Mojokerto-kind
Algemene naam | Mojokerto-kind |
---|---|
Katalogusnommer | Mojokerto 1 Perning 1 |
Spesie | Homo erectus |
Ouderdom | 1,43 tot 1,49 miljoen |
Plek ontdek | Mojokerto, Indonesië |
Datum ontdek | 1936 |
Ontdek deur | Andojo Ralph von Koenigswald |
Die Mojokerto-kind, ook bekend as Mojokerto 1 en Perning 1, is die fossiele skedeldak van 'n jong, vroeë mens. Dit is in Februarie 1936 naby Mojokerto, Indonesië, ontdek deur 'n lid van 'n opgrawingspsan onder leiding van Ralph von Koenigswald. Von Koenigswald het die spesimen eers Pithecanthropus modjokertensis genoem, maar het dit gou daarna hernoem tot Homo modjokertensis, omdat Eugène Dubois – die ontdekker van die Javamens, wat toe Pithecanthropus erectus genoem is – nie daarmee saamgestem het dat die nuwe fossiel 'n Pithecanthropus is nie. Die skedeldak word nou geïdentifiseer as Homo erectus.
Die Mojokerto-kind is die mees omstrede fossiel van vroeë mense wat in Indonesië ontdek is.[1] Die ouderdom en selfs plek van ontdekking is algemeen bewtis. Eers is geglo dit is 'n miljoen jaar oud, maar in 1994 is beweer dit is sowat 1,81 miljoen jaar oud, gebaseer op die destyds nuwe argon-argondatering. In die vroeë 2000's, nadat die presiese grondlaag waaruit die skedel in 1936 gegrawe is, vasgestel is, het nuwe navorsing getoon die vroegste moontlik ouderdom is 1,49 miljoen jaar.
Ontdekking en name
[wysig | wysig bron]Die fossiele skedeldak is in Februarie 1936 ontdek deur Andojo, 'n Indonesiër wat in Oos-Java in die span van Ralph von Koenigswald na dierefossiele gesoek het.[2] Andojo het aanvanklik gedink dit is die skedel van 'n orangoetang, maar Von Koenigswald het dit dadelik as 'n mens s'n herken.[3] Hy het dit Pithecanthropus modjokertensis genoem, na die nabygeleë dorp Mojokerto, wat toe "Modjokerto" gespel is.[4] Eugène Dubois, wat die Javamens in die 1890's ontdek en dit Pithecanthropus erectus genoem het, het aan Von Koenigswald geskryf en gesê as die Mojokerto-fossiel inderdaad menslik is, kan dit nie 'n Pithecanthropus (letterlik: "aapmens") wees nie. Von Koenigswald het sy fossiel dus hernoem tot Homo modjokertensis.[5] Dit is eindelik geklassifiseer as Homo erectus, nes die Javamens en die talle fossiele van vroeë mense wat Von Koenigswald en ander in Sangiran ontdek het. In Indonesië is die fossiel bekend as Pithecanthropus modjokertensis.[6]
Die fossiel se katalogusname, "Mojokerto 1" en "Perning 1", kom van die dorp Mojokerto, sowat 10 km suidwes van die terrein, en van die klein dorpie Perning, sowat 10 km noordoos van Mojokerto en 3,5 km van die terrein af.[7]
Omstrede datum
[wysig | wysig bron]Dekades lank is geglo die Mojokerto-kind, wie se geslag onbekend is, kan nie gedateer word nie omdat die presiese plek waar dit ontdek is, nie duidelik vasgestel was nie.[8] Teen 1985 is vier verskillende terreine voorgestel as die moontlike plek van ontdekking.[1] Dit was ook onbekend of die fossiel uitgegrawe is en of dit op die aardoppervlak gelê het. Dit het datering moeilik gemaak, al was die presiese ligging bekend.[1]
In die vroeë 1990's het die geochronoloog Garniss Curtis en paleontoloog Carl C. Swisher III argon-argon-datering gebruik om 'n ouderdom van 1,81 miljoen jaar voor te stel.[9] Daar is algemeen oor Swisher en Curtis se gevolgtrekking gedebatteer, want dit het beteken die Mojokerto-kind was so oud soos die oudste bekende spesimens van Afrika se Homo ergaster (ook genoem Homo erectus sensu lato). Dit sou beteken Homo erectus kon Afrika veel vroeër verlaat het as wat geglo is, of selfs eerder in Suidoos-Asië ontwikkel het eerder as in Afrika soos die meeste wetenskaplikes geglo het. Baie het begin twyfel of die rotsmonsters van die regte plek geneem is.[10]
In 2003 het 'n span onder die argeoloog Mike Morwood 1,49 miljoen jaar voorgestel as die regte ouderdom.[1] In 2006 het die Australiese argeoloog Frank Huffman foto's en aantekeninge uit die 1930's gebruik om die presiese terrein van die uitgrawing vas te stel en te bepaal dat Morwood se datering korrek is. Morwood en Huffman se datum word algemeen as korrek aanvaar.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 Dennell 2009, p. 155.
