NG gemeente Aliwal-Noord
Die NG gemeente Aliwal-Noord is die 10de oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in sy Sinode van Oos-Kaapland al was dit die 11de wat in die sinodale gebied gestig is, maar die NG gemeente Middelburg het in 2010 saamgesmelt met Middelburg-Uitsig. In die hele Kerk was dit die 51ste stigting, maar is nou die 50ste oudste gemeente.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Toe die eerste trekboere in 1823 oor die Stormbergspruit trek om hulle te kom vestig in die omgewing van die plaas Buffelsvlei (later Aliwal-Noord), was die wêreld hier nog woes en leeg. Die Noordoos-Kaap was ’n ware niemandsland weens die onherbergsaamheid en koue winters. Stamoorloë het gelei tot die suidwaartse migrasie van inheemse volke en die Noordoos-Kaap is kort voor lank binnegedring deur die Temboes uit die suide en die Mfengoes uit die noorde.
J.C. Chase, die burgerlike kommissaris van Burgersdorp, wat reeds in 1847 gestig is, het die Britse regering sterk aangeraai om ’n dorp aan te lê by die samevloeiing van die Oranje- en die Kraairivier ten einde wet en orde na dié afgeleë grensgebied te bring. Ná dringende versoeke deur die trekboere het die regering die oosgrens in 1848 verskuif om ook die gebied aan die oorkant van die Stormbergspruit in te sluit.
Aliwal-Noord se ligging is gekies danksy die drif deur die Oranjerivier net onder die samevloeiing van die Oranje en die Kraairivier. Die eerste vermelding van dié drif was in 1809 in Andries Stockenström se reisjoernaal toe hy die gebied saam met kol. Collins besoek en die rivier die Stockenströmrivier genoem het. Die San, Trekboere en latere Voortrekkers het gereeld die drif op hul reise gebruik en het dit Boesmans Drift, Piet-se-Drif, Somerset Ford of Voortrekker Drift genoem.
Die dorp is in 1849 aangelê op die plaas Buffelsvallei, wat behoort het aan Pieter Jacobus de Wet, die eerste persoon wat hom permanent hier kom vestig het. De Wet en sy familie is begrawe op die rantjie naby die oorspronklike woonhuis en 'n gedenkteken is later deur die familie opgerig ter nagedagtenis aan die "vader" van die dorp. Aliwal-Noord is genoem na die oorwinning wat sir Harry Smith, die destydse goewerneur, oor die Sikhs in die Slag van Aliwal in Indië behaal het.
Stigting
[wysig | wysig bron]Die NG gemeente hier is op 19 Mei 1852 gestig. Die eerste konsulent was ds. John Murray van die NG gemeente Burgersdorp, 'n seun van ds. Andrew Murray sr. van die NG gemeente Graaff-Reinet, wie se vyf seuns wat volwassenheid bereik het, elkeen 'n predikant in die NG Kerk geword het. John Murray het reeds in 1853 afskeid geneem en een van die eerste twee hoogleraars aan die Stellenbosse Kweekskool geword. Ds. P. Huet het 'n jaar lank, van Desember 1855 af, die dienste op Aliwal-Noord waargeneem teen 'n salaris van £100. Die twee agterste banke in die kerkgebou is oopgelaat vir Kleurlinge, aangesien hulle toe nog nie hul eie kerk gehad het nie.
Eerste leraars
[wysig | wysig bron]Ds. G.A. Martin was, van 1859 tot 1865, die eerste leraar. In sy dienstyd is die NG gemeente Lady Grey omstreeks 1861 afgestig, hoewel die juiste datum nie meer bekend is nie omdat die eerste notuleboek van die kerkraad verlore gegaan het. Op 30 September 1861 berig die Cape and Natal News: "A meeting has been held at Aliwal North for the purpose of building a Dutch Reformed Church in that district. The subscriptions already promised are very large, they are paid for the most part in kind. The farmers have engaged that every child of a family shall give one lamb."[2]
Kerkraadslede wat in hierdie tyd sonder 'n grondige rede van die kerkraadsvergaderings af weggebly het, is met £1 beboet. Ná ds. Martin is ds. D.B. (David) Naudé in 1867 hier bevestig en hy het die gemeente tot 1873 gedien. Lidmate van die gemeente wat nie gediend was met sy vrysinnige en "liberalistiese" beskouings nie, het uit die Kerk bedank en 'n afsonderlike gemeente gestig. Hulle het ds. J.T. Kriel beroep. Ná die gemeente toe agt jaar lank vakant was, is ds. D.J. Pienaar op 11 Junie 1881 hier bevestig. Hy is pas ses maande vantevore, op 2 Desember 1880 tot die bediening toegelaat en was enkele maande lank hulpprediker op Ladismith in die Klein-Karoo.
