Republiek van Vermont
| |||||
| |||||
Leuse: Vryheid en eenheid Stella quarta decima ("Die viertiende ster") | |||||
Hoofstad | Windsor, later Castleton | ||||
Taal/Tale | Engels | ||||
Regering | Republiek | ||||
Goewerneur | |||||
- 1778–1789, 1790–1791 | Thomas Chittenden | ||||
- 1789–1790 | Moses Robinson | ||||
Wetgewer | Huis van Verteenwoordigers van die edeles van Vermont | ||||
Historiese tydperk | Amerikaanse Rewolusie | ||||
- Onafhanklikheid | 15 Januarie 1777 | ||||
- Toetreding tot die Verenigde State | 4 Maart 1821 | ||||
Geldeenheid | Koperketel |
Die Republiek van Vermont (Engels: Vermont Republic) was 'n onafhanklike Noord-Amerikaanse republiek wat in 1777 gestig is en tot in die jaar 1791 bestaan het. Die republiek het toe die Staat Vermont, die veertiende deelstaat van die Verenigde State geword.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]In 1763 het die Verdrag van Parys 'n einde aan die Noord-Amerikaanse koloniale oorlog tussen Frankryk en Groot-Brittanje gemaak. Die Franse het Vermont net soos Nieu-Frankryk aan die Britte afgestaan, en Groot-Brittanje het nou die hele noordooste van Noord-Amerika oorheers. Dele van die gebied is deur die Provinsie New York en die Provinsie New Hampshire beheer. As gevolg van die omstrede, sogenaamde "New Hampshire Grants" en koning George III se besluit om hierdie gewes by New York in te lyf, het die twee provinsies se gebiede mekaar gedeeltelik gedek.
Stigting
[wysig | wysig bron]Ethan Allen en sy "Green Mountain Boys" het 'n burgermag gevorm wat eers teen die Britte en later teen New York en New Hampshire geveg het. Op 15 Januarie 1777 het die rebelle die onafhanklike "Republiek van New Connecticut" in die gebied uitgeroep, alhoewel dit in die omgangstaal soms ook "Republiek van die Groen Berge" genoem is. Op 8 Julie van dieselfde jaar is die naam van die jong republiek gewysig tot Vermont - afgelei van die Groen Berge se Franse benaming, les Monts verts.
Regeringsvorm
[wysig | wysig bron]Die Grondwet van die Republiek van Vermont is in 1777 as die eerste geskrewe grondwet in Noord-Amerika opgestel en bekragtig. Dit was ook die Nuwe Wêreld se eerste grondwet wat slawerny formeel opgehef het en die aktiewe stemreg aan alle manlike burgers verleen het, sonder aansien van hulle besittings.
Die regering van die Republiek van Vermont het sy eie munte en banknote uitgereik en 'n posdiens ingestel. Die jong staat se eenkamerparlement, die Algemene Vergadering, en die Goewerneursraad het die infanterievlag van die Green Mountain Boys tot nasionale vlag verhef. Met die toestemming van die parlement en die raad het die Goewerneur van die republiek, Thomas Chittenden, ambassadeurs in Frankryk, Nederland en by die destydse Amerikaanse regering in Philadelphia benoem.
Aangesien talle burgers ten gunste van 'n politieke unie met die Verenigde State was, is die Republiek van Vermont soms as 'n "teensinnige republiek" beskryf. Sy onafhanklike status is egter tot die jaar 1791 behou, toe Vermont by die Verenigde State aangesluit het. Die nuwe deelstaat was 'n soort teengewig teen Kentucky, wat slawerny gehandhaaf het. Die toelating van Vermont tot die Unie is gesteun deur die Noorde, die kleiner deelstate en state wat bekommerd was oor die see-tot-see-gebiedstoekennings in besit van ander deelstate.
Thomas Chittenden het die grootste deel van hierdie tydperk as regeringshoof van Vermont gedien en het ook sy eerste goewerneur as deelstaat van die Unie geword.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Allen, Ira (1969) [1798]. The natural and political history of the State of Vermont, one of the United States of America. Charles E. Tuttle Company. ISBN 0-8048-0419-2.
- Bryan, Frank, and John McClaughry. The Vermont Papers: Recreating Democracy on a Human Scale. Chelsea Green Publishing: 1989. ISBN 0-930031-19-9.
- Orton, Vrest. Personal Observations on the Republic of Vermont. Academy Books: 1981. ISBN 0-914960-30-X.
- Van de Water, Frederic Franklyn (1974). The Reluctant Republic: Vermont 1724–1791. The Countryman Press. ISBN 0-914378-02-3.
- The Constitution of the State of Vermont: a Fascimile Copy of the 1777 Original. The Vermont Historical Society: 1977.