John Steenhuisen
John Steenhuisen | |
Minister van Landbou
| |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 3 Julie 2024 | |
Leier van die Opposisie in die Nasionale Vergadering
| |
---|---|
Ampstermyn 27 Oktober 2019 – 14 Junie 2024 | |
Voorafgegaan deur | Annelie Lotriet (waarnemend) Mmusi Maimane |
Federale Leier van die Demokratiese Alliansie
| |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 1 November 2020 | |
Voorafgegaan deur | Mmusi Maimane |
Hoofsweep van die Amptelike Opposisie
| |
Ampstermyn 29 Mei 2014 – 24 Oktober 2019 | |
Vise | Jacques Julius Mike Waters |
Voorafgegaan deur | Watty Watson |
Opgevolg deur | Jacques Julius (waarnemend) Natasha Mazzone |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 25 Maart 1976 Durban |
Politieke party | Demokratiese Alliansie |
Eggenoot/-note | Terry Steenhuisen (2014–) Julie Steenhuisen (2000–2010) |
Kind(ers) | 3 |
Alma mater | Northwood Boys High School |
John Henry Steenhuisen (gebore 25 Maart 1976) is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat tans sedert Julie 2024 as Minister van Landbou dien.
Hy het gedien as die twintigste leier van die Opposisie van Oktober 2019 tot Junie 2024 (tot sy toetrede tot die regering van nasionale eenheid na die 2024 Suid-Afrikaanse algemene verkiesing). Hy is sedert November 2020 die leier van die Demokratiese Alliansie, nadat hy vanaf November 2019 vir een jaar as die tussentydse leier gedien het. Hy was hoofsweep van die amptelike opposisie vanaf Mei 2014 tot Oktober 2019. Hy dien tans as Minister van Landbou onder die Derde Kabinet van Cyril Ramaphosa.
Hy het voorheen as die hoofsweep onder die leierskap van Mmusi Maimane gedien. Steenhuisen het 'n lid van die parlement in Julie 2011 geword. Voor dit was hy betrokke in die politiek van KwaZulu-Natal waar hy as die provinsiale leier van die DA en lid van KwaZulu-Natalse Provinsiale Wetgewer gedien het. Hy was ook 'n stadsraadslid in die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit. Hy is op 2 April 2023 vir nog 'n termyn as partyleier herkies.[1].
Vroeë lewe en opvoeding
[wysig | wysig bron]Steenhuisen is op 25 Maart 1976 in Durban gebore. Hy het in 1993 aan die Northwood Boys High School, 'n Engels-medium sekondêre skool in Durban, gematrikuleer. Hy het nie by 'n tersiêre instelling studeer nie.[1]
Politieke loopbaan
[wysig | wysig bron]Steenhuisen het by die Demokratiese Party aangesluit, die voorganger van die DA, as 'n aktivis voor hy lid van 'n tak geword het.[2]
Op die ouderdom van 22 in 1999 is hy as 'n lid van die destydse stadsraad van Durban verkies en het gevolglik een van die jongste raadslede geword. Hy het in 2006 die leier van die DA-koukus geword. Hy het in die uitvoerende raad van die stadsraad gedien.[3]
Steenhuisen het in Mei 2009 'n lid van die KwaZulu-Natalse Provinsiale Wetgewer geword en is ook as die party se koukusleier aangestel. In Oktober 2009 word hy tot provinsiale leier van die DA verkies. Hy het die posisie van provinsiale leier tot Oktober 2010 gehou toe hy bedank het, te midde die onthulling van ontrou in sy huwelik.[4] Hy het as 'n lid van die wetgewer gedien totdat hy in Julie 2011 na die Nasionale Vergadering geskuif het. Hy het posisies met DA-LP Mark Steele geruil.[5]
In die parlement het hy as 'n lid van die Gesamentlike Staande Komitee vir die Finansiële Bestuur gedien. Hy is tans 'n lid van die Reëlskomitee. Hy het ook as die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake gedien.[3]
In Mei 2014 is hy as die hoofsweep van die amptelike opposisie aangestel. Hy het die amp tot Oktober 2019 gehou toe Mmusi Maimane uit die DA en die parlement bedank het.[6] Hy het sy kandidaatuur as leier van die opposisie aangekondig en hy is op 27 Oktober 2019 onbestrede verkies. Steenhuisen verklaar hierna sy kandidaatuur vir die pos van tussentydse leier van die DA. Hy wen toe die verkiesing vir die pos op 17 November 2019 deurdat hy Makashule Gana verslaan het.[7]
Op 1 November 2020 is Steenhuisen as die nuwe federale leier van die Demokratiese Alliansie afgekondig. Hy het vir KwaZulu-Natalse LPW Mbali Ntuli geklop nadat hy omtrent 80% van die afgevaardigdes se steun ontvang het.[8]
Persoonlike lewe
[wysig | wysig bron]Steenhuisen is vlot in Engels sowel as Afrikaans. Hy woon tans in Umhlanga, KwaZulu-Natal en is 'n ondersteuner van die Sharks-rugbyunie en die AmaZulu FC-sokkerklub.[3]
Hy was tien jaar lank met Julie Steenhuisen getroud voordat hy hul egskeiding in Oktober 2010 aangekondig het, te midde van openbare onthullings van sy voortslepende verhouding met Terry Kass Beaumont, die DA se provinsiale woordvoerder en vrou van Michael Beaumont, die DA se provinsiale direkteur.[9]
Steenhuisen het twee dogters uit sy huwelik met Julie. Hy is later met Terry getroud en hulle het saam 'n dogter.[3]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (In Engels) Mtshali, Samkelo. John Steenhuisen's lack of post-matric qualification back in spotlight, Durban, IOL, 29 Oktober 2019. Besoek 19 Desember 2019.
- ↑ (in Engels) Swana, Annelisa. Steenhuisen has a plan as he guns for DA's top spot, DispatchLIVE, 16 November 2019. Besoek 19 Desember 2019.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 John Steenhuisen biography: age, wife, education, qualification, DA, Twitter, and SONA 2019, Briefly. Besoek 19 Desember 2019.
- ↑ Changes in KZN DA leadership Geargiveer 19 Desember 2019 op Wayback Machine, News24, 19 Oktober 2010. Besoek 19 Desember 2019
- ↑ DA caucus leader moves to Cape. Besoek op 19 Desember 2019.
- ↑ Mahlati, Zintle. John Steenhuisen to no longer serve as DA chief whip in Parliament, IOL, 24 Oktober 2019. Besoek 19 Desember 2019.
- ↑ DA se tussentydse leiers aangewys, Maroela Media, 17 November 2019. Besoek 19 Desember 2019
- ↑ https://mg.co.za/politics/2020-11-01-with-79-of-votes-steenhuisen-elected-da-leader/
- ↑ (in Engels) DA leader quits over sex scandal Geargiveer 19 Desember 2019 op Wayback Machine, News24, 24 Oktober 2010. Besoek 19 Desember 2019.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- John Steenhuisen op Twitter
- "John Henry Steenhuisen". People's Assembly. Besoek op 7 Julie 2018.
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie John Steenhuisen.