Adigea
Republiek Adigea (Республика Адыгея) | |
---|---|
Ligging van Adigea in Rusland | |
Land: | Russiese Federasie |
Russiese naam: | Республика Адыгея |
Plaaslike naam: | Адыгэ Республик |
Status: | Outonome republiek |
Federale distrik: | Suid |
Ekonomiese streek: | Noord-Kaukasus |
Hoofstad: | Maikop |
Rang: oppervlakte: | 81 |
Oppervlakte: | 7798,4 km² |
Wateroppervlakte: | 5,7% |
Rang: bevolking: | 74 |
Bevolking: | 447 109 (2002) |
Tale: | Russies, Adighe |
Godsdiens: | O.a. Islam |
President: | Aslan Tchakoesjinof |
Premier: | Wladimir Samozjenkof |
Amptelike webtuiste: | www.adygheya.ru |
Volkslied: | Volkslied van Adigea |
Tydsone: | 3 |
Wapen |
Vlag |
Adigea (Russies: Республика Адыгея; Adighe: Адыгэ Республик) is ’n outonome republiek (’n deelgebied van Rusland). Dit word heeltemal omring deur die Krasnodar-krai.
Geografie
Die republiek lê aan die voet van die Kaukasus-gebergte, met vlaktes in die noorde en berge in die suide. Ongeveer 40% van die totale oppervlakte bestaan uit bosse.
Die bevaarbare rivier Koeban is met ’n lengte van 870 km een van die belangrikste riviere in die streek. Dit vorm ’n deel van die noordelike grens van Adigea.
Klimaat
- Gemiddelde temperatuur Januarie: -2 °C
- Gemiddelde temperatuur Julie: +22 °C
- Gemiddelde jaarlikse neerslag: 700 mm
Geskiedenis
Adigea het op 24 Augustus 1922 ’n outonome oblast van Rusland geword. Toe was Krasnodar die bestuursentrum. Van 13 Augustus 1928 af het Adigea onder die jurisdiksie van die Krasnodar-krai geval.
Maikop (die huidige hoofstad) het in 1936 die bestuursentrum geword toe die grense van die oblast verander het. Op 3 Julie 1991 het Adigea ’n outonome republiek van die Russiese Federasie geword. Die eerste president was Aslan Alijewitsj Dzjarimof, wat in 1992 verkies is. Hy is in 2007 opgevolg deur Aslan Kitowitsj Tchakoesjinof.
Ekonomie
Hoewel dit nou een van die armste dele van Rusland is, het dit ’n oorvloed van bosse en vrugbare grond. Die gebied is veral bekend vir sy graan, sonneblomme, tee en tabak. Daar is ook veeteelt (skape en varke).
Die belangrikste nywerhede is: voedsel en hout- en metaalbewerking.
Adigea is verder ryk aan olie en aardgas. Ander grondstowwe wat daar aangetref word, is goud, silwer, wolfram en yster.
Bevolking
In die republiek woon oorwegend Russe, wat in 2002 altesaam 64,5% van die bevolking uitgemaak het. Die Adighe-volk, wat in 1926 nog 44,8% van die bevolking was, maak sedert die dertigerjare slegs 20-24% van die bevolking uit (2002-syfer: 24,2%). Op die oomblik is dié persentasie egter besig om weer te styg. Hulle woon veral in die noordwestelike en noordoostelike uithoeke van die republiek. Ander minderhede is in 2002 gevorm deur die Armeniërs (3,4%), Oekraïners (2,0%), Koerde (0,8%) en Tatare (0,7%).
Groot stede en dorpe
Wikimedia Commons bevat media in verband met Adigea. |
- Maikop (Майкоп) – 156 931 inwoners
- Jablonofski (Яблоновский) – 25 063
- Enem (Энем) – 17 654
- Giaginskaja (Гиагинская) – 15 160
- Adigeisk (Адыгейск) – 12 209
- Chanskaja (Ханская) – 11 290
- Toelski (Тульский) – 10 502
(2002-volkstelling)