Gaan na inhoud

Universiteit van Glasgow

Koördinate: 55°52′19″N 4°17′15″W / 55.87194°N 4.28750°W / 55.87194; -4.28750
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Universiteit van Glasgow
University of Glasgow
Die hoofgebou op Gilmorehill

Latyn: 'Universitas Glasguensis'
Leuse:Via, Veritas, Vita
Leuse in Afrikaans:"Die Weg, die Waarheid, die Lewe"
Leuse in Engels:"The Way, the Truth, the Life"
Gestig:1451
Tipe:Openbare universiteit
Befondsing:£129.5 miljoen [1]
Kanselier:Kenneth Calman
Rektor:Aamer Anwar
Prinsipaal:Prof Anton Muscatelli
Personeel:6 896[2]
Studentetal:23 357[3]
Voorgraadse studente:16 931
Nagraadse studente:6 426
Ligging:Glasgow,
Vlag van Skotland Skotland
,
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk

55°52′19″N 4°17′15″W / 55.87194°N 4.28750°W / 55.87194; -4.28750
Webtuiste:http://www.gla.ac.uk/

Die Universiteit van Glasgow is die vierde oudste universiteit in die Engelssprekende wêreld en een van Skotland se vier historiese universiteite.

Die Cloisters (ook bekend as die Undercroft) verbind die hoofgebou se oostelike en westelike binneplase (quadrangles) met mekaar
'n Uitstallingsaal in die universiteit se Hunterian Museum is aan Romeinse boukuns en die Muur van Antoninus gewy

Die universiteit is in 1451 in Glasgow gestig en is tans een van negetien tersiêre onderwysinstellings in die Verenigde Koninkryk wat by die top 100-akademiese instellings ter wêreld gereken word.

Die universiteit was in die 18de eeu 'n belangrike sentrum van die Skotse Verligting en was vanaf die 19de eeu 'n baanbreker in Britse tersiêre onderwys wat in die opvoedkundige behoeftes van studente uit die groeiende stedelike middelklas voorsien het, net soos dié van studente uit die hoër klas. Die Universiteit van Glasgow het studente vir 'n professionele loopbaan in die regte, geneeskunde, die staatsdiens, onderwys en die kerk opgelei. 'n Kleiner aantal studente het akademiese opleiding in die wetenskappe en ingenieurswese ontvang. Die universiteit is tans 'n lid van die Russell-groep van elite-universiteite en van Universitas 21.

Die Universiteit van Glasgow se hoofkampus is sedert 1870 op Gilmorehill in die West End van Glasgow geleë. 'n Aantal universiteitsgeboue is elders geleë: naby die meer Loch Lomond, in Millport (die Universiteit se Mariene Biologiese Stasie) en op die Crichton-kampus te Dumfries.

Die universiteit is die enigste in Skotland met fakulteite vir regte, geneeskunde, tandheelkunde en diergeneeskunde. Tans studeer 23 000 voor- en nagraadse studente uit 120 lande aan die universiteit.

Oud-studente van die universiteit sluit ses Nobelpryswenners, twee Britse eerste ministers en 'n aantal leiers van die grootste politieke partye in die Verenigde Koninkryk en Skotland in.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die Universiteit van Glasgow is op 7 Januarie 1451 deur pous Nicolaas V gestig. Die 15de eeu was 'n periode waartydens in baie Europese lande hoër onderwysinstellings in die lewe geroep is. In Glasgow was dit biskop William Turnbull († 1484) wat die stigting van 'n stedelike kollege bevorder het om geestelikes in Wes-Skotland op te lei, net soos St. Andrews wat sedert 1413 as onderwysinstelling vir die klerus van Oos-Skotland gedien het.

