Afrikaans
Afrikaans | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Suid-Afrika Namibië Botswana Zimbabwe Eswatini Verenigde Koninkryk Australië Nieu-Seeland Kanada Verenigde State Ierland Argentinië | |
Gebied: | Suider-Afrika | |
Totale sprekers: | 7,2 miljoen (eerste taal) 10,3 miljoen (tweede of derde taal)[1] | |
Rang: | 99 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Germaans Wes-Germaans Nederfrankies Nederlands Afrikaans | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet Arabiese alfabet (Arabiese Afrikaans) | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Suid-Afrika Namibië (erken as minderheidstaal) | |
Gereguleer deur: | Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (in Suid-Afrika) | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | af | |
ISO 639-2: | afr | |
ISO 639-3: | afr | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Afrikaans is tipologies beskou 'n Indo-Europese, Wes-Germaanse, Nederfrankiese taal,[2] wat aan die suidpunt van Afrika onder invloed van verskeie ander tale en taalgroepe ontstaan het. Afrikaans is op 8 Mei 1925 as 'n amptelike taal van Suid-Afrika erken en is tans die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status geniet, naas Faroëes wat in 1948 grondwetlik erken is en Luxemburgs wat hierdie status in 1984 verkry het.
Afrikaans is een van die twaalf amptelike tale van Suid-Afrika en daarnaas ook 'n belangrike taal van Namibië. Volgens die Suid-Afrikaanse sensusopname van 2011, beskou ongeveer 6,9 miljoen sprekers in Suid-Afrika (13,5% van die totale bevolking)[3] dit as hulle moedertaal. Sowat een miljoen van dié sprekers is tweetalige moedertaalsprekers van Afrikaans en Engels.[4]
Buiten die oorspronklike taalgebied, is daar groot groepe Afrikaanssprekendes in lande soos Namibië (ongeveer 180 000; naastenby 9% van alle huishoudings),[5] die Verenigde Koninkryk (ongeveer 100 000),[6] Nieu-Seeland (21 000 in 2006),[7] Botswana (20 000), die Verenigde State (23 010 volgens die 2009–2013 American Community Survey wat deur die Amerikaanse Sensusburo in Oktober 2015 gepubliseer is[8]), Australië (43 741, volgens die sensus van 2016), en Kanada (8 770 volgens die sensus van 2011).[9]
Afrikaans het as kontaktaal aan die suidpunt van Afrika ontwikkel uit die kontak tussen 16de- en 17de eeuse Nieunederlands (of Nuwe Nederlands), Khoi, San, Maleis, Portugees, Frans, Duits, Engels en verskeie Nguni- en Sothotale.[10]
Klassifikasie
[wysig | wysig bron]Afrikaans is 'n Indo-Europese taal wat aan die Wes-Germaanse tak van die Germaanse tale behoort. Afrikaans behoort saam met Nederlands aan die Nederfrankiese taalgroep wat van Oudnederlands afstam. Nederfrankiese verskeidenhede word in Europa in Nederland, die noorde van België, Frans-Vlaandere in Frankryk en die Duitse gebied langs die Ryn tussen Keulen en die grens tussen Duitsland en Nederland gepraat. Buite Europa word Nederfrankiese verskeidenhede in Suid-Afrika, Namibië, Suriname en die Nederlandse eilande in die Karibiese See gepraat.
Die Nederfrankiese verskeidenhede word saam met Nedersaksies onder Nederduits gegroepeer. Daar het 'n skeiding gekom tussen Nederduits en Hoogduits vanweë die Hoogduitse klankverskuiwing.[11]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Geskiedenis van Afrikaans.
Ontstaan van die Afrikaanse omgangsvariëteite
[wysig | wysig bron]Teen die middel van die 17de eeu het Europeërs hulle aan die Kaap gevestig. Op taalgebied sou hier 'n proses plaasvind wat in alle Nuwe Wêreldlande waar mense van verskillende tale en kulture vermeng het, plaasgevind het. Nuwe omgangsvariëteite sou ontstaan. Aan die Kaap sou ook taalontwikkelinge wat latent in Nederlands aanwesig was, tot ontplooiing kom,[12] soos die sinkopee van die intervokaliese -d- en -g- (byvoorbeeld: sadel > saal en regen > reën).
By die ontwikkeling van sommige Afrikaans-Hollandse omgangsvariëteite, was die invloed van vreemde tale gering, maar ander variëteite het 'n kreoliseringsproses ondergaan – byvoorbeeld Hottentot-Hollands en Slawe-Hollands. Alle vreemdelinge aan die Kaap het Nederlands egter eie probeer maak. Veral ander Europeërs is binne 'n relatief kort tydperk geassimileer. Die nuwe omgangsvariëteite word wel deur 'n eenvoudiger taalkode gekenmerk. Hierdie proses was egter nie alleen tot die Kaap beperk nie. In Brasilië sou in dieselfde tyd 'n omgangsvariëteit ontstaan het wat grammatikaal eenvoudiger as Europese Portugees is. In Quebec het ook 'n omgangsvariëteit ontstaan wat grammatikaal eenvoudiger as Europese Frans is.
As gevolg van die Europese volksverhuising, verhuis Friese, Angele, Sakse en Jutte van die Europese vasteland na die Britse eilande waar hierdie Germaanse immigrante met die Britse Kelte vermeng. Tussen 800 en 1100 sou Wikings of Vikinge hulle ook op die Britse Eilande vestig. Die nuwe Germaanse taal wat hier ontwikkel het en later as Engels (afkomstig van Angele) bekend sou staan, is ook grammatikaal eenvoudiger as die Germaanse tale van die Europese vasteland.
As gevolg van die grootskaalse taal- en kultuurvermenging in Amerika, het dáár ook nuwe omgangsvariëteite ontstaan wat grammatikaal eenvoudiger as Standaardengels is. Die bekendste voorbeeld hiervan is Negerengels.
