Wacho
Wacho (omstreeks 480 - 539) was van 510 tot 539 hoofman (koning) van die Lombarde. Hy het homself tot koning verklaar nadat hy in 510 sy oom, en koning van die Lombarde, Tato, vermoor het en dié se seun Hildechis verslaan het. Wacho het deur middel van huwelike goeie verhoudings opgebou met ander Germaanse koninkryke.
Lewe
[wysig | wysig bron]Wacho was getroud met Radegund, die dogter van Bisinus, koning van die Thüringers. Die huwelik wat die Frankiese koning Teuderik I tussen sy seun Teudebert I en Wacho se dogter Wisigard gereël het, het gedien om die neutraliteit van die Lombarde te waarborg in die oorlog wat die Franke gevoer het teen die Thüringers na die dood van Theodorik die Grote in 526.
'n Paar jaar later is 'n huwelik gereël tussen Teudebald, 'n ander seun van Teuderik, en Vuldetrada of Waldrada, die tweede dogter van Wacho. Dit het gedien om die alliansie tussen die Franke en Lombarde te versterk. Hierdie samewerking het die aandag getrek van die Oos-Romeinse Ryk, wat diplomatieke betrekkinge met Wacho tot stand gebring het.
Na die dood van sy vrou Radegund is Wacho getroud met Austrigusa, 'n dogter van die koning van die Gepide, Turrisind. Uit hierdie verbintenis is twee dogters gebore, Wisigard en Waldrada, wat albei met Frankiese konings getrou het.
Die verbintenisse wat Wacho gemaak het, het hom baie gebaat. Met die ondersteuning van die Franke het hy daarin geslaag om die Suebe, die sogenaamde Donau-Suebe, wat aan die Donau gewoon het, te onderwerp. Aan die einde van sy bewind het hy die hele voormalige Romeinse provinsie Pannonië beheer, vergelykbaar met hedendaagse Hongarye.
Deur Silinga, dogter van die Herule-koning Rudolf, het Wacho 'n seun gehad, Waltari wat sy opvolger geword het.