Gaan na inhoud

München-ooreenkoms

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Adolf Hitler vergesel Neville Chamberlain by die Hotel Dreesen na sy motor, na die afhandeling van samesprekings in Godesberg op 23 September 1938.

Die München-ooreenkoms was 'n verdrag tussen Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Nazi-Duitsland en Italië oor die toekoms van Tsjeggo-Slowakye. Die verdrag is op 30 September 1938 gesluit by die Konferensie van München waar Tsjeggo-Slowakye nie self teenwoordig was nie. Met die verdrag is die aggressiewe anneksasie deur Adolf Hitler van die Tsjeggiese Sudetenland deur die grootmagte aanvaar. Die verdrag was bedoel om vrede in Europa te waarborg en is deur die Eerste Minister Neville Chamberlain van die Verenigde Koninkryk as "vrede in ons tyd" beskou. Chamberlain het verwag dat Hitler se anneksasiehonger met Sudetenland sou eindig. Minder as 'n jaar later het Duitsland Pole binnegeval, waarmee die Tweede Wêreldoorlog begin het.

Voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]

Op 12 Maart 1938 het die anneksasie van Oostenryk deur Duitsland (Anschluss) plaasgevind. Dit was in ooreenkoms met die verwagtinge dat Hitler meer lande wou annekseer totdat alle Duitssprekendes in een staat sou woon. Die volgende teiken om hierdie doel te bereik, was Tsjeggo-Slowakye. Hitler stel eise ten opsigte van die Sudetenland, wat in die grensgebied van Bohemië lê. In die Sudeten-gebied, wat sedert die Verdrag van Versailles deel was van Tsjeggo-Slowakye, was daar sowat 2,8 miljoen Volksduitsers. Die gebied bevat ook 'n groot deel van die natuurlike hulpbronne van Tsjeggo-Slowakye, die meeste van die industrie en die hoofverdedigingslinies van die Tsjeggo-Slowaakse weermag. Bohemië en Morawië, die latere Tsjeggiese Republiek, was ook deel van die Heilige Romeinse Ryk. Na aanleiding van Hitler se dreigemente het die Britse, Franse, Italiaanse en Duitse diplomatieke kringe geraadpleeg met die oog daarop om uit die dooie punt te kom en 'n nuwe oorlog te voorkom, deur die sogenaamde paaibeleid.

Op 20 Mei 1938 het Tsjeggo-Slowakye 'n gedeeltelike mobilisering van sy weermag afgekondig. Op 30 Mei het Hitler 'n direktief ingestel wat die militêre operasie Fall Grün amptelik bevestig het. Op 23 September 1938 het die Tsjegge 'n totale mobilisering van hul weermag aangekondig nadat politieke pogings gedreig het om te misluk en hul intelligensie het op 28 September 1938 'n Duitse aanval verwag.

Na die onderhandelinge

[wysig | wysig bron]
Chamberlain, Daladier, Hitler, Mussolini en graaf Galeazzo Ciano

In die diplomatieke spel wat op die Anschluss gevolg het, het Frankryk en die Verenigde Koninkryk vir Tsjeggo-Slowakye opgekom. Hulle het Hitler tot onderhandelings gedwing. Benito Mussolini, wat nie 'n oorlog wou hê nie, het die konferensie voorgestel. Hy het daarin geslaag om die eerste ministers van Frankryk en die Verenigde Koninkryk te oortuig om deel te neem aan 'n konferensie oor Tsjeggo-Slowakye. Uiteindelik het die Führer toegestem en 'n konferensie is in München gehou met die verteenwoordiging van die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Italië en Duitsland, wat uitgeloop het op die München-ooreenkoms. Die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye is nie na die samesprekings genooi nie. Daar is ooreengekom dat Duitsland die Sudetenland, wat op die grens van Tsjeggo-Slowakye met Duitsland geleë was, kon bekom. Die Duitse leër sou op 10 Oktober 1938 die anneksasie / okkupasie van Sudetenland afhandel. In ruil vir Sudetenland het Hitler gesê hy sal afsien van die totale anneksasie van Tsjeggo-Slowakye. Die verdrag is op 29 September 1938 onderteken deur Édouard Daladier, eerste minister van Frankryk, Neville Chamberlain, Britse eerste minister, Benito Mussolini, eerste minister en later diktator van Italië en Adolf Hitler.

