Gaan na inhoud

Violette Szabo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Violette Szabo

Violette Reine Elizabeth Szabo, gebore Bushell (26 Junie 1921 in Levallois-Perret – 18 Januarie 1945 in Ravensbrück) was 'n Britse geheime agent in Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Daar is 'n gedenkplaat op die muur van die huis waar Violette Szabo in Burnleyweg, Stockwell, grootgeword het.

Violette Bushell is in Frankryk gebore as die tweede kind van vyf en enigste dogter van die Brit Charles George Bushell en die Fransvrou Reine Blanche Leroy. Violette het in Noyelles-sur-Mer skoolgegaan. Die gesin het na Londen verhuis, maar weens die Groot Depressie het Violette en haar jonger broer Dickie by 'n tante in Pikardië (Frankryk) gebly. Toe sy elf was, is sy met haar gesin in Londen herenig. Sy het saam met haar vier broers en neefs gimnastiek, fietsry en skaats geniet, en daarom is sy as 'n tomboy geëtiketteer. Haar pa het haar geleer skiet. Sy het die hoërskool in Brixton bygewoon, waar sy uitgestaan het omdat sy vlot Frans gepraat het. Haar pa het net Engels gepraat, maar as hy nie daar was nie, het die gesin Frans gepraat. Toe sy 14 was, het sy by 'n Franse korsetwinkel in South Kensington begin werk en later by Woolworths in Oxfordstraat. Ná ’n rusie met haar pa het sy uit die huis gehardloop en na Frankryk teruggekeer. Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het sy parfuum in Le Bon Marché in Brixton verkoop.[1]

Vroeg in 1940 het sy by die Women's Land Army aangesluit en aarbeie in Fareham, Hampshire gepluk. Sy het na Londen teruggekeer en in 'n ammunisiefabriek in Acton gewerk.

Huwelik

[wysig | wysig bron]

Sy het die Fransman van Hongaarse afkoms, hoofadjudant Etienne Szabo van die 13de Halfbrigade van die Vreemde Legioen, op 14 Julie 1940 by die parade in Londen vir die Franse Nasionale Dag ontmoet. Haar ma het hom vir ete genooi. Violette was 19 en Etienne 31 en hulle het verlief geraak en op 21 Augustus 1940 in Aldershot getrou.

Hulle het 'n wittebrood geneem voordat Etienne Liverpool vir Senegal verlaat het om met die Vrye Franse in die Slag van Dakar te veg. Hy het daarna na Afrika beweeg om teen Vichy-Frankryk te veg, eers in Eritrea en Sirië in 1941.

Violette het tydens die Blitz as 'n telefoonoperateur vir die Algemene Poskantoor in Londen gewerk. Violette het Etienne vir 'n week in Liverpool in die somer van 1941 gesien. Op 11 September 1941 het sy by die Hulpgebieddiens aangesluit. Sy het by Leicester opgelei en toe by die lugafweerverdediging by Oswestry, Shropshire, aangesluit. Na bykomende opleiding by Anglesey het sy van Desember 1941 tot Februarie 1942 lugafweer te Frodsham in Cheshire naby Warrington bedryf. Sy was swanger en het teruggekeer na Londen om op 8 Junie 1942 geboorte te skenk aan haar dogter Tania Damaris Desirée Szabo by St Mary's Hospitaal. Sy het in 'n woonstel by 36 Pembridge Villas in Notting Hill gewoon. Etienne het op 10 Junie deelgeneem aan 'n verdediging teen die 15de pantserafdeling van Erwin Rommel se Afrika Korps naby Bir Hakeim in Libië.

Violette het haar baba aan 'n oppasser in Havant, Hampshire en Mill Hill in Londen toevertrou terwyl sy saam met haar pa by die South Morden-vliegtuigfabriek gewerk het. Daar het sy verneem dat haar man gesterf het aan 'n borswond by Qaret el Himeimat aan die begin van die Tweede Slag van El Alamein op 24 Oktober 1942, sonder om ooit sy dogter te sien.[2]

Special Operations Executive

[wysig | wysig bron]

Violette het by die Special Operations Executive (SOE) aangemeld. Sy is vir 'n onderhoud oor oorlogswerk genooi met E. Potter, alias van die speurromanskrywer Selwyn Jepson. Szabo het op 1 Julie 1943 veiligheidsklaring gekry en haar opleiding as veldagent het op 10 Julie begin. As 'n dekmantel het sy by die First Aid Nursing Yeomanry aangesluit, 'n burgerlike diens wat dikwels deur SOE gebruik was as 'n dekmantel vir vroulike agente.[3]

Van 7 tot 27 Augustus is sy by Winterfold House opgelei en het daarna in September en Oktober na Arisaig in die Skotse Hoogland vertrek.

Toe is sy na Beaulieu (Hampshire). Toe leer sy valskermspring by die Ringway-lughawe naby Manchester. Met haar eerste sprong het sy haar linkerenkel verstuit[4] en na Bournemouth gegaan vir herstel. Sy het weer valskermopleiding geneem en in Februarie 1944 geslaag.

Op 24 Januarie 1944 het sy haar testament in die teenwoordigheid van Vera Atkins en majoor R. A. Bourne Paterson van die SOE gemaak, en haar dogter as enigste erfgenaam en haar ma as eksekuteur benoem.

Tydens die tweede opleidingsessie het sy vir Philippe Liewer ontmoet. In Londen het sy vir Bob Maloubier ontmoet. SOE het haar as koerier vir Liewer aangestel. Haar opdrag is uitgestel toe Harry Peulevé aangekondig het dat Claude Malraux – broer van André Malraux – en radio-operateur Isidore Newman in hegtenis geneem is. Szabo het 'n opknappingskursus in radiotegnologie gevolg. Leo Marks het vir haar sy gedig The Life That I Have as 'n kodesleutel gegee.

