Museum
'n Museum is 'n gebou waar goed versamel en gestoor word vir besoekers om te besigtig. Museums kan oor verskillende temas handel, soos Natuurgeskiedenis, Geologie, Wetenskap, skilderye of beeldhouwerke.
Museums kan ook lewende diere bevat. In hierdie geval word daarna verwys as dieretuine.
Die doel van moderne museums is om items van artistiese, kulturele of wetenskaplike belang te versamel, bewaar, interpreteer en uit te stal, tot die voordeel en onderrig van die publiek. Museums se belangrikste funksie is om kennis te bewaar.
Museums word deur mense besoek vir opvoeding sowel as vir die pret daarvan.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Vorste en ander welgestelde mense het reeds baie eeue gelede begin om allerhande interessante dinge in sogenaamde curiosa-kabinette te versamel. Benewens skilderye en ander kunsvoorwerpe het hierdie versamelings ook dikwels opgestopte diere, gesteentemonsters en meer bevat. Uit hierdie private versamelings het mettertyd openbare museums ontwikkel wat vir die publiek toeganklik geraak het.
Vroeë museums
[wysig | wysig bron]Vroeë museums het begin as private versamelings van welvarende individue, families en instellings wat kuns, skaars en vreemde natuurlike objekte en artefakte ten toon gestel het. Een van die oudste bekende museums is Ennigaldi-Nanna se museum, wat aan die einde van die Nieu-Babiloniese Ryk deur prinses Ennigaldi gebou is en uit c. 530 v.C. dateer. Die museum bevat artefakte van vroeë Mesopotamiese beskawings.
Openbare toegang tot hierdie museums was dikwels moontlik vir gesiene mense, veral wat private kunsversamelings betref, maar die eienaar en sy personeel het ten alle tye beheer uitgeoefen oor wie toegelaat word, al dan nie. Een manier waarop mans in hierdie periode 'n hoër sosiale status in die wêreld van die elites bereik het, was deur interessante objekte te versamel en dit ten toon te stel. Talle items in hierdie versamelings was nuwe ontdekkings en hierdie versamelaars was ywerig om dit in die hande te kry.
Hoewel sommige van die oudste openbare museums in die wêreld gedurende die Renaissance in Italië geopen is, het die belangrikste museums van die wêreld hul deure gedurende die 18de eeu oopgemaak, soos die Capitoline-museums (1471, Rome), die Vatikaan-museums (1506) en die Ambras-kasteel in Oostenryk (1572).
Moderne museums
[wysig | wysig bron]Moderne museums het in Wes-Europa ontstaan en vandaar na ander wêrelddele versprei. Die eerste “openbare” museums was dikwels net vir die middelklas en hoër stand toeganklik. Die Ashmolean Museum is in 1677 by die Universiteit van Oxford gestig met die persoonlike versameling van Elias Ashmole wat ten toon gestel is. Dié museum was oop vir die publiek en word deur sommige as die eerste moderne openbare museum beskou. Die eerste openbare museum in Frankryk was die Louvre in Parys, wat in 1793 gedurende die Franse Rewolusie geopen is en vir die eerste keer vir mense van alle stande toegang tot die versamelings van Franse koninklikes gebied het. Namate Napoleon I Europese stede verower het, het hy kunswerke gekonfiskeer, sodat die versameling in Frankryk gegroei het en die organisasie daarvan al hoe ingewikkelder geraak het. Nadat Napoleon in 1815 uitoorlê is, is talle van die skatte geleidelik aan hul eienaars terug besorg (en talle nie). Sy plan het nooit ten volle gerealiseer nie, maar sy konsep van 'n museum as agent vir nasionalisme het 'n groot impak op Europese lande gemaak.
Chinese en Japannese besoekers aan Europa was gefassineer deur die museums wat hulle daar teëgekom het, maar het die doel daarmee moeilik begryp en gesukkel om 'n Chinese of Japannese term daarvoor te vind. Chinese besoekers aan die begin van die 19de eeu het hierdie museums benoem na aanleiding van wat in die museum was, bv. “binnehof van skatte” of “paviljoen van skilderye” of “saal van militêre heldedade”. Japan het die eerste keer met Westerse museums te doen gekry toe dit in die 1860’s aan Europa se ‘World Fairs’ deelgeneem het. Die Britse Museum is deur een van hul afgevaardigdes as 'n ‘hakubutsukan’ , 'n ‘huis met uitgebreide inhoud’ beskryf. Dit sou eindelik as ekwivalente woord vir ‘museum’ in Japan en China aanvaar word.