Tsjeggo-Slowakye is gekonfronteer met 'n fait accompli. President Edvard Beneš word ingelig dat Frankryk hom nie sal ondersteun nie. Roemenië en Joego-Slawië, bondgenote binne die Klein Entente, het verklaar dat hulle geen verpligtinge teenoor Praag gehad het nie, omdat hierdie alliansie teen Hongarye gerig is en nie teen Duitsland nie. Die Sowjetunie kon nie help as Pole en Roemenië die grense gesluit het nie (die Sowjetunie het nie gegrens aan Tsjeggo-Slowakye nie).

Die Franse en Brittanje het Tsjeggo-Slowakye in kennis gestel dat hulle nie die land sou ondersteun nie; Tsjeggo-Slowakye sou hulself alleen moet verset teen Duitsland of die verdrag aanvaar. Die Tsjeggo-Slowaakse regering het erken dat die land nie 'n kans teen Duitsland gehad het nie en op 30 September 1938 die verdrag onwillig aanvaar. Sudetenland het op 10 Oktober 1938 in Duitse hande oorgegaan. Op die dag wat Tsjeggo-Slowakye ingestem het tot die verdrag (wat hulle 'n diktaat genoem het), het Chamberlain en Hitler, op Chamberlain se inisiatief, 'n vredesverdrag tussen die Verenigde Koninkryk en Duitsland onderteken.

Nabetragting

[wysig | wysig bron]

Duitsland

[wysig | wysig bron]
1. Duitsland beset Sudetenland (Oktober 1938).
2. Pole beset Český Těšín, 'n gebied met 'n Poolse minderheid (Oktober 1938).
3. Hongarye beset 'n deel van die grensgebiede met Tsjeggo-Slowakye en Subkarpatiese Roethenië (sien 4), wat albei 'n Hongaarse minderheid gehad het. Hongarye beweer dit is in ooreenstemming met die Eerste Weense Diktaat.
4. Subkarpatiese Roethenië verklaar hulself onafhanklik en noem hulle  van daardie oomblik Karpato-Oekraïne.
5. In Maart 1939 is die oorblywende gebiede van Tsjeggo-Slowakye ingeneem en satellietstate van Duitsland met die name: Boheme en  Morawiëse Protektoraat.
6. Duitse satellietstaat die eerste Slowaakse Republiek.

Met die anneksasie van die Sudetenland het Hitler selfs meer gewild geword as wat hy reeds was. Honderde duisende het hom in Berlyn ingewag om hom toe te juig na die ondertekening. Hitler self was egter ontevrede. Tydens die onderhandelinge was hy gedwing om op te tree soos 'n diplomaat, iets waarvan hy nie gehou het nie. Vir Chamberlain het Hitler net minagting gevoel. Hy het Chamberlain as 'n outydse demokraat beskryf en nie van daardie tyd nie.

Verenigde Koninkryk

[wysig | wysig bron]

Britse premier Chamberlain het triomfantelik teruggekeer. Hy het geglo dat die verdrag vrede in sy dag beteken het ("vrede vir ons tyd"). Die Britse publiek was verlig. Daar was immers oorlog voorspel. Winston Churchill, wat beweer het dat Brittanje 'n onmiskenbare nederlaag gely het sonder dat daar oorlog gevoer was,[1] is bespot. Chamberlain het gedink dat 'n oorlog voorkom is met die verdrag. Volgens Churchill was Europa egter aan die begin van 'n bitter tydperk. Die Weste sou onderwerp word, het Churchill gesê, tensy mense bereid sou wees om te veg vir vryheid.

Frankryk

[wysig | wysig bron]

Die Franse premier Daladier was meer realisties in dié sin as Chamberlain. Daladier was teen die verdrag maar was gedwing om dit te onderteken. Hy het gedink Hitler wou nie by Sudetenland stop nie. Daladier het in 'n ontmoeting met die Engelse regering in die middel van 1938 gesê dat Hitler se werklike doel nie net is om die Duitssprekende gebiede te beset nie, maar om Europa te oorheers. In Hitler se ambisies het Napoleon se ambisies voorgekom, het Daladier gesê. Daladier was nie entoesiasties oor die München-ooreenkoms nie, en het in die aanloop van die ooreenkoms gesê:

