Gaan na inhoud

Totalitarisme

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Josef Stalin en Adolf Hitler, leiers van onderskeidelik die Sowjetunie en Nazi-Duitsland, word histories beskou as hoofde van die staat wie se vorm van regering totalitêr was.

Totalitarisme (of totalitêre regering) verwys na ‘n ideologie waarvolgens die owerheid geen beperkinge erken vir sy mag nie, en daarna strewe om elke aspek van publieke en private lewe te reguleer, sover dit uitvoerbaar is.[1] Totalitêre regimes behou politieke mag deur 'n allesomvattende propaganda deur middel van politiekbeheerde massamedia-uitsendings, ’n enkele party wat dikwels gekenmerk word deur persoonskultusse, beheer oor die ekonomie, regulering en beperking van spraakvryheid, massamonitering, en wydverspreide aanwending van terreur.

Die konsep totalitarisme het vir die eerste keer uitdrukking gevind in die 1920's by die Italiaanse fasciste. Die konsep het prominensie verkry in Westerse anti-kommunistiese politieke diskoers in die tydvak van die Koue oorlog, ten einde veronderstelde ooreenkomste tussen Nazi-Duitsland en ander fascistiese regimes enersyds, en die Sowjet-kommunisme andersyds uit te lig.[2][3][4][5][6]

Verdere definiëring

[wysig | wysig bron]

Totalitarisme propageer die heersende ideologie in 'n totalitêre staat as die enigste moontlike weg na 'n beter toekoms. Dit is 'n stelsel waarin die staat byna volkome beheer het oor mense se daaglikse lewens, polities, kultureel, filosofies, godsdienstig, sosiaal en ekonomies. Dit moet van outoritarisme onderskei word. Outoritêre stelsels is stelsels waarin die regering min of geen politieke vryheid toelaat nie, en daar is gewoonlik geen (regte) vrye verkiesings nie. Maar in so 'n staat is ander areas van die sosiale lewe nie so streng deur die regering gereguleer nie.

Voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die konsep van totalitarisme gaan terug na die Italiaanse denker Giovanni Gentile, wat 'n stato totalitario voorgestaan het, 'n staat wat op alle terreine van die sosiale lewe sou ingryp. Benito Mussolini het hierdie voorspraak van hom geneem en dit die doel van sy fascisme gemaak, maar hy sou nooit 'n werklik totalitêre staat tot stand bring nie: in die praktyk het die magsuitoefening in Fascistiese Italië berus op stryd en kompromieë tussen staat, kerk, weermag, monargie en die Fascistiese Party.[7]

Tydens en veral na die Tweede Wêreldoorlog het "totalitarisme" 'n nuwe betekenis gekry: van toe af het dit hoofsaaklik gedien om ooreenkomste tussen Nazi-Duitsland en Stalinisme uit te wys. Die eerstes wat hierdie ooreenkoms raakgesien het, was Leon Trotsky, wat in 1937 'n "dodelike ooreenkoms" tussen die twee beskryf het (maar nog nie melding gemaak het van totalitarisme nie), en Rudolf Hilferding, wat kort voor sy dood 'n artikel daaraan gewy het (hoewel hy gepraat het van die 'totalitêre' Nazi-regime).[8]

Totalitarisme as burokrasie

[wysig | wysig bron]

Hannah Arendt het die woord sy eietydse betekenis gegee in haar boek van 1951, The Origins of Totalitarianism. Die hoofteorie van totalitarisme het egter dié van Carl Joachim Friedrich en Zbigniew Brzeziński geword, wat vanaf 1953 ses kriteria van totalitêre stelsels geïdentifiseer het:[9]

  • die teenwoordigheid van een staatsideologie, waarin die hele volk moet glo;
  • 'n eenpartystaat, veral as dit deur een persoon gelei word;
  • 'n geheime polisie met verreikende magte;
  • 'n staatsmonopolie op die kommunikasiemiddele;
  • 'n monopolie van geweld in die hande van die staat;
  • staatsbeheer van die ekonomie.

Friedrich en Brzezínski se teorie, wat op die hoogtepunt van die Koue Oorlog ontwikkel is, was tegelyk 'n wetenskaplike projek en 'n poging om anti-fascistiese sentiment in anti-kommunisme te omskep. Na aanleiding van Friedrich en Brzezínski het die neoliberale Friedrich August Hayek en Milton Friedman die idee verwoord dat burokratisering en toenemende regeringsmag die weg na 'n totalitêre staat is. Die Westerse welsynstate sou op hierdie pad gewees het.