Amerikaanse museums het mettertyd by Europese museums aangesluit as die wêreld se toonaangewende sentrums vir die produksie van nuwe kennis op die verskillende gebiede. 'n Periode van intense museumbou, in beide die intellektuele en fisiese sin van die woord, het in die laat 19de en vroeë 20ste eeu gerealiseer. Hoewel talle Amerikaanse museums gestig is met die doel om op die wetenskaplike en artistiese ontwikkeling in Noord-Amerika te fokus, het baie ook hul Europese eweknieë op sekere maniere agternagedoen, soos die ontwikkeling van klassieke versamelings van Antieke Egipte, Griekeland, Mesopotamië en Rome. Na aanleiding van Michel Foucault se konsep van liberale regering, het Tony Bennett bespiegel dat die ontwikkeling van meer moderne 19de eeuse museums deel was van nuwe strategieë van Westerse regerings om 'n burgerlike samelewing te skep wat sy eie handel en wandel gereguleer het, eerder as om deur eksterne kragte gerig en gedwing te word. Om die massas by hierdie strategie in te sluit, is die private museumspasies wat vroeër beperk en sosiaal eksklusief was, openbaar gemaak. Objekte en artefakte het instrumente geword van die “nuwe take van sosiale bestuur”. Universiteite het 'n geruime tyd voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog die primêre sentrums vir innoverende navorsing in die Verenigde State geword. Tog dra museums vandag nog by tot nuwe kennis en bewaar en bou steeds versamelings wat nuttig is vir navorsing én tentoonstelling.
Laat in die twintigste eeu is daar intense debat gevoer oor die repatriasie van godsdienstige, etniese en kulturele artefakte wat deel van museumversamelings is. In die Verenigde State het talle inheemse stamme en pleitbesorgers voorspraak gemaak daarvoor dat heilige objekte terugbesorg moet word en menslike oorskot herbegrawe moet word. In 1990 is daar wetgewing in die VSA goedgekeur om dít te bewerkstellig. Eweneens bevat talle Europese museumversamelings objekte en kulturele artefakte wat deur imperialisme en kolonialisme bekom is. Sommige historici en akademici het die Britse Museum al gekritiseer omdat hulle in besit is van rare oudhede van Egipte, Griekeland en die Midde-Ooste.
Digitalisering
[wysig | wysig bron]Die digitalisering van inligting en die toenemende kapasiteit om digitale inligting te stoor, lei daartoe dat die tradisionele model van museums, dit wil sê statiese versamelings van driedimensionele uitstallings en artefakte, verbreed om virtuele uitstallings en hoë resolusie beelde van versamelings in te sluit, sodat besoekers toegang daartoe het vanaf enige ligging met internettoegang.
Bestuur
[wysig | wysig bron]Die rolle wat met die bestuur van 'n museum geassosieer word hang grootliks van die grootte van die instelling af, maar elke museum het 'n hiërargie van bestuur met 'n raad van trustees heel bo. Die direkteur is onder die trustees en werk saam met dié raad om die museum se missie vas te stel en te bewerkstellig, asook om seker te maak dat die museum aanspreeklik is tot die publiek. Saam vestig die raad en die direkteur 'n bestuurstelsel wat deur beleide gelei word om sodoende standaarde daar te stel. Dokumente wat hierdie standaarde vasstel sluit in 'n institusionele of strategiese plan, institusionele etiese kode en beleid ten opsigte van versamelings.
- Raad van trustees – Die raad bestuur die museum en is verantwoordelik vir die museum se finansiële en etiese welstand. Dit bepaal die museum se standaarde en beleide. Raadslede is dikwels by fondsinsameling vir die museum betrokke en verteenwoordig die instelling.
- Direkteur – Die direkteur is die gesig van die museum na die professionele en openbare gemeenskap. Hy of sy kommunikeer ten nouste met die raad om die museum te lei en bestuur. Hy of sy werk saam met die personeel om te verseker dat alles by die museum vlot.
Verskeie poste binne die museum bring uitvoer aan die beleide wat deur die raad en die direkteur daargestel is.
- Kurator – Kurators is die intellektuele dryfkrag agter uitstallings. Hulle doen navorsing oor die museum se versamelings en fokusonderwerpe, ontwikkel temas vir uitstallings en publiseer hul navorsing, wat óf op 'n akademiese gehoor óf op die breër publiek gemik is. Groter museums het kurators vir verskeie afdelings.
- Bestuurder van versamelings – Dié bestuurders is hoofsaaklik verantwoordelik vir die fisiese versorging, verskuiwing en berging van objekte. Hulle is ook verantwoordelik vir die toeganklikheid van versamelings en die beleid daarrondom.
- Registrateur – Registrateurs is die primêre rekordhouers vir die versamelings. Hulle verseker behoorlike toegangsbeheer tot objekte, asook dat dit reg gedokumenteer, verseker en uitgeleen word, wanneer van toepassing.
- Opvoeder – Museumopvoeders is verantwoordelik daarvoor om besoekers en gehore in te lig. Hul pligte sluit in om toere en openbare programme vir kinders en volwassenes te ontwerp, asook opleiding vir onderwysers, klaskamerontwikkeling en hulpbronne vir voortgesette leer, gemeenskapsuitreike en die bestuur van vrywilligers. Hulle werk nie net met die publiek nie, maar lewer ook insette saam met ander museumpersoneel oor uitstallings en programontwikkeling om te verseker dat dit geskik is vir gehore.
- Uitstallingontwerper – Hulle is in beheer van 'n uitleg en fisiese daarstel van uitstallings. Hulle skep 'n konseptuele ontwerp en bou dit dan in die fisiese spasie.