Eerste opdrag

[wysig | wysig bron]
Westland Lysander MkIII (SD).

Op 5 April 1944 het Szabo en Liewer van Tempsford in Bedfordshire in 'n B-24 Liberator-bomwerper gevlieg en hulle is oor Cherbourg-Octeville naby Azay-le-Rideau neergeskiet.

Szabo het na Rouen en Dieppe gereis om inligting in te samel. Die 80 mense in Rouen en die 40 langs die kus is almal verraai. Szabo het na Parys teruggekeer om Liewer in kennis te stel en vir haarself klere en parfuum te koop. Sy het berig dat plaaslike fabrieke wat wapens vir die Duitsers vervaardig, vir bombardement geteiken word.

Sy het saam met Bob Large op 30 April 1944 met 'n Westland Lysander na Engeland teruggevlieg. Daar is op hulle met lugafweervuur by Chateaudun gevuur. ’n Band het gebars tydens die landing.

Tweede opdrag

[wysig | wysig bron]

’n Volgende sending in die nag van 4 tot 5 Junie is weens storms gekanselleer. 'n Poging gedurende die nag van 5 op 6 Junie is laat vaar toe die weerstandsvegters die landingsterrein verlaat het weens Duitse patrollies. Op 8 Junie, net ná D-dag, het Szabo en drie mans vanaf RAF Harrington in 'n USAAF Consolidated B-24 Liberator opgestyg om oor Sussac naby Limoges met valskerms te spring.

Sy moes die aktiwiteite van die Maquis (Franse weerstandsbeweging) koördineer om Duitse kommunikasie te saboteer. In Limousin het Philippe Liewer die Maquis swak georganiseer gevind en Violette Szabo na die beter georganiseerde Maquis in Corrèze en die Dordogne gestuur, waar Jacques Poirier by die gearresteerde Harry Peulevé oorgeneem het.

Op 10 Junie het Szabo om 09:30 vertrek in die Citroën van versetleier Jacques Dufour. Sy wou self fietsry. In La Croisille-sur-Brance het hulle die 26-jarige weerstandsvegter Jean Bariaud opgetel.

Buite Salon-la-Tour het hulle 'n padblokkade van die 2de SS-Panzer-Division Das Reich teëgekom, wat op soek was na hul ontvoerde Sturmbannführer Helmut Kämpfe. Dufour het stadiger gery en die ongewapende Bariaud het uit die motor gespring en ontsnap.

Dufour het stilgehou en hy en Szabo het elkeen op hul sy uit die motor gespring en 'n skietgeveg het begin. ’n Vrou wat uit ’n skuur gekom het, is deur die Duitsers doodgeskiet. Szabo het oor die pad na Dufour se kant gestap en hulle het die veld ingehardloop. Szabo het weer haar enkel verstuit, wat sy tydens haar eerste valskermsprong verstuit het. Dufour kon ontsnap, maar Szabo is gevang.

Arrestasie

[wysig | wysig bron]

Violette Szabo is na die Sicherheitsdienst in Limoges oorgeplaas, waar SS-Sturmbannführer Aurel Kowatsch, bekend vir die Tulle-slagting, haar vier dae lank ondervra het. Volgens medegevangene Huguette Deshors is sy ook daar verkrag.[5] Van daar is sy na die Centre pénitentiaire de Fresnes naby Parys oorgeplaas. Sy is na die Gestapo-hoofkwartier by Fochlaan 84 geneem vir ondervraging met marteling deur Hans Joseph Kieffer en Horst Kopkow.

Op 8 Augustus 1944 is sy saam met Denise Bloch en 37 manlike gevangenes op 'n trein gelaai.[6] Hulle het verby Châlons-en-Champagne, Reims, Straatsburg, Saarbrücken gery na 'n deurgangskamp in Neue Bremm. Na tien dae is die vroue na Ravensbrück geneem, waar hulle op 25 Augustus 1944 aangekom het.

Ravensbrück

[wysig | wysig bron]

Sy het die lewe van Hortense Clews gered, wie se been met gangreen besmet was. Szabo, Denise Bloch, Lilian Rolfe en Peter Lake moes dwangarbeid in die Heinkel-fabriek in Torgau doen. Hulle het geweier om ammunisie te maak en moes aartappels grawe.

Ná ’n opstand in Torgau is Szabo, Bloch, Rolfe en Lake op 6 Oktober na Ravensbrück teruggestuur. In Oktober 1944 is hulle na 'n gevangeniskamp in Königsburg gestuur, waar hulle bome moes afkap en boomstompe moes opgrawe om 'n vliegveld te bou.[7]

Hulle is omstreeks 20 Januarie 1945 na Ravensbrück teruggestuur. Op 18 Januarie 1945, volgens Ravensbruck-gevangeneboek, is Violette Szabo tereggestel en haar lyk is verbrand.

Sy het postuum 'n George-kruis op 17 Desember 1946 ontvang, toegeken aan haar vyfjarige weesdogter Tania.[8] Sy is ook postuum bekroon met 'n Croix de guerre in 1947 en die Médaille de la Résistance française in 1973. In Wormelow Tump in Herefordshire is The Violette Szabo GC Museum geleë op 'n plaas wat aan haar neefs behoort, waar Violette voor die oorlog gebly het.

Haar lewe is in 'n film gemaak as Carve Her Name with Pride.

Medaljes

[wysig | wysig bron]
  • George Cross (Postuum) op 17 Desember 1946
  • 1939-1945 Star
  • France and Germany Star
  • War Medal 1939-1945
  • Croix de guerre 1939–1945 in 1946
  • Versetmedalje in 1973

Verwysings

[wysig | wysig bron]