Verskeie historici van die Nazi-tydperk in Duitsland en die Stalinistiese Sowjetunie het twyfel uitgespreek oor die nut van die totalitarisme wat deur Friedrich en Brzezinski beskryf is, omdat dit in beide gevalle 'n te sterk indruk sou gee van die staat as 'n effektiewe, goed-geoliede terreur masjien. Volgens Hans Mommsen blyk Nazi-Duitsland byvoorbeeld baie minder georganiseerd te wees as wat die gewone beeld sou suggereer, en die terreur het ontstaan juis weens die gebrek aan organisasie. Ian Kershaw was ook krities oor die konsep van totalitarisme en die toepassing daarvan op Nazi-Duitsland, hoewel hy nie so ver as Mommsen gaan nie.[10] Soortgelyke ontledings is van die Sowjetunie gemaak.

Totalitarisme as 'n skynburokrasie

[wysig | wysig bron]

Nog 'n teorie van totalitarisme gaan terug na Leonard Shapiro en is in Nederland deur Bart Tromp verdedig. In hierdie siening is burokrasie nie die wesenlike kenmerk van Hitler se Duitsland en Stalinisme nie, maar regeringloosheid: wette, reëls en instellings bly blykbaar voortbestaan, maar in werklikheid regeer 'n groot leier na willekeur. Mens moet dus nie praat van 'n totalitêre staat nie, maar van 'n totalitêre regime, gebaseer op 'n kombinasie van staat, party en leier, met vyf belangrike kenmerke:[11]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Robert Conquest Reflections on a Ravaged Century (2000) ISBN 0-393-04818-7, bladsy 74
  2. Andrew Defty, Britain, America and Anti-Communist Propaganda 1945-1953: The Information Research Department, 2007, hoofstukke 2-5
  3. Achim Siegel, The totalitarian paradigm after the end of Communism: towards a theoretical reassessment, 1998, bladsy 200 "Konsepte van totalitarisme het die wydste aansien geniet met die hoogtepunt van die Koue Oorlog. Sedert die laat-1940's, veral sedert die Koreaanse oorlog, is dit saamgevat in ‘n verreikende, selfs baasspelende ideologie, waardeur die politieke elite van die Westerse wêreld gepoog het om die bedeling tydens die Koue Oorlog te verklaar en selfs te regverdig"
  4. Nicholas Guilhot, The democracy makers: human rights and international order, 2005, bladsy 33 "Die opposisie tussen die Weste en Sowjet-totalitarisme is dikwels aangebied as ‘n opposisie beide moreel en epistemologies tussen waarheid en valsheid. Die demokratiese, sosiale en ekonomiese aansprake van die Sowjetunie is tipies beskou as "leuens" en as die produk van ‘n doelbewuste en veelvormige propaganda... In hierdie konteks was die konsep totalitarisme op sigself ‘n bate, aangesien dit die omskakeling van vooroorlogse anti-fascisme na naoorlogse anti-kommunisme gefasiliteer het.
  5. David Caute, Politics and the novel during the Cold War, 2009, bladsye 95-99
  6. George A Reisch, How the Cold War transformed philosophy of science: to the icy slopes of logic, 2005, bladsye 153-154
  7. Tromp (1993, bl. 316): "Mussolini se totalitêre staat was in werklikheid nóg totalitêr nóg ’n staat: dit was die chaos en verwarring wat een man geskep het met die hulp van die massa nadat hy deur terreur en demagogie gemobiliseer het."
  8. Tromp (1993), bl. 317.
  9. Tromp (1993), bl. 318.
  10. In Duitsland wentel hierdie bespreking deels rondom die vraag of die Nazi-regime meer ooreenkomste met fascisme of met die Sowjetunie onder Stalin getoon het.
  11. Tromp (1993), bl. 323-328.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Hannah Arendt, The Origins of Totalitarianism, World Publ. Co., 1951; 2de uitgawe Allan & Unwin, Londen, 1968
  • Hannah Arendt, Anti-semitism 1968 - (The origins of totalitarianism, vol. 1)
  • Hannah Arendt, Imperialism, 1968 (The origins of totalitarianism, vol. 2)
  • Hannah Arendt, Totalitarianism, Harcourt Brace, San Diego 1979 - (The origins of totalitarianism, vol. 3).
  • Bart Tromp, De wetenschap der politiek: verkenningen, DSWO Press, 1993