Anschen Conradie's Reviews > Die Waterplek: Gabriëllië

Die Waterplek by Carina Stander
Rate this book
Clear rating

by
23680296
's review


#DieWaterplekGabriëllië – Carina Stander
#ProteaBoekhuis

Die 20-jarige Eron Verberger, die honderdste Bergengel, se terugkeer na Gabriëllië val saam met die Uitdooftyd, misdaadanargie wat heers weens die afwesigheid van ‘n nasionale ooreenkoms oor hoe om die einde van die Skoonbrand te hanteer. Eron se stryd is meer as die eksterne, die verraad van Talia, sy ma se politieke gevangenisskap, en sy skeiding van Lia, want die interne stryd is ewe werklik: die teenstrydighede in sy bloedlyn, die duister Gibborim teenoor die suiwer Bergengele, vereis van hom om die teenoorgesteldes in homself te laat saamwerk.

Daar kan – en tereg ook so – lank en onderhoudend gedebatteer word oor die genre van die trilogie: dis ‘n bildungsroman, ‘n allegorie, en, terselfdertyd, ‘n uitgebreide, volgehoue metafoor. Alhoewel sommige dit as fantasie beskou, is ek minder seker van daardie etiket: die karakters is realisties en potensieel-werklik en lewe en funksioneer eweneens in ‘n realistiese en potensieel-werklike ruimte, wat uiteenlopende vervoerstelsels, soos perde en moltreine, insluit. Enkele elemente wat as fantasie manifesteer, sal meer toepaslik as magiese realisme beskryf kan word.

Interteks speel ‘n groot rol; werklike geskiedenis, soos die Skoonbrand teenoor die Engelse se Verskroeide Aarde-beleid, en die landuit vlug van geskoolde arbeid na ‘n rewolusie, asook ekokritiek (stroping, plundery en swak boerderymetodes wat erosie en gronduitputting tot gevolg het) sal die oplettende leser vinnig opval.

Intertekstualiteit ten opsigte van die Bybel verryk telkens die teks en skep ‘n atmosfeer van verwondering. Soos Elia word daar uitgeroep: ‘Net ek alleen het oorgebly in hierdie regio, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring...’ (90), ‘n blote aanraking verleen krag aan ‘n swakkere (113), drome soos die van Johannes se Patmos-ervaring verontrus: ‘Gisteraand het ek ‘n ontstellende droom gehad...hoe die perde tot by hulle borskaste wegsink in bloed.’ (126), die opening van geestesoë om die aanwesigheid van hulp in ‘n desperate gevegsituasie te kan waarneem (224), die uitspruit van lote uit ‘n staf (315), en die profesie dat die seuns visioene sal sien en die oumense drome sal droom (330) vertroos en bemoedig karakters.

Die verwysing na die Addergeslag, die oorblyfsels van die boosaardige voormenslike spesie, die Gibborim het ook sy oorsprong uit Bybelverwysings in Genesis 6, Numeri 13, en die apokriewe boek van Henog.

Soos wat te verwagte is van ‘n skrywer wat ook ‘n gerekende digter en uitstaande visuele kunstenaar is, is die taalgebruik deurgaans poëties-mooi; ‘Woede is die enigste emosie wat nie is soos dit van buite lyk nie. Agter woede skuil altyd iets anders – weerloosheid, ontmagtiging, vernedering, verlies.’ (110)

Humor verlig die teks in vele gedaantes: ‘...terwyl hy sy sny brood in elf identiese blokkies verdeel weens sy ongelooflike obsessie met priemgetalle.’ (19), en ‘Ek het al vergeet dat Anav soos ‘n rankplant praat.’ (119)

‘n Interessante aspek van die roman, naamlik dat dit in die verlede tyd geskryf is, wat die indruk skep dat dit ‘n epiese vertelling is wat terugskouend deur ‘n grysaard aan sy nageslag vertel word, word uitgelig, bevestig en verduidelik deur die slotwoorde (348) en bied ‘n waardige afsluiting vir hierdie merkwaardige trilogie waarvan die derde hoofstuk in twee dele verdeel is.

#Uitdieperdsebek
1 like · flag

Sign into Goodreads to see if any of your friends have read Die Waterplek.
Sign In »

Reading Progress

November 29, 2024 – Shelved as: to-read
November 29, 2024 – Shelved
January 1, 2025 – Started Reading
January 14, 2025 – Finished Reading

No comments have been added yet.