Ds. Pienaar arbei hier tot einde November 1887. Reeds op Aliwal-Noord het ds. Pienaar hom laat geld as 'n sterk maar taktvolle leier wat groot 'n groot werk tot die herstel van die eenheid gedoen het ná die skeuring van 1873. Hy was dus 'n gelukkige keuse as nuwe leraar vir die NG gemeente Uitenhage omdat dié gemeente ook 'n moeilike tyd beleef. Daar word hy bevestig op 10 Desember 1887, 'n week of wat voor sy 34ste verjaardag.
Ds. Pienaar se opvolger op Aliwal-Noord was ds. D.J. Marchand, maar eers in 1889. In sy tyd is 'n sogenaamde armskool op die dorp gestig. Ook in sy tyd is kleingeld by die deure ingevoer en eers in die 1940's afgeskaf. In 1898 is kerkraadslede verplig om in ampsdrag die dienste en vergaderings by te woon. Die NG gemeente Jamestown is in 1891 deels van Aliwal-Noord en deels van die NG gemeente Dordrecht afgestig nadat die leraars van die moedergemeentes van 1876 om die beurt maandeliks 'n diens daar waargeneem het.
Latere verwikkelinge
[wysig | wysig bron]Ds. David Wilcocks is in 1903 bevestig en het die gemeente tot 1906 gedien. In 1908 het ds. W.J. Naudé die beroep aangeneem. Hy bly 30 jaar hier. Twintig jaar lank het sy eggenote die orrel bespeel. Van 1920 af het Afrikaans Nederlands op die kansel vervang.
Die nuwe kerkgebou is op 12 September 1925 ingewy en die ou kerkgebou terselfdertyd aan die munisipaliteit vir £2 000 verkoop. In 1929 is die gebruik van kelkies vir die Nagmaal ingevoer, waarvan dr. William Nicol al met die Griep van 1918 reeds die baanbreker in die NG gemeente Johannesburg was. Ds. Naudé het om gesondheidsredes in 1938 afgetree en is opgevolg deur ds. F.R. Grobbelaar. Ná hom kom ds. J.S. Theron in Junie 1945. In 1949 neem hy egter die beroep as organiserende sendingsekretaris aan. In Desember 1950 kom ds. P.M. van Heerden aan die hoof van die gemeente staan.
Lidmaattal
[wysig | wysig bron]Die onderstaande tabel toon die afname in die lidmaattal van NG gemeentes op die groot dorpe van die Oos-Kaapse binneland. Aliwal-Noord is die dorp wie se getal NG lidmate die laaste 'n keerpunt bereik het, naamlik omstreeks 1995. In al die ander gevalle was dit omstreeks die middel van die 20ste eeu, buiten Burgersdorp. In gevalle waar 'n gemeente by 'n ander ingelyf is of twee gemeentes saamgesmelt het, word hulle syfers van die begin af saam aangedui. Dit geld Middelburg en Middelburg-Uitsig, Grahamstad, Grahamstad-Grenspos en Albanie, Somerset-Oos en Kookhuis asook Queenstown, Queenstown-Oos en Queenstown-Noord (laasgenoemde twee 'n ruk lank as Queenstown-Tuine). Elke dorp of gemeente se hoogste lidmaattal word in vet skrif aangedui. Hieruit blyk dat al die gemeentes hul hoogtepunt ná die middel van die 20ste eeu bereik het, behalwe Burgersdorp wat sedert 1933 'n afname in sy lidmaattal ervaar. Aliwal-Noord het opgeskuif van die tweede laaste plek na die tweede plek, nie vanweë 'n groot toename in sy lidmaattal nie, maar weens 'n groot afname in al die ander gemeentes se lidmaattal. Dit is dan ook een van net vier plekke uit die agt wat in 2014 meer belydende lidmate gehad het as sowat 'n eeu vantevore.
