Gaan na inhoud

Jan van Riebeeck-standbeeld

Koördinate: 33°55′10″S 18°25′33″O / 33.91944°S 18.42583°O / -33.91944; 18.42583
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Jan van Riebeeck-standbeeld in Kaapstad.
Die standbeeld op sy oorspronklike staanplek aan die onderpunt van die Heerengracht, 1916.

Die standbeeld ter ere van Jan van Riebeeck staan langs die Maria van Riebeeck-standbeeld in die Heerengracht in Kaapstad. Albei beelde staan met hul rug na die see en kyk in die rigting van Tafelberg (suid).

Hierdie beeld is 'n skenking van Cecil John Rhodes aan die stad Kaapstad. Hy het die Skotse beeldhouer John Tweed die reuse som van £1000 vir die beeld betaal. Een voorwaarde was dat Tweed se naam nêrens op die beeld mag verskyn nie en dat die beeld groter as lewensgroot moes wees. Daarby staan die beeld op 'n voetstuk van Kaapse graniet van 4¼ m hoog wat ontwerp is deur 'n argitek waarmee Tweed bevriend was. Dit het die koste verder opgestoot.

Op 18 Mei 1899 is die bronsbeeld onthul deur burgemeester T. Ball in die teenwoordigheid van die volle Kaapstadse stadsraad, politici en lede van die publiek, maar in die afwesigheid van Rhodes, wat op daardie tydstip in Europa was.

Rhodes het die plek aangewys waar die standbeeld moes staan en dit was waar aanvaar is Van Riebeeck voet aan wal gesit het. Weens die ontwikkeling van die hawe en die groei van die stad het die beeld weens die wolkekrabbers sleg te lê gekom. Mettertyd is die Heerengracht ontwikkel met 'n groot verkeersirkel en in 1969 is die beeld van Maria de la Queillerie regs van haar man staangemaak.

Daar bestaan geen prent van Van Riebeeck waarvan met alle sekerheid gesê kan word dat dit 'n afbeelding is van die stigter van die verversingspos aan die Kaap nie. In die beeld is Van Riebeeck se swaard in die skede en het hy sy kierie in die regterhand. Die kleredrag in die beeld is nie heeltemal korrek nie. Oorhangende skouerstukke was in die middel van die 17de eeu reeds uit die mode. Na Van Riebeeck se vertrek na Java het die kniebroek en die styl van sy baadjie eers gewild geword. Vere op die hoed was juis toe in die mode, maar dit ontbreek in die beeld.

Voorheen het daar elke jaar op 6 April, Van Riebeeckdag of Stigtersdag, 'n kranslegging by die beelde van Jan en Maria van Riebeeck plaasgevind.

In sy gedig "Oor monnemente gepraat" sê Peter Blum:

hier's Jan van Riebeeck, bakgat aangetrek

in sy plus-fours; ....

In die munisipale kantore in Culemborg is 'n borsbeeld van Van Riebeeck. Dit is 'n geskenk deur die stadsraad van Kaapstad.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

33°55′10″S 18°25′33″O / 33.91944°S 18.42583°O / -33.91944; 18.42583