Gaan na inhoud

Pontonbrug

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Evergreen Point Floating Bridge, die langste permanente drywende brug ter wêreld, steek die Washington-meer oos van Seattle oor

'n Pontonbrug, ook bekend as 'n drywende brug, gebruik vlotte om 'n deurlopende dek te ondersteun vir voetgangers en voertuigverkeer. Die dryfvermoë van die stutte beperk die maksimum las wat hulle kan dra.

Die meeste pontonbrûe is tydelik en word slegs in oorlogstyd en burgerlike noodgevalle gebruik. Daar is permanente pontonbrûe in burgerlike gebruik wat snelwegverkeer vervoer en skepe of bote toelaat om langs die rivier of oor die meer te gaan. Permanente drywende brûe is handig vir beskutte wateroorgange as dit nie as ekonomies haalbaar geag word om 'n brug met geankerde voetstukke te bou nie. Sulke brûe kan gedeeltelik verhewe wees, verhoog of verwyder word om waterverkeer deur te laat.

Pontonbrûe is sedert die antieke tye in gebruik en is met groot voordeel in baie oorloë deur die geskiedenis gebruik, soos die Slag van Garigliano, die Slag van Oudenarde, die kruising van die Ryn tydens die Tweede Wêreldoorlog en tydens die Iran-Irakse Oorlog.

Die oorspan tussen Russellville en Dardanelle, Arkansas, destyds die langste pontonbrug ter wêreld. (Foto c. 1913–1926)
Die Bergsøysund-brug in Noorweë gebruik betonpontons. Foto: Bengt-Inge Larsson.

Definisie

[wysig | wysig bron]

'n Pontonbrug is 'n versameling gespesialiseerde, vlakliggende bote of vlotte, wat aan mekaar verbind is om 'n rivier of kanaal oor te steek, met 'n baan of dek bo-oor. Die waterdryfvermoë ondersteun die bote en beperk die maksimum vrag tot die totale en puntopdryf van die pontons of bote.[1] Die ondersteunende bote of vlotte kan oop of toe wees, tydelik of permanent in installasie, en gemaak van rubber, metaal, hout of beton. Die dek kan tydelik of permanent wees en gemaak van hout, modulêre metaal, asfalt of beton oor 'n metaalraamwerk.

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

Die siviele ingenieur wat die pontbrug ontwerp moet die beginsel van Archimedes in ag neem: Elke pont kan 'n vrag ondersteun wat gelyk is aan die massa van die water wat dit verplaas. Hierdie vrag sluit die massa van die brug en die ponton self in. As die maksimum las van 'n bruggedeelte oorskry word, sink een of meer pontons onderwater. Buigsame verbindings moet toelaat dat die een deel van die brug swaarder afgewig word as die ander dele. Die rypad oor die pontons moet relatief lig wees om nie die drakrag van die pontons te beperk nie.[2]

Die verbinding van die brug met die oewer vereis 'n ontwerp wat se aantog nie te steil is nie, die oewer teen erosie beskerm en voorsiening maak vir bewegings van die brug tydens veranderings van die watervlak (gety).[3]

'n Drywende brug kan in 'n reeks gedeeltes gebou word, vanaf 'n geankerde punt aan die oewer. Moderne pontonbrûe gebruik gewoonlik vooraf-vervaardigde drywende strukture. [4]

Die meeste pontbrûe is ontwerp vir tydelike gebruik, maar brûe oor waterliggame met 'n konstante watervlak kan baie langer in plek bly. Hobartbrug, 'n lang pontonbrug wat in 1943 in Hobart gebou is, is eers na 21 jaar vervang.[5] Die vierde Galata-brug wat oor die Goue Horing in Istanboel, Turkye, strek, is in 1912 gebou en is 80 jaar lank bedryf.

'n Voorlopige en ligte pontonbrug kan maklik beskadig word. Die brug kan loskom of oorstroom word as die laslimiet van die brug oorskry word. Die brug kan op 'n gevaarlike manier swaai of ossilleer weens die deining, 'n storm, 'n vloed of 'n vinnigbewegende vrag.

Galery van militêre gebruike

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "UK Military Bridging – Floating Equipment". Besoek op 6 Desember 2014.
  2. "Archimedes' Principle".
  3. "Making the Critical Connections".
  4. "Floating Trail Bridges and Docks" (PDF).
  5. "Historic Hobart floating bridge declared National Engineering Heritage Landmark".

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]