Republic P-47 Thunderbolt
Republic P-47 Thunderbolt | |
---|---|
Tipe | Vegvliegtuig/bomwerper |
Vervaardiger | Republic Aviation |
Ontwerp deur | Alexander Kartveli |
Nooiensvlug | 6 Mei 1941 |
Hoofgebruikers | United States Army Air Forces Britse Lugmag |
Vervaardig | 1941–1945 |
Aantal gebou | 15 636 |
Die Republic P-47 Thunderbolt was 'n Amerikaanse enkelsitplek, enkelmotor, monovlerk vegvliegtuig wat gebruik is deur die United States Army Air Forces tydens die Tweede Wêreldoorlog. Toe die vliegtuig sy nooiensvlug voltooi het, was dit grootste en swaarste enkelsitplekvegvliegtuig wat ooit gebou is. Latere weergawes het swaarder geweeg as 'n Dornier Do 17 bomwerper. Dit is ook die vegvliegtuig waarvan meer gebou is as enige ander Amerikaanse vegvliegtuig en is een van die uitstaande vegvliegtuie van die Tweede Wêreldoorlog.
Groot tegnologiese uitdagings moes oorkom word tydens die ontwikkeling van die P-47. Een daarvan was om te verseker dat die massiewe 3.7 m skroef ten alle tye veilig bo die grond bly. Die groot skroef het veroorsaak dat die landingswiele se stutte langer as normaalweg was, en moes na mekaar intrek om te verseker dat daar plek was vir die agt 12,7 mm masjiengewere. Die diep romp was nodig om die uitlaatgasse na die turboaanjaer agter die kajuit te voer en om die saamgeperste lug na die enjin te vervoer. Die kajuit het oor lugreëling beskik, die masjiengeweerrakke kon verhit word en elektriese brandstofmeters is geïnstalleer.
Ontwikkeling
[wysig | wysig bron]Produksie van die P-47B het in 1942 'n aanvang geneem. Thunderbolt's van die USAAF het vroeg in 1943 in Brittanje aangekom. Die taak van die vliegtuie was om die Boeing B-17 Flying Fortress en Consolidated B-24 Liberator bomwerpers van die Agtste Lugmag te vergesel met die dagligbombardering oor Europa. Die eerste P-47 missie was in April 1943. Die vliegtuig het uitgestaan as 'n hoë-hoogte geleidingsvegvliegtuig. Met 'n nog kragtiger motor en ekstra weggooibare tenks kon die Thunderbolt die bomwerpers vergesel tot in Berlyn.
Die Thunderbolt was ook gebruik in 'n grondaanval rol en die vlieëniers was aangehits om treine aan te val. Die vliegtuig kon ook aansienlike straf absorbeer en was bekend as 'n kry-jou-huistoe-vliegtuig.
Die P-47D het vroeg in 1943 verskyn en was die hoogtepunt van die vliegtuig se ontwikkeling. Die nuwe motor was kragtiger en toegerus met nood waterinspuiting aanjaging, 'n effektiewer turboaanjaer, beter pantser om die vlieënier en meerlaag bande sodat die vliegtuig op die rowwe aanloopbane kan land. Dit kon ook 'n bom van 454 kg onder elke vlerk dra asook 'n weggooibare tenk onder die romp. Later was die borreltipe kajuit toegevoeg wat 'n blindekol agter die vlieënier uitgeskakel het. Die vliegtuig was ook nie geverf nie om die topsnelheid te verbeter.
'n Spesiale, beperkte aantal hotrod-weergawes, die P-47M was ook gebou en verskyn in Desember 1944 om die V-1 vuurpyle te vernietig. Die P-47M het 'n topsnelheid van 756km/h gehad. Dit was toegerus met lugremme om stadiger te kan vlieg sodra vyandelike vliegtuie ingehaal is. Dit het oorwinnings oor die Messerschmitt Me 262 gehad.
Die P-47N was ontwikkel om sy togafstand te kan verbeter; dit was in wese 'n herontwerp. Die vlerke was langspan met brandstoftenks in en die vlerkpunte vierkantig in stede van gepunt. Die model was in produksie vanaf Desember 1944 en bedoel om langtog operasies in die Stille Oseaan te onderneem.
Die Britse Lugmag het ook die Republic P-47 Thunderbolt gebruik en wel vanaf September 1944 in die Verre Ooste teen Japan. Sestien eskaders het die vliegtuie gebruik in grond aanvalle sowel as bomwerper begeleiding. Hulle het min kans gehad om die vliegtuig in luggevegte te gebruik. Twee RAF eskaders het tot in 1946 die Thunderbolt gebruik totdat hulle met die Hawker Tempest vervang is.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die vliegtuig 546,000 vlugte onderneem en in Wes-Europa alleen 3,752 vliegtuie vernietig. Die Thunderbolt was inderdaad een van die beste vegvliegtuie ooit en was in diens in vele lugmagte tot in die middel van die 1950's. Daar was altesaam 15,660 van die vliegtuig gebou waarvan 12,602 D modelle was.
Tegniese besonderhede
[wysig | wysig bron]Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motore | 1 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Pratt & Whitney R-2800-59 Double Wasp 18-silinder stermotor |
Kraglewering per motor | 2 535 perdekrag |
Vlerkspan | 12,4 m |
Lengte | 11,02 m |
Hoogte | 4,47 m |
Vlerkoppervlakte | 27,87 m2 |
Maks. opstygmassa | 7 938 kg |
Maks. snelheid | 697 km/h |
Operasionele hoogte | 12 495 m |
Togafstand | 3,060 km |
Klimvermoë | 976 per minuut |
Bewapening | Agt 12.7 mm masjiengewere en voorsiening vir bomme tot 1134 kg. |
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bron
[wysig | wysig bron]- Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015. ISBN 978-1-84476-917-9