Gemeente/Dorp | 1916 | 1933 | 1952 | 1960 | 1973 | 1979 | 1985 | 1990 | 1995 | 2000 | 2005 | 2010 | 2012 | 2014 | 2015 | 2016 | 2021 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Aliwal-Noord | 750 | 950 | 1145 | 1150 | 1250 | 1338 | 1242 | 1300 | 1595 | 1593 | 1378 | 1117 | 1114 | 1131 | 1043 | 1043 | 1043 |
Burgersdorp | 1100 | 1461 | 1274 | 1260 | 1008 | 937 | 945 | 941 | 850 | 710 | 677 | 605 | 573 | 539 | 517 | 507 | 462 |
Cradock | 1878 | 2164 | 2858 | 2914 | 2399 | 2421 | 2464 | 2288 | 2024 | 1934 | 1931 | 1697 | 1662 | 1892 | 1894 | 1575 | 1382 |
Graaff-Reinet | 2125 | 2211 | 2536 | 2573 | 2115 | 2055 | 1917 | 1758 | 1699 | 1657 | 1242 | 1347 | 1077 | 1088 | 1075 | 1130 | 701 |
Grahamstad/Albanie | 576 | 860 | 1640 | 1341 | 1479 | 1289 | 1115 | 1105 | 1122 | 1090 | 836 | 794 | 751 | 727 | 620 | 620 | 523 |
Middelburg | 1100 | 1307 | 1430 | Onbekend | 1372 | 1391 | 1158 | 992 | 1147 | 970 | 953 | 829 | 829 | 702 | 648 | 592 | 470 |
Queenstown | 566 | 1195 | 2060 | 2153 | 2115 | 1966 | 1866 | 1779 | 1572 | 1337 | 1190 | 1045 | 876 | 876 | 876 | 663 | 578 |
Somerset-Oos | 1652 | 1400 | 1800 | 1864 | 1657 | 1511 | 1246 | 1210 | 1201 | 1281 | 1122 | 917 | 959 | 967 | 967 | 958 | 828 |
Totaal | 9747 | 11548 | 14743 | 14655 | 13395 | 12908 | 11953 | 11373 | 11210 | 10572 | 9329 | 8351 | 7841 | 7922 | 7640 | 7088 | 5987 |
Die gesamentlike lidmaattal van dié dorpe het reeds in 1952 'n hoogtepunt van 14 743 bereik, waarna dit teen 1995 teruggesak het tot 11 373, minder as die totaal in 1933 van 11 548. Tussen 1990 en 2000 het die totaal met net 1 381 afgeneem tot 10 572, maar in die daaropvolgende 15 jaar het die afname versnel toe die gemeentes 2 932 lidmate verloor het en te staan gekom het op 'n totaal van slegs 7 641. Dis 'n verlies van meer as 'n kwart van die lidmate.
Enkele leraars
[wysig | wysig bron]Aliwal-Noord
[wysig | wysig bron]- George Andries Martin, 1859 - 1865, lê bediening neer
- David Naudé, 1867 - 1873, lê bediening neer
- Daniël Jozua Pienaar, 1881 - 1887
- Daniël J. Le Roux Marchand, 1889 - 1899
- David Wilcocks, 1903 - 1906
- Willem Johannes Naudé, 1908 - 1938 (emeriteer; oorlede op 21 Julie 1943)
- Erich Bam, 1939 - 1942
- Frederick Rossouw Grobbelaar, 1939 - 1945
- Johannes Stefanus Theron, 1945 - 1949
- Paul Marais van Heerden, 1950 - 1960
- Gerhardus Stephanus Mostert, 1963 - 1965
- Mario Walter van der Sandt, 1965 - 1968
- Hendrik (Hennie) Belsazar Geyer, 1966 - 1969
- James Nehemia Klynveld, 1978 - 1982
- Stephanus Rudolph (Fanie) Liebenberg, 1980 - 2002 (emeriteer)
- Arnoldus Christiaan (Arnold) van der Westhuizen, 31 Julie 1992 - 31 Julie 2010, lê bediening neer (word navorser van voëls)
- Frederik Josefus (Frik) Louw, 1993 - 2005 (Kapelaan: Korrektiewe Dienste, Goedemoed - gekoppel aan Aliwal-Noord)
- Johan Taute van Rooyen, Jan 2002 - Jan 2005
- Jacobus Stéphan van der Watt, Jan 2006 - Nov 2009 - uitgestuur as sendeling na Japan vanuit die gemeente - Missie Japan
- Chris Steyn, 2010 - 1 November 2013 (emeriteer; later oorlede)
- André Theron, Mei 2014 - (verlaat)
- Hendrik Cornelius (Henco) van der Westhuizen, 7 Februarie 2015 - (verlaat)
- Johan (JWE) Esterhuysen, November 2015 - 30 Mei 2021 (aanvaar sy emeritaat)
- Adriaan van Tonder, 1 Januarie 2018 -
- Dewald Vermaak
- Niel Muller
Vrye gemeente
[wysig | wysig bron]- Hermanus Theodorus Kriel, 1871 - 1878
Goedemoed-nedersetting/-gemeente
[wysig | wysig bron]- Jozua Francois Naudé, 1910 - 1911 (oorlede 27 Augustus 1948)
- Theophilus Christiaan Dönges, 1920 - 1929 (emeriteer)
- Daniel de Jager, 1938 - 1944
- Frederik Johannes Christoffel van Loggerenberg, 1944 - 1946
- Gideon Jacobus van Zyl, 1946 (oorlede op 18 Oktober daardie jaar)
- Francois Piherres Charles Duminy, 1947 - (minstens 1960)
Bron
[wysig | wysig bron]- Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) Besonderhede oor dié vennootskap op Artefacts.co.za. URL besoek op 27 November 2014.
- ↑ "Eggsa.co.za". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Junie 2012. Besoek op 25 April 2012.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- NG gemeente Aliwal-Noord se webtuiste [dooie skakel].
- Leraarspos geadverteer, Kerkbode, 12 Januarie 2022.