Die Nederlandse omgangsvariëteite aan die Kaap tussen 1652 en omstreeks 1800, is selde op skrif gestel, wat beteken dat ons nie vandag presies weet hoe hierdie variëteite gelyk het nie.[13] Teen omstreeks 1800 is die volgende omgangsvariëteite aan die Kaap gepraat:
- 1) Suiwer Nederlands;
- 2) Burger Afrikaans of Kaaps-Hollands, soos gebruik deur die aristokrasie;
- 3) Boere-Afrikaans, veral op die platteland;
- 4) Hottentot-Hollands (of Hottentot-Afrikaans);
- 5) Slawe-Afrikaans;
- 6) Vreemdeling-Afrikaans.[14]
Die skrywer A.N.E. Changuion vermeld dat die volgende variëteite in 1844 aan die Kaap gepraat was:
- 1) Suiwer Nederlands;
- 2) Hoog-Hollands, soos gebruik in die gegoede burgerlike kringe aan die Kaap;
- 3) Plat-Kaaps van ander blankes en Engelse;
- 4) Plat-Kaaps van die Hottentotte en ander 'gepeupel'.[15]
In 1875 was S.J. du Toit van mening dat drie soorte Afrikaans in die Kaap gepraat was. Dit was volgens hom:
- 1) Heere-Afrikaans;
- 2) Boere-Afrikaans;
- 3) Hottentot-Afrikaans.[16]
S.J. du Toit was van mening dat Boere-Afrikaners die 'regte' inwoners van Suid-Afrika was en het hy Boere-Afrikaans as die model waarop Standaardafrikaans geskoei moes word, beskou.
Standaardisering en ontwikkeling van Afrikaans as kultuurtaal
[wysig | wysig bron]Aan die Kaap is verskillende Afrikaans-Hollandse omgangsvariëteite gepraat met Nederlands as die oorkoepelende kultuurtaal. Nederlands was die algemeen aanvaarde kultuurtaal en het as skryftaal, bestuurstaal, kerktaal en die taal van die onderwys gedien. In 1806 het die Kaapkolonie vir die tweede keer in Britse hande geval, waarna Engels 'n kragtige opmars begin het. Die gebruik van Afrikaans-Nederlands is onder Engelse bestuur ontmoedig.
In 1854 het die Oranje-Vrystaat Nederlands as amptelike taal aanvaar. In 1882 is Nederlands, naas Engels, as die amptelike taal in die Kaap aanvaar. In 1888 is Nederlands as die amptelike taal in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aanvaar. Om die erkenning van Nederlands as amptelike taal in die Kaapse parlement te herdenk, is die Eerste Taalmonument in 1893 by Burgersdorp opgerig. Aan die einde van die 19de eeu, was sommige mense van mening dat Afrikaans (veral Boere-Afrikaans) meer erkenning moes geniet en het hulle voorspraak vir 'n eie inheemse taal begin maak: Afrikaans. In die Nederlandstalige pers is toe soms briewe en artikels in Afrikaans geplaas.
Die Kaapse Maleiers het ook begin om Afrikaans-Nederlands naas Arabies in hulle godsdiensgeoefeninge te gebruik. Die Maleiers het onder andere Afrikaans-Nederlands geskryf, maar in die Arabiese alfabet.
Die Afrikaanse Taalbeweging
[wysig | wysig bron]Die eerste- en tweede Afrikaanse Taalbeweging het veral die Amerikaanse Taalbeweging en ook die Vlaamse Taalbeweging as voorbeelde beskou. In die VSA het Noah Webster vir 'n eie inheemse Amerikaanse taal in die plek van Engels gepleit. In Vlaandere, Brasilië, Noorweë en Quebec het ook stemme vir 'n eie inheemse taal opgegaan. Hierdie taalbewegings was deur nasionalisme aangevuur. Die Vlaamse Taalbeweging, die Brasiliaanse Taalbeweging, die Amerikaanse Taalbeweging en die Quebecse Taalbeweging het telkens op mislukkings uitgeloop. Die Noorse Taalbeweging was wel aanvanklik 'n sukses, maar is tans besig om te misluk. Alleen die Afrikaanse Taalbeweging was volledig suksesvol in die vestiging van 'n nuwe kultuurtaal. Die motivering en doelstellings van al hierdie taalbewegings was dieselfde.
Die eerste Afrikaanse taalbeweging neem in 1875 met die stigting van die GRA of die Genootskap van Regte Afrikaners in Paarl 'n aanvang. Die doelstellings van die GRA is egter deur die meeste Kapenaars verwerp. Nederlands is as die algemeen aanvaarde kultuurtaal beskou. Dit was die formele skryftaal, kerktaal, bestuurstaal, onderwystaal en die taal van die pers. Nederlands het hoë aansien geniet en is as 'n deftige statustaal beskou. Afrikaans is as 'n taal beskou wat die stempel van onkunde dra. Hoofregter J.H. de Villiers was in 1876 van mening dat 'n Afrikaanse Bybel, soos voorgestaan deur die Patriotmanne, onvanpas was, omdat die Afrikanerbevolking Nederlands in elk geval verstaan.[17] Dieselfde regter was al op 13 Mei 1875 in Kaapstad van mening dat indien dit die bedoeling van die GRA en Patriotmanne was om Nederlands met Afrikaans te vervang, dit later sou blyk 'n groot "misslag" te wees en die beweging uiteindelik 'n mislukking sou word, omdat die bevolkingsgrootte van die Afrikaners te klein was.[18]
Artikels in die Nederlandstalige pers het neerhalend na Afrikaans verwys. In De Zuid-Afrikaan is na Afrikaans as 'n "corruptie", "een mengelmoes van onzin en dwaasheid" verwys, wat niks anders sou wees as "een caricatuur van de gemeene wijze waarop die Mozambiekers op onze straten spreken en n.b. meestal geschreven wordt door uitlanders, die noch ons volk, noch ons land kennen".[19] Di Afrikaanse Patriot, mondstuk van die GRA, is as 'n "vod", 'n "Prulblad" en 'n "Hottentot Courant" beskryf.
Die meeste Afrikaners het Afrikaans op daardie tydstip insgelyk as 'n uiters minderwaardige taalvorm beskou. Vir hulle was dit 'n taal sonder grammatika; 'n Hottentotstaal; 'n wartaal; 'n mengelmoes vol onsin en dwaashede en 'n taal wat by skaapkrale en in die kombuis hoort.
Afrikaans en nasionalisme
[wysig | wysig bron]Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal naas Engels, vind gedurende 1925 plaas. Volgens Wet 9 van 1925, is Afrikaans toe aan Nederlands gelykgestel, maar in die praktyk het die ondersteuners van D.F. Malan Nederlands op 'n despotiese manier met Afrikaans vervang.[20]
Afrikaans het sinoniem met nasionalisme geword. Afrikaans as kultuurtaal is beskou as die produk van nasionalisme;[21] of as 'n uitingsvorm van nasionalisme.[22] Die Afrikaners het immers oor 'n reeds gevestigde kultuurtaal beskik (Nederlands) wat doelbewus met 'n ander kultuurtaal (Afrikaans) vervang moes word.