- Opsigter/opsiener – Opsigters fokus op objekrestourasie. Hulle doen meer as om bloot die objek in sy huidige toestand te bewaar, want hulle stabiliseer en restoureer oor artefakte tot hul oorspronklike vorm en toestand in 'n vroeër era.
Daar is nog poste wat dikwels by museums gevul word, soos 'n fotograaf, bibliotekaris, argivaris, terreinopsigter, sekuriteitspersoneel, openbare betrekkinge personeel ensovoorts. By kleiner museums vervul personeellede dikwels meervoudige rolle, word sommige poste eenvoudig nie gevul nie of deur 'n kontrakteur vervul soos en wanneer daar 'n behoefte is.
Museumbeplanning
[wysig | wysig bron]Die ontwerp van museums het deur die jare heen ontwikkel. Museumbeplanning behels die vasstel van die museum se missie, asook beplanning van die spasie waarin die museum se versamelings behuis sal word.
Intensionele museumbeplanning se oorsprong lê by die museumstigter en bibliotekaris Johan Cotton Dana. Hy het die proses waarvolgens die Newark Museum vroeg in die 20ste eeu tot stand gekom het in 'n reeks boeke gedokumenteer sodat ander museumstigters ook hul museums kon beplan. Dana het voorgestel dat potensiële museumstigters eers 'n komitee moes stig en dan na die gemeenskap moes uitreik vir insette. Volgens Dana moet 'n museum na aanleiding van 'n gemeenskap se behoeftes beplan word.
Die wyse waarop museums beplan en ontwerp word verskil na aanleiding van die versamelings waaroor dit beskik, maar oor die algemeen moet dit 'n spasie wees wat maklik toeganklik is vir die publiek en die gekose artefakte maklik ten toon stel. Die vraag oor toeganklikheid bly tot vandag toe 'n kwessie. Talle museums streef daarna om hul geboue, programme, idees en versamelings meer toeganklik vir die publiek te maak as in die verlede. Hoewel nie alle museums hierdie tendens volg nie, blyk dit dat die meerderheid van museums in die 21ste eeu wel klem op inklusiwiteit lê. Een baanbrekersmanier waarop museums poog om hul versamelings meer toeganklik te maak, is met sigbare berging. Die meeste van 'n museum se versamelings word tipies weggesluit om bewaar te word, met die gevolg dat die meeste mense dit nooit sien nie. Die Brooklyn Museum se Luce Sentrum vir Amerikaanse Kuns pas sigbare berging toe sodat die publiek ook items wat nie deel van tentoonstellings is nie, kan sien, hoewel met minimale interpretasie. Die praktyk van sigbare berging is deel van 'n voortgesette debat in die museum-wêreld oor die rol wat objekte speel en hoe toeganklik dit behoort te wees.
Moderne museums bevat inhoud in die vorm van beelde, oudio en visuele effekte en interaktiewe uitstallings. Museumskepping begin met 'n museumplan. Die plan word ontwikkel met behulp van 'n proses waartydens die museum se visie en missie, die hulpbronne, organisasie en ervaring wat nodig is om die visie te bereik, vasgestel word. 'n Lewensvatbaarheidstudie, analise van vergelykbare fasiliteite en 'n interpreterende plan word tydens museumbeplanning ontwikkel.
Soorte museums
[wysig | wysig bron]Daar is talle soorte museums, die grootstes waarvan meer as een van die volgende kategorieë bevat. Wêreldwyd kry 'n mens kunsmuseums, museums van toegepaste kunste, argeologie, antropologie, etnologie, biografie, geskiedenis, kultuurgeskiedenis, wetenskap, tegnologie, kindermuseums, natuurlike geskiedenis, botaniese museums en dieretuine. Sommige museums spesialiseer verder binne hierdie kategorieë, soos museums van moderne kunste, plaaslike geskiedenis, militêre geskiedenis, filatelie, landbou of geologie.
Suid-Afrika se museums
[wysig | wysig bron]Die Suid-Afrikaanse Museumvereniging (SAMA) bestaan reeds van 1937 af.[1] Die organisasie dien die museumgemeenskap en bied geleenthede vir deelname en ontwikkeling. SAMA speel ook 'n belangrike rol in die bestuur en bewaring van erfenishulpbronne in Suid-Afrika. Daar is 123 landswye museums op SAMA se databasis, onder verskeie kategorieë:[2]
- Sosiale geskiedenis
- Kuns en fotografie
- Militêre geskiedenis
- Natuurwetenskaplike geskiedenis
- Struggle-geskiedenis
- Landbou
- Vervoer
- Argiewe
- Afrika-kultuurdorpies
- Maritieme geskiedenis
- Literatuur en taal
- Mynbou
- Sending
- Slawegeskiedenis
- Mediese geskiedenis
- Monetêre geskiedenis en poswese
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Morkel, F.W.: Agter die skerms van 'n museum - met die Transvaal-museum as voorbeeld. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 22, nr. 3, Maart 1973
Verwysings
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Museum.
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir museum.