se “Esther’s house” vertaal hy as “ 'n Huis vir Ester”.[13] Twintig jaar lank wag Ester Gelderblom al op 'n huis. In Oudtshoorn se sner­pende winter gaan kyk sy en haar vriendin Katjie elke jaar om te sien of hulle name dalk dié keer op die regering se lys van nuwe huiseienaars verskyn. Korrupsie beduiwel egter alles en vir omkoopgeld en seksuele gunsies manipuleer amptenare die behuisingskema se waglyste. Toe Katjie se blyplek afbrand, neem die twee vroue die reg in eie hande en beset twee leë huise. So sit Ester en Katjie 'n reeks gebeure aan die gang wat alles kosbaar in hul lewe sal bedreig. Dit is 'n verhaal oor gierigheid en mag en die stryd om geregtigheid wanneer goeie mense besluit genoeg is genoeg.

Publikasies

[wysig | wysig bron]
  • 1999 – Klapperhaar slaap nie stil nie

Vertalings

[wysig | wysig bron]
  • 2011 – Daar’s 'n hoender wat 'n eier nie kan lê – Chris van Wyk
  • 2013 – Karretjiemense – Carol Campbell
  • 2014
    • Oktobermaand – Zoë Wicomb
    • 'n Huis vir Ester – Carol Campbell

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. LitNet ATKV-Skrywersalbum 20 Mei 2014: http://www.litnet.co.za/kirby-van-der-merwe/
  2. Amoraal, Lezel Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2003/03/08/BY/02Ak/02.html
  3. Norval, Roline Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2000/05/04/7/6.html Geargiveer 22 April 2016 op Wayback Machine
  4. Van Wyk, Steward Universiteit van die Wes-Kaap: http://repository.uwc.ac.za/xmlui/handle/10566/1191
  5. Anoniem “ATKV ver(v)eer Beeld-man vir rubriek” “Beeld” 25 April 2009
  6. Nuwe stemme 1 Hambidge, Joan “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 35 no. 2, Mei 1998
  7. Klapperhaar slaap nie stil nie Olivier, Fanie “Beeld” 3 Januarie 2000
  8. Black, Marguerite Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/mond/kirby.asp Geargiveer 7 September 2014 op Wayback Machine
  9. Dido, E.K.M. Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2000/03/22/10/3.html
  10. Nieuwoudt, Stephanie Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2000/03/28/3/10.html
  11. Wasserman, Herman Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2000/05/11/4/11.html
  12. Karretjiemense – Carol Campbell De Beer, Erika “Beeld” 25 Maart 2013
  13. 'n Huis vir Ester – Carol Campbell Du Toit, Elsabé “Beeld” 17 November 2014 Lategan, Herman “Rapport” 14 Desember 2014
  14. Wasserman, Herman Die Burger:http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2000/03/13/4/12.html

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]