Die ondersteuners van D.F. Malan wou nie alleen 'n wig tussen Afrikaans en Nederlands inslaan nie, maar ook 'n wig tussen die Afrikaners en die Kleurlinge. J.B.M. Hertzog het juis gewaarsku dat Malan die verkeerde pad volg. Vir Hertzog was Nederlands die kultuurtaal van die Afrikaner en het Hertzog die Kleurlinggemeenskap ook as 'n deel van die Afrikaners beskou. Malan het gewen. Hy het die Kleurlinge tot nie-blankes laat verklaar en hulle uit 'blanke' dorpe en stede laat verwyder. Uiteindelik het juis hierdie rassisme die taal skade berokken. Afrikaans het 'apartheidstaal' geword, 'n simbool van die onderdrukking van die gekleurde helfte van sy eie sprekers.
Met sy nuwe funksie as amptelike taal, het die woordeskat van Afrikaans in die 20ste eeu grootskaals uitgebrei, en intussen het meer as 200 Afrikaanse vakwoordeboeke verskyn. Om die taal, wat oorspronklik 'n eenvoudige kommunikasiemiddel en omgangstaal was, tot 'n medium vir die onderwys, administrasie, literatuur, kunste en wetenskappe te kon uitbou, is dikwels na Nederlandse terme teruggekeer om neologismes te vorm. Die verskillende Afrikaanse vaktale het intussen ook die internasionale woordeskat, wat op hulle gebiede gebruiklik is, oorgeneem.
Afrikaans na 1994
[wysig | wysig bron]Die Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land was. In 1925 is Afrikaans aan Nederlands gelykgestel. Die Grondwet van 1961 het Afrikaans en Engels as amptelike tale erken, maar bevestig dat Afrikaans en Nederlands dieselfde status geniet. Volgens die Grondwet van 1983, was slegs Afrikaans en Engels die amptelike tale van die land. Die Grondwet van 1996 het elf amptelike tale erken, waarvan Afrikaans een is.
Die aftakeling van Afrikaans as 'n volwaardige ampstaal in Suid-Afrika, het in die afgelope jare tot groot paniek gelei. Regeringsinstellings en privaatondernemings gee om verskillende redes dikwels aan Engels die voorkeur. Die mening het begin posvat dat Engels, as wêreldtaal, 'n meer geskikte taal vir onderwys en internasionale kommunikasie is.
Hierdie beskouing is in stryd met die teenswoordige ontwikkeling in baie lande, waar streektale – as 'n soort reaksie op die toenemende globaliseringstendense en die dreigende verlies van kulturele identiteit – begin herleef. Afrikaans toon in sy huidige situasie baie ooreenkomste met Europese streektale en beskik oor dieselfde potensiaal om in sy hoofsaaklike taalgebiede – die weste van Suid-Afrika en die suide van Namibië – 'n funksie as enigste amps- en wetenskapstaal te kan vervul. Daar is talle voorbeelde van ander lande, waar 'n konsekwente taalbeleid ten gunste van kleiner tale suksesvol ingestel is. Die Kanadese provinsie Quebec het 'n eentalige Franse gebied in Noord-Amerika geword, ondanks die ekonomiese druk wat vanuit die Engelse omgewing uitgaan. In Katalonië, die historiese nywerheidsentrum van Spanje, het die plaaslike Katalaans Spaans volledig uit die openbare lewe verdring, en selfs in tersiêre onderwys is Katalaans as enigste voertaal aanvaar. In Luxemburg word Luxemburgs (eintlik 'n vorm van Moeselfrankies) as amptelike taal naas Frans en Duits erken.
In die geval van Afrikaans bly die letterkunde en die kultuurlewe 'n waarborg vir die voortbestaan daarvan. Afrikaanse koerante en tydskrifte geniet net soveel sukses as privaat-televisiekanale wat op die Afrikaanse mark gefokus is. In die suidelike helfte van Namibië, is Afrikaans die belangrikste huis- en omgangstaal, en die grootste koerant van die land, Die Republikein, verskyn in Afrikaans. Terwyl die verkope van Suid-Afrikaans-gepubliseerde boeke tussen 2004 en 2014 meer as verdubbel het (van 1,5 miljoen tot 3,6 miljoen verkope), en die aantal Suid-Afrikaans-gepubliseerde boektitels toegeneem het van 9 000 tot 16 000, het die aandeel Suid-Afrikaans-gepubliseerde boeke in Afrikaans van 25 tot 45 persent gestyg.[23]
Hoewel Afrikaans as voer- en onderrigtaal dikwels aan die kortste end by staatsinstansies trek, staan verkope van Afrikaanse boeke in Suid-Afrika baie sterk. Die grote gros van Engelstalige boeke wat in Suid-Afrika verkoop word is naamlik van buitelandse oorsprong, en die verkoopsyfers van boeke wat plaaslik in Engels geskryf en verkoop word, word oorskadu deur dié in Afrikaans. Die mededinging van plaaslike boeke in Engels met dié uit die buiteland, is die vernaamste rede hiervoor.[24]
In 2004 was net 22% van plaaslik gepubliseerde boeke in Afrikaans, teenoor 77% wat Engelstalig was. Teen 2015 het die omset van Afrikaanse boeke tot 49% van die totaal toegeneem, terwyl die aandeel van Engelse boeke tot 50% afgeneem het. Ook wat die digkuns betref, floreer Afrikaanse werke terwyl plaaslike verkope van Engelse digbundels so power vaar dat bykans geen plaaslike uitgewer meer daarin belangstelling toon nie. Afrikaanse boeke word deesdae ook deur buitelandse uitgewers soos PRH, Macmillan, Oxford en Pearson uitgegee. 'n Verdere pluspunt is die ruimer mediasteun wat ondermeer deur die Afrikaanse pers aan (plaaslike) Afrikaanse boeke toegestaan word, sodat die Afrikaanse skrywer meer blootstelling as dié van 'n plaaslike Engelse skrywer geniet.[24] Statistiek in PASA (Uitgewersvereniging van Suid-Afrika) se Annual book publishing industry survey dui aan dat die netto verkope van Afrikaanse boeke tussen 2009 en 2015 op ongeveer 2 miljoen per jaar konstant gebly, en die aantal nuwe Afrikaanse titels van 832 tot 890 toegeneem het. Die getal titels van Afrikaanse boeke in druk het toegeneem van 5 000 tot 8 500 en die totale omset van Afrikaanse boeke het van R190 miljoen tot R237 miljoen gestyg — ’n toename van sowat 25%. Daarteenoor het die verkope van boeke in ander tale (hoofsaaklik in Engels) tussen 2009 en 2015 van 1,88 miljoen eksemplare tot 1,74 miljoen eksemplare gedaal.[24]
