Gaan na inhoud

Maclear-baken

Koördinate: 33°58′0.24″S 18°25′32,05″O / 33.9667333°S 18.41667°O / -33.9667333; 18.41667
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die stapel klippe van die Maclear-baken
Die Bridle-pad wat tot by die baken gevolg kan word

Die Maclear-baken is 'n klipstapel wat die hoogste punt op Tafelberg aandui. Die klipstapel van 3 m hoog is in 1979 tot 'n gedenkwaardigheid verklaar. Trigonometriese baken (28) Tafelberg is 1 087 m bo seevlak en 19 meter hoër as die boonste kabelstasie geleë.

Voetslaanpaaie

[wysig | wysig bron]

Genl. J.C. Smuts het deur sy staptogte op Tafelberg die paadjies rondom die baken bekend gemaak. Die bakenpunt is 3 km van die kabelstasie af, en word na 'n staptog van 45 minute bereik. Ooswaarts bied dit 'n uitsig oor die Kaapse Vlakte en die Hottentots-Hollandberge.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Sir Thomas Maclear (1794–1878) was die sterrekundige by die Koninklike Sterrewag. Tussen 1841 en 1848 het hy groot dele van die Kaapkolonie opgemeet vir die kontrolering en uitbreiding van die Franse sterrekundige Nicolas-Louis de Lacaille (1713–1762) se meridiaanboog. Die doel was om die presiese vorm en grootte van die aardbol te bepaal. Die peilbaken op Tafelberg is in Desember 1844 opgerig en word steeds deur kartograwe gebruik. Maclear het 'n begin gemaak met die geodetiese opmeting van Suid-Afrika en met die oog op die honderdjarige herdenking van sy dood op 14 Junie 1979 is die klipstapel gerestoureer.

Oorloggedenkteken

[wysig | wysig bron]

Naby die baken is 'n gedenkteken vir nege gesneuweldes van die Bergklub van Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog. Die plat bronsskild wat van 1922 dateer, is bo-op 'n rots naby die baken gemonteer, en is die volgende jaar onthul. Sedertdien word 'n jaarlikse gedenkdiens elke Februarie by die baken gehou. Genl. Smuts het met die onthulling die hooftoespraak by die baken gelewer:

"Die Berg", het hy gesê, "staan nie net vir iets wat ewig verhewe is nie. Dit het 'n groot historiese en geestelike betekenis vir ons. Vir ons is dit die klimleer van die lewe. Nee, meer, dit is die groot leer van die siel, en op 'n eienaardige wyse die bron van geloof. Daarvan het die Wet gekom; daarvan het die evangelie van die Bergpredikasie gekom. Ons kan waarlik sê dat die hoogste religie die Religie van die Berg is."[1]

Omtrent die nege gesneuweldes het hy gesê:

"Tafelberg was hulle katedraal waar hulle 'n meer sagkense musiek kon aanhoor, wyer horisonne kon bespied en deur 'n meer verhewe gees geïnspireer kon word. Hier het hulle in lewe die ruime lug ingeadem, hier in sterwe sal hulle nagedagtenis van die boonste uithoeke besit neem. En dit is gepas dat in hierdie katedraal van Tafelberg die blywende gedenkteken van hul groot opoffering geplaas word. Nie daar onder in die gloed van vrugbare vlaktes nie, maar hier bo in die bleek en koue bergtoppe. Soos Browning dit stel: Hier, hier is hulle plek; Waar meteoroïdes verskiet; Wolke bou; Weerlig uitbreek; Sterre kom en gaan."

Genl. Smuts sou op ouderdom 80 weereens die berg via Skeletonkloof bestyg om die hooftoespraak vir die Bergklub se jaarlikse gedenkdiens te lewer. 'n Bronsplaket vir Smuts teen 'n nabye rotswand bevat die bekende lofspraak van Shakespeare se Julius Ceasar:

“Sy lewe was deemoedig, en die Elemente was so in hom vervleg, dat die Natuur sou opstaan om aan die hele aarde te sê, Dit was 'n man.”[2]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  1. Salute to a Great South African: Jan Christiaan Smuts. Central News Agency, Ltd., red. Cape Times. Oktober 1950. p. 32.
  2. Smuts, Jan. "Quote of the Week, Week #4". Hike Table Mountain (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 24 September 2014.
  • Burman, Jose: The Table Mountain book. Kaapstad: Human en Rousseau, 1991. ISBN 0-7981-2918-2

33°58′0.24″S 18°25′32,05″O / 33.9667333°S 18.41667°O / -33.9667333; 18.41667