Die eerste lesings is nog in die Dominikaneklooster en in die katedraal gehou, maar in 1460 is 'n groot gebou noord van die klooster deur James Lord Hamilton († 1479) aan die kollege verhuur wat vierhonderd jaar lank as die universiteit se hoofgebou sou dien. Ofskoon die pouslike bul voorsiening vir onderrig in alle fakulteite gemaak het, het die meeste studente in kunste gestudeer, terwyl net 'n minderheid grade in teologie of burgerlike en kanoniese reg verwerf het.

Na senior dosente is as regents verwys, en van hulle is verwag dat hulle klasse in 'n verskeidenheid vakke moes gee. Van die vroeë dosente was bekende persoonlikhede soos John Major (1469–1550) wat in 1521 sy werk A History of Greater Britain gepubliseer het. In die eerste honderd jaar van sy bestaan was die universiteit nou verbonde met die katedraal, en die meeste personeellede het belangrike funksies in die diosese vervul. Toe die Protestantse Hervorming in 1560 'n einde aan die Rooms-Katolieke Kerk se oorheersende invloed gemaak het, het aartsbiskop James Beaton (1517–1603) na Parys gevlug en nie net die universiteit se staf nie, maar ook 'n groot deel van sy argiewe saamgeneem. Onderwys by die universiteit is enkele jare lank ontwrig, en studentegetalle het gedaal terwyl daar net een dosent was wat klasse kon gee.

Die Protestantse hervormers was net soos hul Rooms-Katolieke voorgangers verbind tot hoër onderwys en het Andrew Melville (1545–1622) ná sy terugkeer uit Genève as rektor van die universiteit benoem. In 1577 het 'n koninklike oktrooi voorsiening gemaak vir die herstigting (Nova Erectio) van die universiteit, en alhoewel middele in die tydperk tussen die laat 1620's en 1662 beperk was, het die akademiese gehalte verbeter en is 'n nuwe universiteitsgebou in High Street opgerig. Gelykertyd het 'n ruim biblioteek ontstaan.

In dié periode was nog 'n meerderheid van die studente van voorneme om as predikante van die Gereformeerde Kerk te dien, maar daar was 'n groeiende getal van studente wat ander ambisies gehad het, meestal die seuns van adellikes. Die ou tradisies is steeds gevolg – so was alle studente verplig om op die kampus te woon, rooi tabberds te dra en slegs Latyn as omgangstaal te besig. In 1702 het die studentegetal al vierhonderd beloop, en die meeste van hulle het intussen van privaat losies gebruik gemaak.

In die volgende vyftig jaar het die uitbreiding van Glasgow se handelsaktiwiteite die demografiese samestelling van die kampusgemeenskap ingrypend verander. Steeds meer studente was die seuns van plaaslike koopmanne wat dikwels net een of twee jaar aan die universiteit gestudeer het. Daarnaas het die universiteit talle Ierse Presbiterianers en Engelse Nie-konformiste gelok waarvan sommige uit oorsese lande, hoofsaaklik Noord-Amerika, gekom het.

Die ou stelsel van regents wat klas in 'n reeks vakke gegee het is vervang deur professionele leerstoele vir spesifieke vakgebiede. In 1712 het die universiteit sy verbintenis tot onderrig in regswetenskappe en geneeskunde bevestig. Teen die middel van die 18de eeu het 'n reeks ervare professore en eersterangse wetenskaplikes aan die universiteit gedoseer, onder wie Francis Hutcheson (1730-1746), Adam Smith (1723–1790), Joseph Black (1728–1799) en William Cullen (1710–1790). Skots of Engels is as onderrigmedium gebruik, en die meerderheid studente het steeds in kunste gestudeer. Maar net enkele van hulle het akademiese grade behaal.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Financial Statements for the Year to 31 July 2012" (PDF) (in Engels). University of Glasgow. 15 Desember 2010. p. 17. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Julie 2017. Besoek op 23 Januarie 2011.
  2. LinkedIn.com: University of Glasgow. Besoek op 7 Oktober 2018[dooie skakel]
  3. "Student Numbers". University of Glasgow. 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2014. Besoek op 3 Januarie 2013. (en)

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]