Die opbloei in die verkope van Afrikaanse boeke kan ten dele toegeskryf word aan die verswakkende rand en Brexit, met die gevolglike vergrotende prysverskil tussen plaaslike en ingevoerde boeke. Daar bestaan ook 'n getroue leserspublikum by die Afrikaanse uitgewers wat by die Engelse uitgewers van plaaslike boeke ontbreek. Afrikaanse boeke se voorkoms vertoon ook merendeels beter as hul ingevoerde Engelstalige eweknieë wat teen lae onkoste op swak papier gedruk, onleesbaar klein geset en sommer net aanmekaargelym word.[24]
Uit 'n skatting van 2007 blyk dit dat Engels (as onderrigtaal) nie 'n groot invloed uitoefen op Afrikaanssprekende kinders se huistaalgebruik nie. Dit blyk verder dat baie minder bruin Afrikaanssprekers na Engels oorskakel as wat aanvanklik vermoed is. Afrikaansmediumskole is wel (regtens of onregtens) daarvan beskuldig dat hulle taalbeleid aanwend om inname van swart leerlinge te bemoeilik.[25] Sekere swart ouers, soms met die steun van provinsiale onderwysdepartemente, het dan gedinge aanhangig gemaak om onderrig in Engels by hierdie skole af te dwing. Teen 2006 was daar 300 enkelmedium Afrikaanse skole vergeleke met 2 500 in 1994, nadat meeste Afrikaanse skole na dubbelmedium-onderwys oorgeskakel het.[25]
Huidige verspreiding
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Geografiese verspreiding van Afrikaanssprekendes.
Afrikaans in Suider-Afrika
[wysig | wysig bron]Daar is onlangs nuwe skattings (gegrond op SA Satistics 2010 mid-year estimates) uitgereik wat toon dat Afrikaans as huistaal oor die afgelope drie jaar veranderinge ondergaan het. Die getal mense wat Afrikaans tuis gebruik, het van omtrent 6,44 miljoen in 2007 tot omtrent 6,49 miljoen in 2010 gestyg (Namibië inkluis).
Wat verrassend hierby mag wees is dat die syfer van swart Afrikaanssprekendes gestyg het van omtrent 0,24 miljoen in 2007 tot 0,29 miljoen in 2010. As redes daarvoor word onder meer die bevolkingsgroei in Namibië asook in die Vrystaat en die noordelike deel van Suid-Afrika vermoed waar Afrikaans die meesgebruikte taal onder werkers in die landbou is wat sodoende die taal ook by die huis gebruik.
Verder kan ook vasgestel word dat Afrikaanse huishoudings toenemend na "dubbelmedium" oorskakel wat beteken dat Engels benewens Afrikaans gebruik word. Die getal wit Afrikaanssprekendes het effens toegeneem, terwyl die persentasie bruin Afrikaanssprekendes stadig maar seker daal. Volgens 2007 se Community Survey word geskat dat omtrent 6,44 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as huistaal gebruik het (Blankes: 2,76 miljoen – Namibië inkluis, Bruin: 3,44 miljoen – Namibië inkluis, Swart: 0,24 miljoen (Namibië uitgesluit), Indiërs: minder as 10 000).
Benewens blanke en bruin Afrikaanssprekendes word Afrikaans deur die meeste etniese groepe in Suid-Afrika as 'n tweede (of selfs derde) taal gepraat. Westelike Suid-Afrika (d.w.s. die provinsies Noord- en Wes-Kaap en die westelike streke van die Vrystaat) is tans 'n oorwegend Afrikaanstalige gebied; 'n groot segment van Afrikaanses in die gebied is Kleurlinge.
In die oostelike Suid-Afrika is daar stedelike konsentrasies van veral blanke Afrikaanssprekers in Pretoria, Bloemfontein, Vereeniging, Welkom, Potchefstroom, Klerksdorp, Kemptonpark, Pietersburg, Nelspruit, Witbank en Krugersdorp. In Namibië is daar sowat 146 000 sprekers. Afrikaans word daar erken as nasionale taal, maar die enigste amptelike taal sedert onafhanklikheid in 1989 is Engels. Volgens skattings is daar tot twintig miljoen mense wêreldwyd wat Afrikaans as moeder-, tweede of derde taal kan praat.
Etniese Groep | Afrikaanssprekendes in 2011 |
---|---|
Bruin Suid-Afrikaners | 3 442 164 |
Wit Suid-Afrikaners | 2 710 461 |
Swart Suid-Afrikaners | 602 166 |
Asiatiese en Indiese Suid-Afrikaners | 58 700 |
Ander | 41 591 |
Totaal | 6 855 082 |
Afrikaans as Afrikataal
[wysig | wysig bron]Hoewel Afrikaans as 'n Germaanse taal geklassifiseer word, kan dit op grond van ruimtelike gebruik as 'n Afrikataal bestempel word. In Afrika word daar 'n reeks tale gepraat, wat nie aan mekaar verwant is nie. In die sin kan enige taal van Afrika as sinoniem met Afrikataal beskou word. Verdere redes sluit in:[26]
- Die taal dra die naam van die vasteland.
- Gedurende sy ontwikkeling het Afrikaans redelik baie woorde uit ander Afrikatale, soos Khoekhoens en die Bantoetale, ontleen.
- Die taalgemeenskap het in Afrika die lig gesien en is merendeels tot Afrika beperk. Die sprekers van Maleis, Nederlands, Frans, Hoogduits, Platduits en Portugees, wat vanuit ander wêrelddele afkomstig is, het aan die Kaap 'n nuwe, oorspronklike taalgemeenskap, naamlik dié van Afrikaans geskep.
- Daar is Afrikane wat Afrikaans magtig is.
Omrede die Taalkommissie, die hoogste gesag in Afrikaans, se hoofkwartier fisies op die Afrika-vasteland gestasioneer is (vergelyk Nederlandse Taalunie, wat die Nederlandse taal reguleer, in Den Haag), kan dit ook as aanduiding dien dat Afrikaans 'n Afrikataal is.