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 42 (Andojo); Zaim 2010, p. 103 (Tjokrohandojo); Huffman et al. 2006, p. 432 (Andoyo).
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 42; Zaim 2010, p. 103
- ↑ Antón 1997, p. 498.
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 76.
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 41.
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 39–41 (ligging van Mojokerto); Zaim 2010, p. 103 (ligging van Perning).
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, pp. 12 (onbekende geslag) en 41–43 (die terrein).
- ↑ Swisher et al. 1994.
- ↑ Swisher, Curtis & Lewin 2000, p. 92.
Aangehaalde werke
[wysig | wysig bron]- Antón, Susan C. (1997), "Developmental age and taxonomical affinity of the Mojokerto child, Java, Indonesia", American Journal of Physical Anthropology 102 (4): 497–514, doi:10.1002/(sici)1096-8644(199704)102:4<497::aid-ajpa6>3.0.co;2-p, PMID 9140541.
- Carbonell, Eudald; Marina Mosquera; Xosé Pedro Rodríguez; José María Bermúdez de Castro; Francesc Burjachs; Jordi Rosell; Robert Sala; Josep Vallverdú (2008), Eurasian Gates: The Earliest Human Dispersals|journal=Journal of Anthropological Research|pages=195–228|volume=64|issue=2}}
- Huffman, O. Frank; Y. Zaim; J. Kappelman; D. R. Ruez Jr.; J. de Vos; Y. Rizal (2006), "Relocation of the 1936 Mojokerto skull discovery site near Perning, East Java", Journal of Human Evolution 50 (4): 431–51, doi:10.1016/j.jhevol.2005.11.002, PMID 16386780.display-authors=etal
- Morwood, Michael J.; P. O'Sullivan; E. E. Susanto; F. Aziz (2003), "Revised age for Mojokerto 1, an early Homo erectus cranium from East Java, Indonesia", Australian Archaeology 57: 1–4, doi:10.1080/03122417.2003.11681757, https://www.library.uq.edu.au/ojs/index.php/aa/article/view/526/1690, besoek op 30 June 2014.
- Rabett, Ryan J. (2012), Human Adaptation in the Asian Palaeolithic: Hominin Dispersal and Behaviour during the Late Quaternary, Cambridge: Cambridge University Press, ISBN 978-1-107-01829-7, https://books.google.com/books?id=coFA6_r4PTUC.
- Swisher, Carl C. III; Curtis, Garniss H.; Lewin, Roger (2000), Java Man: How Two Geologists Changed Our Understanding of Human Evolution, Chicago: University of Chicago Press, ISBN 978-0-226-78734-3.
- Swisher, Carl C. III; Curtis, Garniss H.; Jacob, Teuku; Getty, A. G.; Suprijo, A.; Widiasmoro (1994), "Age of the earliest known hominin in Java, Indonesia", Science 263 (5150): 1118–21, doi:10.1126/science.8108729, PMID 8108729, Bibcode: 1994Sci...263.1118S, archived from the original on 2014-07-14, https://web.archive.org/web/20140714221922/http://www.highbeam.com/doc/1G1-14874480.html, besoek op 2023-05-16.
Skakels
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.