Gaan na inhoud

Wasili Soerikof

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Wasili Soerikof

Selfportret (1879).
Geboortenaam Wasili Iwanowitsj Soerikof
Gebore (1848-01-24)24 Januarie 1848
Krasnojarsk, Russiese Keiserryk
Sterf 19 Maart 1916 (op 68)
Moskou, Rusland
Nasionaliteit Russies
Veld Skilderkuns
Opleiding Keiserlike Akademie vir die Kunste
Beweging Realisme, geskiedenisskildering
Werke Die Oggend van die Streltsi-teregstelling (1881)
Bojarinja Morozowa (1887)
Beskermhere Pawel Tretjakof
Beïnvloed deur Ilja Repin

Wasili Iwanowitsj Soerikof (Russies: Василий Иванович Суриков; 24 Januarie 1848 - 19 Maart 1916) was ’n Russiese realistiese geskiedenisskilder. Baie van sy werke het bekend geraak danksy hulle gebruik as illustrasies.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Soerikof is in ’n ou Don-Kosak-gesin gebore wat hulle in Siberië gevestig het.[1] Sy pa was ’n staatdiensbeampte. In 1854 is hy na die dorp Soechoboezimskoje verplaas, waar Wasili sy laerskoolloopbaan begin het.

Die Katedraal van Christus die Verlosser in 1905.

Ná sy pa se dood in 1859 aan tuberkulose het die gesin na Krasnojarsk teruggekeer. Wasili het begin teken terwyl hy die plaaslike distrikskool bygewoon het en is deur die skool se kunsonderwyser aangemoedig.

Sy eerste werk dateer van 1862, maar die gesin kon nie meer sy opvoeding bekostig nie en hy het ’n klerk in ’n regeringskantoor geword. Dit het hom in kontak gebring met Pawel Zamjatin, die goewerneur van Jenisei, wat vir hom ’n beskermheer, Pjotr Koeznetsof, gekry het – dié was ’n plaaslike handelaar wat verskeie klein goudmyne besit het.[2]

In 1868 het hy te perd na Sint Petersburg gery, maar kon nie kwalifiseer vir toelating tot die Keiserlike Akademie vir die Kunste nie, en daarom het hy aan die tekenskool van die Keiserlike Vereniging vir Aanmoediging van die Kunste studeer.[1] Ná ’n jaar daar is hy toegelaat as student aan die Keiserlike Akademie.

Van 1869 tot 1875 het hy onder ’n paar kunstenaars studeer en verskeie medaljes gewen.[1] Hy het sy graad in 1875 behaal.

Loopbaan in Moskou

[wysig | wysig bron]
Soeworof Steek die Alpe Oor.

In 1877 het hy ’n kommissie gekry om muurskilderings te skilder in die Katedraal van Christus die Verlosser, wat toe in aanbou was, en hy het Moskou toe getrek.[2] Hy het daarna besluit om in Moskou aan te bly en met ’n reeks historiese skilderye begin wat hom bekend sou maak. Die eerste hiervan was Die Oggend van die Streltsi-teregstelling. In 1881 het hy sy eerste uitstalling gehou.[1] In 1883 is Mensjikof in Berjozowo deur Pawel Tretjakof gekoop vir ’n bedrag wat Soerikof in staat gestel het om ’n Europese toer te onderneem. In 1887 het hy ook portrette begin skilder; sy eerste een was van sy ma.[2]

In 1888 het hy vir twee jaar na Krasnojarsk teruggekeer en daarna het hy sy voorouers se tuiste in Siberië besoek. Daar, langs die Obrivier, het hy sketse gemaak vir een van sy bekendste werke, Die Verowering van Siberië deur Jermak Timofejewitsj (’n voorval waaraan van sy voorouers deelgeneem het).[2] In 1897 het hy Switserland besoek en Soeworof Steek die Alpe oor geskilder; dit is deur tsaar Nikolaas II gekoop.

In 1907 het hy by die Russiese Kunstenaarsunie aangesluit. Hy het Spanje drie jaar later besoek en in dieselfde jaar ’n kunsteskool saam met ’n ander kunstenaar, Leonid Tsjernisjof, geopen. Vier jaar later het hy vir ’n ruk na Kranojarsk teruggekeer en landskappe geskilder.

Teen dié tyd het hy hartprobleme gehad en ná mislukte behandeling in die Krim in 1915 is hy vroeg die volgende jaar in Moskou oorlede.

In 1948, op die 100ste viering van sy geboorte, het sy landgoed in Krasnojarsk ’n museum geword. Twee monumente van hom is daar opgerig, in 1954 en 2002. Verskeie strate in Rusland is na hom genoem, asook ’n krater op Mercurius.

Belangrikste werke

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Brief biography Geargiveer 19 Januarie 2016 op Wayback Machine @ RusArtNet.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 Brief biography @ Russian Paintings.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]