Afrikaans in die res van die wêreld
[wysig | wysig bron]Met die einde van die amptelike beleid van rasseskeiding het die internasionale belangstelling in Suid-Afrika duidelik toegeneem, en ná dekades van sanksies en boikotte is daar sprake van 'n normalisering van die kulturele en politieke betrekkinge tussen die Lae Lande (Nederland en Vlaandere) en Suid-Afrika se Afrikaanssprekende gemeenskap.[27] 'n Aantal universiteite in die buiteland, onder meer Gent in België, Keulen en Göttingen in Duitsland en Wene in Oostenryk, het Afrikaans as 'n taalvak binne die verband van die Neerlandistiek ingevoer. Die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań, Pole, se Instituut vir Engelse Filologie het 'n Departement van Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies[28] en bied ook spesialisasie in Suid-Afrika en Afrikaans aan.[29]
Skole vir sekondêre onderwys in Nederland kan kies om Afrikaans as 'n deel van die vak Nederlands te onderwys. Die ontwikkeling en geskiedenis van Afrikaans is 'n verpligte deel van die vak Literatuurgeskiedenis (as 'n deel van die geskiedenis van die Nederlandse taal in Suid-Afrika).
In die Verenigde State word Afrikaans as taalvak as deel van studies in Germaanse tale of Afrikastudies aangebied. Die National African Language Resource Center (NALRC) in Bloomington, Indiana het 'n brosjure oor Afrikaans vir voornemende studente aan die Universiteit van Wisconsin in Milwaukee, die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles en die Brigham Young-universiteit in Provo, Utah gepubliseer.[30][31][32]
Suid-Afrikaanse emigrante het in baie oorsese lande Afrikaanse gemeentes, klubs en ander instellings gestig, en tans is daar enkele honderdduisend sprekers van Afrikaans in die buiteland. In Julie 2008 is die eerste Afrikaanse radioprogram, OppieStasie, in Australië deur Erika von Kaschke (nee Jooste) op die gemeenskapsradiostasie, begin.[33] Die program speel Afrikaanse musiek en verskaf inligting aan nuwe immigrante.
Die woordeskat van Afrikaans
[wysig | wysig bron]Met insluiting van komposita het die woordeskat van Afrikaans tussen 1900 en die laat 20ste eeu gegroei van slegs 50 000 tot 'n driekwart miljoen woorde.[34] Saam met die uitbou van Afrikaans tot 'n volwaardige moderne amps- en wetenskapstaal is dus honderdduisende nuwe woorde by die oorspronklike kernwoordeskat, wat van Nederlands oorgeërf is, gevoeg. Alhoewel Afrikaans in leksikale opsig grotendeels sy Nederlandse wortels bewaar het, is daar nogtans net soos in ander gevalle waar 'n Europese taal na 'n nuwe oorsese omgewing oorgeplant is, 'n aantal belangrike afwykings van moderne Nederlands.
Ou Nederlandse woorde
[wysig | wysig bron]Net soos Amerikaanse Engels baie woorde van 17de en 18de eeuse Engels bewaar het wat in moderne Britse Engels uitgesterf het (soos fall wat in Engeland deur die Latynse autumn vervang is), het sommige ou Nederlandse woorde, wat in die moderne Nederlandse standaardtaal nie meer gebruiklik is nie, in Kaaps-Nederlands bly voortleef:
Kaaps-Nederlands / Afrikaans | Algemeen Nederlands (AN) |
---|---|
bloeisel | bloesem |
fontein | bron/fontein |
plaas | boerderij, hofstede, hoeve |
navorsing | onderzoek, deftig: navorsing (veral in Vlaandere) |
party | enige, menige |
ystervark | stekelvarken |
weeluis | bedwants (Duitse leenwoord) |
borsspeld[35] | broche (Franse leenwoord) |
stiksiende[35] | bijziende |
Dialektiese woorde
[wysig | wysig bron]Alhoewel die destydse, veral Suid-Nederlandse standaardtaal van VOC-amptenare aanvanklik die meeste hoë funksies aan die Kaap vervul het, het Afrikaans-Nederlandse omgangsvariëteite uit die Nederlandse dialekte ontwikkel. Sommige woorde uit die Nederlandse dialekte, wat in Nederland en Vlaandere nie in die huidige woordeskat van die standaardtaal opgeneem is nie, is wél opgeneem in die Kaaps-Nederlandse en Afrikaanse leksikon:
Kaaps-Nederlands / Afrikaans | Algemeen Nederlands (AN) |
---|---|
bees | rund (cfr. beest) |
vark | zwijn, varken |
vat | nemen (cfr. vatten) |
spog | pochen |
kuier ('n besoek aflê) | kuieren (op je gemak wandelen) |
Die Afrikaanse woorde boetie en boeta het hulle oorsprong heel waarskynlik in Nederlandse dialekvorme soos beut en boetje.[36]
Woorde met veranderde betekenis
[wysig | wysig bron]Net soos in ander oorsese gebiede het Europese setlaars ook aan die Kaap begin om met bekende woorde uit hul beskaafde en dialektiese Nederlands na nuwe diere, plante en ander dinge te verwys mits hulle ten minste 'n sekere ooreenkoms met Europese spesies en natuurverskynsels getoon het. Sodoende het 'n aantal Nederlandse woorde in 'n nuwe konteks en omgewing ook 'n ander betekenis gekry.
'n Groter aantal voorbeelde kom uit die landboutaal. 'n Dam is in Nederland steeds 'n wal, terwyl dit in Afrikaans ook na die water kan verwys wat deur die damwal ingehou word. Afrikaanssprekendes kan byvoorbeeld sê dat hulle in die dam gaan swem, en bedoel dan die damwater. Die Suid-Afrikaanse taalkundige S.P.E. Boshoff het hierdie oorgang na 'n nuwe betekenis aan die verskil van bodem tussen die waterryke Nederland en die droë, dor klimaat van Suid-Afrika toegeskryf, alhoewel die Dagregister van Jan van Riebeeck, die eerste Nederlandse goewerneur aan die Kaap, volgens J. du P. Scholtz ook bewys lewer dat die betekenisverskuiwing al in die Nederlandse omgangstaal aan die gang was.[37]
Pad het in Afrikaans 'n ruimer betekenis gekry as in Nederlands waar dit slegs na 'n weg verwys wat deur die voetstappe van mense of diere gemaak is. In Suid-Afrika het dit ook 'n sinoniem vir 'n geasfalteerde verkeersweg geword, en reeds in die 18de eeu het afleidings soos padmaker in die Kaapse taal voorgekom wat na 'n opsigter verwys het wat vir die instandhouding van 'n pad verantwoordelik was.[38]
Vlei – wat uit vallei ontstaan het – het naas "dal tussen twee bergreekse" spesifiek Kaapse betekenisse gekry soos "moerassige laagte tussen berge" en "duinmeer". 18de en 19de eeuse reisigers het reeds na hierdie taalgebruik verwys.[39]
Dalk – wat uit dadelik saamgetrek is – het selfs 'n verandering ten opsigte van sy woordsoort ondergaan. Terwyl dadelik 'n bywoord van tyd is ("onmiddellik, gou"), word dalk in Afrikaans as 'n bywoord met modale funksie gebruik en is 'n sinoniem vir "miskien, moontlik". Die oudste dokumente, waarin die Kaaps-Nederlandse dalk voorkom, dateer uit die jare 1787 en 1789.[40]
Verengelsing
[wysig | wysig bron]Ná die einde van die Tweede Vryheidsoorlog het groot getalle Afrikaners begin verstedelik. Die Witwatersrand was 'n groot trekpleister, maar ook hoofsaaklik Engelssprekend. Honderde duisende Afrikaners het in hierdie stede verengels.
