Gaan na inhoud

Mekka

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Mekka
مكة

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Saoedi-Arabië Saoedi-Arabië
 Provinsie Makkah
 Koördinate 21°25′N 39°49′O / 21.417°N 39.817°O / 21.417; 39.817
 Stigting 4de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 850 vk km
 Hoogte bo seevlak 300 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2007) 1 700 000
 - Bevolkingsdigtheid 4 200/vk km
 Tydsone UTC +3
 Burgemeester Osama Al-Bar
 Amptelike webwerf holymakkah.gov.sa

Mekka (Arabies: مكة, ook "Mekka, die Eerwaarde", ‏مكة المكرّمة) is die heiligste stad van die Islam en lê in Saoedi-Arabië.[1] Mekka het 'n bevolking van 1 700 000 (2007-sensus) en 'n oppervlakte van 850 km². Die Kaäba in Mekka is die rigting, of kiebla, van die daaglikse islamitiese gebed. In 570 is Mohammed, die profeet van Islam, in Mekka gebore. In 610 begin die Islamitiese openbaring en Mekka is een van die twee stede waar Mohammed die Koran van Allah ontvang. Met die vlug van Mohammed na Medina in 622 begin die Islamitiese kalender. Tradisioneel is die stad vir nie-Moslems gesluit.

Ligging en klimaat

[wysig | wysig bron]
'n Uitsig oor Mekka

Die heilige stad Mekka (in Arabies Makkah) lê 277 m bo seespieël in die droë beddings van die Wadi Ibrahim en 'n paar van sy kort sytakke naby die weskus (Rooisee) van Saoedi-Arabië. Mekka word omring deur die Siratbergreeks en in een van die pieke, die Jabal Hira, is die grot waar Mohammed hom afgesonder en visioene gehad het voordat hy profeet geword het. Die nag is bekend as Lailat al-'Kadr.

Die stad het deur die jaar hoe temperature, met somertemperature van tot 45°C. Ondanks die lae reënval (minder as 120 mm per jaar), wat hoofsaaklik in die winter val, bestaan die gevaar van seisoenale oorstromings wel omdat Mekka so laag geleë is.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
'n Tekening van Mekka, ca. 1850
Mekka in 1910

Mohammed is in ongeveer 570 n.C. in Mekka gebore. Sy verkondiging van 'n nuwe leer is nie in sy geboortestad aanvaar nie en hy het in 622 na Medina uitgewyk. Volgens hom het die mense 'n dwaalleer aangehang en sy prediking van die Islam was daarop gerig om die godsdiens van Abraham te herstel.

In 630 het hy na Mekka teruggekeer, die stad onder sy gesag gebring, alle afgode verwyder en tot die stad van Allah verklaar. Dit sou ook as pelgrimsoord vir alle Moslems dien.

As oase op die karavaanroetes tussen die lande rondom die Middellandse See en Asië en Afrika, het Mekka deur die eeue 'n handelsentrum geword. Selfs nadat die handelsaspek minder belangrik geword het, het Mekka, danksy die pelgrims, steeds 'n welvarende stad gebly. Die stad is bestuur deur sjarifs, wat lede was van families wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle van die profeet Mohammed afstam.

Ondanks hulle pogings om beheer oor die Hedzjasgebied uit te oefen, kon die Irakse Abbassiede (ongeveer 950 n.C.), die Egiptiese Mamelukke (13e eeu), die Ottomane (16e eeu) en die Saoedi-Arabiese Wahabiete (19e eeu) nie die stad se onafhanklikheid beïnvloed nie. In 1925 is Mekka egter finaal by Saoedi-Arabië ingelyf.

Die pelgrimstog en die Kaäba

[wysig | wysig bron]
Die Kaäba in Mekka

Volgens Islamitiese tradisie is die Kaäba (Ka'ba) deur Abraham gebou as 'n replika van God se hemelse woning. Deur die eeue is dit telkens verwoes en herbou, en sedert die 16de eeu (1570) staan dit in die binneplein van die Al-Masdjid al-Haram, tesame met die heilige Zemzem-bron.

Die binneplein is ongeveer 165 m lank en 121 m breed en word om ring deur 'n 7,5 m hoë muur met 'n aantal minarette. In 1955 is begin met verbouings om die oppervlakte van die binneplein te vergroot.

Op die oomblik kan 300 000 mense tegelykertyd in die binneplein aanbid. Die Kaäba vorm die religieuse middelpunt vir meer as een miljard Moslems dwarsoor die wêreld, aangesien die Islam bepaal dat wanneer Moslems bid, hulle hulle in die rigting van die Kaäba moet wend. (Hierdie gebedsrigting word die kiebla genoem.)

Die Kaäba is ’n vierkantige ruimte van 15 x 10 x 12 m binne die moskee met geen vensters nie en slegs een ingang. In die oostelike muur is die sogenaamde Swart Steen ingebou, wat heelwaarskynlik ’n meteoriet is. Die Kaäba is bedek met 'n swart kleed, die Kiswa, waarop tekste uit die Koran geborduur is. Die kleed word jaarliks vervang.

Elke Moslem probeer om minstens een maal in sy leeftyd gedurende die pelgrimsmaand Dhu'l Hidjdja 'n bedevaart na Mekka te onderneem. Die doel van die reis is om 'n paar maal rondom die Kaäba te loop en die Swart Steen te soen. Voorts besoek hulle, getrou aan die Islamitiese tradisie, 'n paar heilige plekke in die omgewing wat verband hou met Mohammed se stryd om Mekka te verower.

As gevolg van die groot aantal pelgrims (sowat 1 miljoen in die pelgrimsmaand), is die stad se vervoerstelsel na die Tweede Wêreldoorlog drasties uitgebrei om met die toeloop te kan tred hou.

Bestuur en ekonomie

[wysig | wysig bron]
Pelgrims in Mekka

Die stad word bestuur deur 'n goewerneur, die emir van Makkah, wat deur die koning van Saoedi-Arabië benoem word en verantwoording moet doen aan die minister van binnelandse sake. Hy is in beheer van die provinsie Makkah, waarvan Mekka die hoofstad is en waartoe ook die stede Djedda en Taif behoort.

Sedert die Tweede Wêreldoorlog het Mekka 'n stadsraad, maar die name van die veertien gekose lede moet eers vir goedkeuring aan die regering voorgelê word voordat hulle hul ampte kan aanvaar. Die stad het twee inrigtings vir hoër onderwys, naamlik die Sjaria-Akademie vir Islamitiese reg en ’n opleidingskollege vir onderwysers. Alle onderwys is kosteloos, asook mediese dienste. Mekka se gesondheidsdienste het, benewens plaaslike siekteverskynsels, ook te kampe met verskillende siektes soos cholera, wat deur pelgrims die stad ingebring word.

'n Groot deel van Mekka se inkomste is van die pelgrims afkomstig, maar sedert 1952 het die koning van Saoedi-Arabië 'n deel van die land se olie-inkomste beskikbaar gestel vir die instandhouding van die stad en sy heiligdomme. Landbougrond en water is skaars en voedsel word van onder meer Djedda af ingevoer. Water kom van die omringende wadi's, die Zubaidabron, wat suidwes van die stad geleë is, en die Azizijjahbron in die noordooste. Elektrisiteit is afkomstig van 'n oliekragsentrale op die pad na Medina. Mekka het beperkte nywerhede.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Mecca". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2020. Besoek op 18 November 2018.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]