"Nou is dit die beurt van Tsjeggo-Slowakye. Môre sal dit Pole en Roemenië wees. As Duitsland die hulpbronne en geld het wat hulle nodig het, sal hulle na die Weste beweeg. Ons moet alles doen wat moontlik is om oorlog te voorkom , maar dit is slegs moontlik as Engeland en Frankryk saamwerk en albei lande die onafhanklikheid van Tsjeggo-Slowakye beskerm. As ons dit nie doen nie, sal ons uiteindelik in 'n oorlog ingedwing word wat ons met alle mag probeer voorkom."[2]

Daladier is oorreed deur die Britse en sy eie regering om tog met Engeland saam te gaan en die verdrag te onderteken. Die Franse regering het verklaar dat Frankryk nie die finansiële middele gehad het om oorlog te voer nie. Daarbenewens het die Franse nog nie heeltemal van die Eerste Wêreldoorlog bloedbad herstel nie. Daladier het gedink hy het Tsjeggo-Slowakye in die steek gelaat en die verdrag onder druk en teen sy wil onderteken. In Parys het Daladier 'n kwaai skare verwag omdat hy die ooreenkoms tussen Tsjeggo-Slowakye en Frankryk oortree het. Die teenoorgestelde was egter die geval: in Parys is hy verwelkom. Tydens sy ontvangs het hy in vertroue aan sy metgeselle gefluister:

"Die idiote. Hulle besef nie waarvoor hulle juig nie."

Italië

[wysig | wysig bron]

Mussolini het verlig na Rome teruggekeer. Sy beeld het verbeter omdat hy die 'suksesvolle' konferensie voorgestel het en met 'n bietjie geluk sou die oorlog nie vir 'n paar jaar uitbreek nie. Mussolini wou nie regtig 'n oorlog hê nie, ten minste nie voor 1943 nie.

Gevolg

[wysig | wysig bron]

Hitler het die Sudetenland beset. Beneš het bedank, deels omdat hy nie meer oor 'n versnipperde republiek wou heers nie, deels omdat hy vir sy lewe gevrees het. Die ou regter Dr. Emil Hácha is aangewys as president, 'n swak en skugter man. Op die aandrang van Duitsland en Hongarye is die land omskep in die Tweede Tsjeggo-Slowaakse Republiek, 'n soort federasie wat uit Tsjeggië, Slowakye en Subkarpate Roethenië bestaan het. Die Slowake, Hongare en Roetheniers doen alles in hul vermoë om die outonomie van Praag te beperk, ondersteun deur Berlyn, Boedapest en Warskou. Die Pole was onvoldoende bewus daarvan dat hulle self die volgende kon wees. Hulle het voordeel getrek uit die swakheid van Tsjeggo-Slowakye en het die betwiste Český Těšín oorgeneem. Hongarye gebruik ook dieselfde swakheid en beset deel van die grensgebiede met Tsjeggo-Slowakye en Subkarpatiese Roethenië. Die geanekseerde dele van Slowakye is bewoon deur 'n meerderheid Hongaarse bevolking. Die Roethenië-gebied het 'n Hongaarse minderheid gehad. Op 14 Maart 1939 het die Eerste Slowaakse Republiek afgestig en die Karpato-Oekraïne het dieselfde gedoen. Op 15 Maart 1939 het Duitsland die res van Tsjeggië beset, wat in die Boheme en Morawiëse Protektoraat omskep is.

Met hierdie stap het Duitsland die grense van sy Groter-Duitse ruimte oorgesteek na die Lebensraum-gebied. Frankryk en die Verenigde Koninkryk kon min doen omdat hulle self die grondslag vir die likwidasie met die München-ooreenkoms geskep het. Dit het nog nie Chamberlain se posisie gekos nie. Die uitbreek van die oorlog in September 1939 het ook nie tot sy bedanking gelei nie. Hy is opgevolg deur Winston Churchill as Britse premier na die Duitse aanval op Frankryk en die Benelux-lande op 10 Mei 1940.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "'Disaster of the first magnitude', 1938" (in Engels). Speech Winston Churchill (National Churchill Museum). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 April 2020. Besoek op 25 Maart 2018. {{cite web}}: Onbekende parameter |citaat= geïgnoreer (hulp)
  2. The Collapse of the Third Republic: An Inquiry into the Fall of France in 1940. William L. Shirer, De Capo Press, 1969, bl 339-340

Notas

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.