In die twintigerjare is die eerste Afrikaanse hoërskole aan die Rand gestig en Afrikaners is aangemoedig om hulle eie taal met trots te gebruik. Dit was in 'n poging om die verengelsing teë te gaan. Aanvanklik was dit ook 'n groot sukses. Daar is begin om ook Anglisismes aktief uit Afrikaans te weer. Sedert die negentigerjare swaai die gety egter weer ten gunste van Engels.
Engels druk deurgaans 'n swaar stempel af op Afrikaans. Beide die Afrikaanse leksikon en sintaksis ervaar 'n sterk Engelse invloed. Baie Afrikaanse ouers het begin om hulle kinders na Engelstalige skole te stuur. Baie Afrikaanse ouers praat wel nog onderling Afrikaans met mekaar, maar Engels met hulle kinders.
Voorbeelde
[wysig | wysig bron]- Maleis: "amper" van hampir, "baadjie" van badju, "baie" van badju en "piering" van piring;
- Khoe: "gogga" van xoxon;
- Portugees: "mielie" van "milho", "kombers" van cobertas en "kraal" van curral;
- Zoeloe: "moetie" en afleidings daarvan soos "moetieman", "moetiemoord" en "moeitiewinkel" van die Zoeloe umuthi wat medisyne beteken.
- Woordeskat uit swart-tale: donga, dagha ("klei" of "sement"), mopanie, maroela, moepel, kaboe(-mielies), tollie, mamba, tsetse(-vlieg), indaba, indoena, impie, loboloa, pasella, babalaas, haikôna, ietermagô, sakaboela, tamboekie(-gras), kaia, marog, skokiaan, poetoe(-pap).
- Maleis: nartjie, blatjang, bobotie, borrie, sosatie, mebos, doepa, paljas, siesal, ramkie, nonnie, nonna, kierang, pamperlang, lieplapper;
- Portugees: tronk, makou, tamaai, maskie;
- Duits: strawasie, laer, werda, jaarhonderd, sweis, verfoes, werskaf, hekel;
- Frans: pawee(-perske), sermyn(-peer), bermotsersan(-peer). Let daarop dat meeste ander Afrikaanse woorde wat van Franse afkoms is eers in Nederlands opgeneem is en daardeur in Afrikaans beland het;
- Khoekhoens: boegoe, karee, dagga, koekmakranka, kambro, kanna, ghaap, noem-noem, kwagga, oorbietjie, geitjie, gogga, karos, abba, kamma, kamalielies, kamtig, kastig, hoeka, ga(ng), soe, aitsa, arrie, eina, gonna, kierie, hn 'n, ghnarra, gorra, karkoer, koedoe.[41] Afrikaans het op sy beurt weer invloed op Suid-Afrikaanse Engels en ander inheemse tale uitgeoefen, deurdat 'n hele aantal Afrikaanse woorde in dié tale opgeneem is.[10] 90–95% van Afrikaans se woordeskat is na raming van Germaanse oorsprong.
Spelwyse
[wysig | wysig bron]In die verlede is verskillende spelvorme vir Afrikaans gebruik, byvoorbeeld die Patriotspelling van die GRA en die getoelies van die Kaapse Moslemgemeenskap, wat albei van 'n vereenvoudigde en vernieude spelling gebruik gemaak het.
Sedert 1914 is die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verantwoordelik vir die normalisering van Afrikaans. Die spelreëls van die Taalkommissie word gepubliseer in die Afrikaanse woordelys en spelreëls.
Die rede vir die invoering van 'n Afrikaanse spelling word wel bevraagteken. Aanvanklik is beweer dat in Afrikaans die skrifbeeld die gesproke beeld moet volg – ons skryf soos ons praat. Sommige het egter gemeen dat die Afrikaanse spelling nie sodanig ingevoer is om die spreektaal te volg nie, maar om die 'twee tale' te skei. Die gewysigde skrifbeeld moes die skeiding vergestalt. Vele Afrikaanse en Nederlandse woorde word immers op dieselfde manier uitgespreek, byvoorbeeld: richting, rigting; provincie, provinsie; nationaal, nasionaal; rover, rower; vrouw, vrou; ens.
Nogtans het die Taalkommissie die spelling gewysig.
In 1925 is die Kollewijn spelling, wat in 1891 ontwerp is, as die spelling vir Afrikaans in Suid-Afrika aanvaar. Hierdie spelling was 'n vereenvoudiging van die moeilike Nederlandse spelling. Russisch moet nou Russies word en moeilijk moeilik. Dit was 'n meer fonetiese spelling gebaseer op die skryf hoe jy praat manier. Hierdie spelling is in sekere gemeenskappe, veral in Vlaandere en in Suid-Afrika in gebruik geneem, maar nie amptelik aanvaar nie.
Woordeboeke
[wysig | wysig bron]Woordeboek van die Afrikaanse Taal
[wysig | wysig bron]Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, algemeen bekend as die WAT, is die grootste verklarende Afrikaanse woordeboek. As omvattende verklarende woordeboek probeer dit om Afrikaans in sy wydste omvang te weerspieël. Afrikaans in al sy verskyningsvorme, nl. standaardtaal, streektaal, geselstaal en die verskillende variëteite van Afrikaans soos Namakwalands en Kaaps word in die WAT opgeneem. Vyftien dele is reeds gepubliseer. Die vyftiende deel, wat van "skool" tot "Sri Lankaans" strek, het in 2019 verskyn. Dit is ook op CD en op die internet beskikbaar.
Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal
[wysig | wysig bron]Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, algemeen bekend as die HAT, is die bekendste verklarende Afrikaanse woordeboek. Dit word oor die algemeen as gesaghebbend beskou. In teenstelling met die WAT is die HAT 'n verklarende Afrikaanse woordeboek in 'n enkele band, waarvan die huidige uitgawe 1 632 bladsye beslaan. Die woordeboek word sedert 1965 gereeld hersien. Die sesde papieruitgawe van die HAT het in 2015 verskyn, toe die gedrukte HAT 50 jaar oud was. HAT op CD-ROM is in 2009 bekend gestel.
Streeksdialekte
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Dialekte van Afrikaans.
Geografies word die Afrikaanse dialekte in drie hoofgroepe verdeel: Kaapse Afrikaans, Oosgrens-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans.[42] Griekwa-Afrikaans behoort tot die Oranjerivier-Afrikaans. Oorlams word deur taalkundiges as 'n kreooltaal met elemente van Bantoetale beskou. Patagoniese Afrikaans is 'n vorm van Afrikaans wat na Argentinië gebring is deur Boere-immigrante na die Tweede Vryheidsoorlog.[43]
Toekoms van Afrikaans
[wysig | wysig bron]Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n verslag, “Die algemene demografie van Afrikaans (2022)”, op 4 November 2022 bekendgestel. Die studie bied ’n oorsig van demografiese data en projeksies oor die Afrikaanse taal tot in 2041.[44] Dit dek Afrikaans in sy geheel en sluit alle variëteite van dié taal in.
Volgens die verslag is die belangrike demografiese neigings tussen 2021 tot 2041 as volg:
- Sterk bevolkingsgroei en migrasie sal taaldiversiteit in stedelike gebiede verhoog;
- Afrikaanse getalle groei in absolute terme van 7,11 miljoen (2021) na 7,12 miljoen (2031), wat dui op ’n groeiende behoefte vir skole;
- Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die algehele bevolking van 11,7% (2021) na 9% (2041), wat hulle toegang tot staatshulpbronne verswak;
- Die reeds hoë vlakke van verengelsing (ongeveer 20 000 Afrikaanssprekendes per jaar) sal waarskynlik toeneem en die groei van die taal beperk;
- Die bruin/swart meerderheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap groei van 59,5% (in 2021) na 63,8% (in 2041).[45]
Sien ook
[wysig | wysig bron]- Tale van Namibië
- Tale in Suid-Afrika
- Afrikaanssprekende bevolking in Suid-Afrika
- Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS)
- Afrikaanse letterkunde
- Verskille tussen Afrikaans en Nederlands
- Lys van Afrikaanse rolprente
- Wikipedia:Algemene spelfoute
- Lys van gedrukte Afrikaans-vreemdtalige woordeboeke
- Lys van Afrikaanse wetenskapsfiksie
- Afrikaans as wetenskapstaal
- Afrikaanse gesegdes uit die Middeleeue
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ www.ethnologue.com.
- ↑ https://www.ethnologue.com/language/afr
- ↑ http://www.statssa.gov.za/census/census_2011/census_products/Census_2011_Census_in_brief.pdf
- ↑ (en) "Gerhard Louw: Afrikaans". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Februarie 1999. Besoek op 1 Januarie 2008.
- ↑ http://data.un.org/Data.aspx?d=POP&f=tableCode%3a27%3bareaCode%3a0%3bsexCode%3a0&c=2,3,5,7,9,11,13,14,15&s=_vcvv2:asc,_countryEnglishNameOrderBy:asc,refYear:desc&v=1
- ↑ Volgens amptelike statistiek het 140 236 Suid-Afrikaanse burgers in 2001 in die Verenigde Koninkryk gebly, Statistics South Africa – Comparative Assessment of Data on Self-Declared Emigration, 2002 Update Geargiveer 3 September 2006 op Wayback Machine
- ↑ (en) "Statistics New Zealand – QuickStats about Culture and Identity". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2008. Besoek op 1 Januarie 2008.
- ↑ mongabay.com: How many people speak "Afrikaans" in America. Besoek op 15 September 2019
- ↑ Statistics Canada: 2011 Census of Canada: Topic-based tabulations. Besoek op 19 Mei 2015
- ↑ 10,0 10,1 Rajend Mesthrie: Language in South Africa, p. 200 tot 206
- ↑ Glück, H. (ed.): Metzler Lexikon Sprache, pages 472, 473. Stuttgart, Weimar: Metzler, 2000 (entries niederdeutsch and niederfränkisch)
- ↑ Raidt, Edith H.: Afrikaans en sy Europese Verlede. Kaapstad: Nasou Beperk 1991, bl. 230
- ↑ Raidt, Edith H.: Afrikaans en sy Europese Verlede. Derde hersiene en uitgebreide uitgawe. Kaapstad: Nasou 1991, bl. 171
- ↑ Van der Merwe H.J.J.M.: Herkoms en Ontwikkeling van Afrikaans. Afrikaanse Pers-Boekhandel: Johannesburg 1970, bl. 69
- ↑ Changuion, A.N.E.: De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika Hersteld. Kaapstad: Richert Pike 1844
- ↑ E.H. Raidt: Taalvariasie in Negentiende-Eeuse Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, jaargang 32(4), 240-256, bl. 241
- ↑ A. de Villiers: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika, Kaapstad, 1936, bl.97
- ↑ A. de Villiers: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika, Kaapstad, 1936, bl.36
- ↑ Van Rensburg (1997), bl. 44
- ↑ J.J. le Roux: Handleiding in het Afrikaans voor Nederlanders. Amsterdam: S.L. van Looy. 1921. bl. 4.
- ↑ F.A. Ponelis: "Standaardafrikaans in oorgang." V.N. Webb (red.), Afrikaans ná Apartheid. Pretoria. J.L. van Schaik. 1992, bl.69–90.
- ↑ J.du P. Scholtz: Wording en Ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg uitgewers. 1980. bl. 9.
- ↑ Mossel Bay Advertiser, 24 Februarie 2016: Skrywers geslyp in die kuns om treffend te skryf. Besoek op 1 Mei 2017
- ↑ 24,0 24,1 24,2 24,3 (en) "Malan, M. 2017. Die Afrikaanse boek se toekoms lyk rooskleurig. Kaapse bibliotekaris 61(2):12–15" (PDF). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 19 September 2017. Besoek op 19 September 2017.
- ↑ 25,0 25,1 (en) Lafon, Michel; Webb, Vic; Wa Kabwe Segatti, Aurelia (2008). The Standardisation of African Languages – Language political realities (IFAS Working Paper Series). CentRePoL & IFAS. p. 47. Besoek op 30 Januarie 2021.
- ↑ Ponelis, F.A. : "Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde." Botha/Ponelis/Combrink/Odendal (Reds.), Ruimtelike klassifikasie. Kaapstad. Academica. 1989, bl.26–27.
- ↑ Terblanche, Otto; Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth: Vlaandere en Suid-Afrika: Normalisering van politieke en kulturele betrekkinge sedert 1990. Besoek op 5 Mei 2016
- ↑ UAM – Department of Dutch and South African Studies
- ↑ UAM/IFA – Suid-Afrikaanse Spesialisasie
- ↑ (en) "Afrikaans" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 28 November 2017. Besoek op 30 Julie 2017.
- ↑ http://www.afrikaans.com/leer/lekker-leer/na-skool-vooruitsigte/hier-kan-jy-in-afrikaans-studeer[dooie skakel]
- ↑ http://www.afrikaans.com/news-headlines/het-jy-geweet/afrikaans-floreer-in-die-buiteland[dooie skakel].
- ↑ Radio Fremantle 107.9FM
- ↑ Raidt (1991), bl. 177
- ↑ 35,0 35,1 Scholtz, J. du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers. p. 103
- ↑ Scholtz, J. du P.: Afrikaans uit die vroeë tyd. Kaapstad: Nasou Beperk 1965, bl. 97
- ↑ Raidt (1991), bl. 180
- ↑ Raidt (1991), bl. 181
- ↑ Raidt (1991), bl. 181
- ↑ Raidt (1991), bl. 182
- ↑ Taalgeskiedenis, CJ Conradie
- ↑ (af) Blant annet: Van Rensburg, M.C.J. 1984. Die Afrikaans van Griekwas in die tagtigerjare. Pretoria: RGN-rapport.
- ↑ Szpiech, Ryan (18 September 2020). "Afrikaans in Patagonia: Language shift and cultural integration in a rural immigrant community". De Gruyter. Besoek op 8 Junie 2024.
- ↑ Mulder, C. & Steenkamp, C. et al. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans. Afrikaanse Taalraad.
- ↑ Bekendstelling van die algemene demografie van Afrikaans, 2022 (6 November 2022)
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikiquote het aanhalings in verband met Afrikaans |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Afrikaans. |
Sien Afrikaans in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
- Algemene inligting
- afrikaans.com/
- Omniglot-arikel oor Afrikaans
- Ethnologue-verslag oor Afrikaans
- Afrikaans.be – Webblad vir die gebruik, bevordering en uitbreiding van Afrikaans in België en Nederland
- UCLA International Institute – Language Materials Project Geargiveer 5 Junie 2011 op Wayback Machine
- Ontstaan en geskiedenis van Afrikaans
- Afrikaans is Amsterdams! Nederlandse artikel in Taalschrift – Tydskrif oor taal en taalbeleid
- S.J. du Toit se Patriot woordeboek: Afrikaans-Engels (uit 1902)
- Gerald Groenewald: Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800–1920. In: LitNet Akademies, jaargang 7 (3), Desember 2010 Geargiveer 5 Julie 2014 op Wayback Machine
- Toekoms van Afrikaans
- Taalhulpmiddels
- Google se masjienvertaling van en na Afrikaans
- Gratis en vrye Afrikaanse speltoetser vir OpenOffice, Mozilla Firefox en Mozilla Thunderbird Geargiveer 9 Februarie 2007 op Wayback Machine
- Gratis Afrikaanse spel- en grammatikatoetser vir MS-Office (Windows en Mac)
- Kommersiële Afrikaanse speltoetser, tesourus en woordafbreker
- Afrikaanse sleutelbord Geargiveer 3 Oktober 2006 op Wayback Machine
- Afrikaanse lesse op die net Geargiveer 2 April 2009 op Wayback Machine
- Goudmyn vir Afrikaans-onderwysers Geargiveer 27 Julie 2005 op Wayback Machine – Webruimte vir Afrikaans-onderwysers by die Universiteit van Pretoria
- Sagteware in Afrikaans
- Translate.org.za Geargiveer 28 Junie 2007 op Wayback Machine – 'n Projek om vrye en oopbronsagteware in Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale te vertaal
- Pootle Geargiveer 29 Mei 2011 op Wayback Machine – aanlyn vertaling van Afrikaanse oopbronsagteware
- Afrikaanse kultuurverwante skakels
- FAK
- Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
- Huis der Nederlanden Geargiveer 30 Julie 2005 op Wayback Machine Nederlands-Vlaams-Afrikaanse kultuursentrum
- Storiewerf[dooie skakel] oor kinder- en jeugboeke
- www.voortrekkers.org.za Amptelike webblad van Die Voortrekkers
- Afrikaans Literature and Language Web dossier Afrika-Studiecentrum, Leiden (2011)
- Afrikaans in die buiteland
- Afrikaans in Europa by die Departement Nederlandistiek, Universiteit van Wene
- Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland
- Die Roepstem 'n Nederlandse inisiatief om die Afrikaanse en die Nederlandse taalwêreld saam te bring
- Afrikaans hoort by Nederlands met besprekingsforum
- Nederlands vir (Afrikaanse) dommies 'n Webblad vir Afrikaanssprekendes wat wil (of moet) Nederlands leer
- Bladmusiek van Afrikaanse liedere
- YouTube.com: Chinese leerder leer Afrikaans
- USA Afrikaans Credit
- Afrikaans in die sakewêreld
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Germaanse tale | ||
---|---|---|
Noord-Germaanse tale: | ||
Deens | Faroëes | Noors (Bokmål, Nynorsk) | Sweeds | Yslands | ||
Wes-Germaanse tale: | ||
Afrikaans | Duits | Engels | Fries (Noord-Fries, Oos-Fries/Saterfries, Wes-Fries) | Jiddisj | Limburgs | Luxemburgs | Nederduits | Nederlands (Oos-Vlaams, Wes-Vlaams) | Nedersaksies (Wes-Veluws) | Skots | ||
Oos-Germaanse tale: | ||
Boergondies (†) | Goties (†) | Vandaals (†) |